Suurstof, hospitaalbeddens skraps in Oos-Kaap

(Argieffoto: Go Nakamura/Getty Images/AFP)

Die Oos-Kaapse departement van gesondheid is besig om die verskaffing van suurstof aan munisipaliteite in die voormalige Transkei, asook aan dorpe in die Joe Gqabi-distriksmunisipaliteit aangrensend tot die Vrystaat te vermeerder om die voorkoms van Covid-19 te bestry.

Dit blyk uit ʼn voorlegging deur dr. Sibongile Zungu, Oos-Kaapse direkteur-generaal van gesondheid, Woensdagoggend aan die parlementêre portefeuljekomitee oor gesondheid.

Tot dusver het die Oos-Kaap (ʼn provinsie waarvan die syfers al dikwels in die verlede bevraagteken is) 182 507 gevalle van Covid-19 aangeteken, met 9 036 sterftes.

Hoewel Oos-Kaapse sterftes volgens Zungu sedert die middel van Desember afgeplat het, is daar verskillende situasies in verskillende distriksrade. Dit lyk of die weste van die provinsie oor die ergste van die tweede golf is, maar daar is toenames in Oos-Londen en in die ooste en noordooste van die provinsie.

Meer as 9 000 gesondheidswerkers in die Oos-Kaap het al die nuwe koronavirus opgedoen en 161 is daaraan dood.

Die grootste tekort aan hospitaalbeddens word ondervind in Oos-Londen en die voormalige Transkei terwyl die grootste suurstoftekort in die Amathole-distriksraad is. Die raad bedien plattelandse gebiede rondom Oos-Londen tot in die suidelike Transkei.

Volgens Zungu probeer die Oos-Kaap om alle inwoners binne twee uur per ambulans by ʼn intensiewe sorgeenheid te kry. Twee van die provinsie se grootste uitdagings is tekorte aan suurstof en mediese personeel. Hulp word van organisasies soos Gift of the Givers en die Solidarity Fund ontvang, maar die provinsie word gekniehalter deur byvoorbeeld beperkte toetslaboratoriums in plekke soos Mount Ayliff en Matatiele.

Zungu het gesê spesifieke klem word tans daarop gelê om matrieknasieners teen infeksie te beskerm. Die provinsie meen hy het genoeg medisyne en ʼn voldoende inentingsplan, hoewel LP’s nie veel vertroue in laasgenoemde getoon het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Willem

Koop nog motorfietse dit sal help

Tanniepetoors

Mag ons hierdie verslag vergelyk met dié van Weskaap? Oos-Kaap kla en kla en kla en het geen oplossings vir hul tekortkominge.