Suzuki-handelaar moet opdok ná afdanking oor inenting

Suzuki West Rand. (Foto: Google Images / Angeline Basson)

Suzuki West Rand moes ’n skadevergoedingseis van sowat R156 000 aan ’n werknemer betaal wat vroeër deur dié maatskappy afgedank is, hoofsaaklik omdat sy nie teen Covid-19 ingeënt is nie.

Die kommissie vir versoening, bemiddeling en arbitrasie (KVBA) het bevind dat Wilna Ooteman aan die begin van die jaar ná ’n dissiplinêre proses onbillik afgedank is, en dat daar teen haar gediskrimineer is.

Die geregistreerde vakbond vir werknemers in die kleinhandelmotorbedryf (Misa), Ooteman se verteenwoordiger, het Dinsdag bevestig dat sy dié bedrag reeds ten volle ontvang het.

Luidens die uitspraak het adv. Mark Hawyes, ’n senior kommissaris wat ook in die hooggeregshof en arbeidshof voorsit, bevind dat Ooteman nie daarteen gekant was om ingeënt te word nie, maar wel huiwerig was weens mediese komplikasies in daardie stadium.

“Die applikant [Ooteman] se mediese toestand is verontagsaam met beledigings en verdere insinuasies dat sy moontlik vir die dood van ander personeellede en kliënte verantwoordelik gehou kon word indien sy nie dadelik ingeënt word nie, terwyl sy deur die waarskynlikheid van ʼn verlies aan inkomste in die gesig gestaar word.

“Ek het bevind dat die applikant ʼn verskil in behandeling bewys het, en dat dié onderskeid gekoppel was aan haar ongeënte status (’n beweerde arbitrêre grond van diskriminasie).

“Die manier waarop die onderskeid uitgevoer is, het op ’n harde en neerhalende wyse geskied wat ’n direkte uitwerking op haar basiese menswaardigheid as persoon gehad het,” het Hawyes in die arbitrasietoekenning bevind.

Volgens Hawyes was die bedoeling van Ooteman se voormalige werkgewer haar om te verkleineer, vervreem, uit te dryf, af te breek en te onderdruk – weens haar inentingstatus en ook haar vurige geaardheid.

Hawyes het voorts bevind dat die toon van Ooteman se behandeling boonop deur Suzuki West Rand se hoof- uitvoerende beampte (HUB) (Meyer Benjamin) aangegee is, en dat ander ondergeskiktes, onder wie die handelaarshoof Fred van der Westhuizen, dié voorbeeld gevolg het.

Hy het ook gesê dat die motorbedryf grootliks deur mans gedomineer word, en dat beledigende taal en teistering die nuwe norm geword het.

“Werkgewers soos die respondent moet verantwoordelik gehou word vir hul gebrek aan ingryping en toepassing van ons Grondwet, die Wet op Gelyke Indiensneming en die Wet op Arbeidsverhoudinge.

“Daar is aangevoer dat die respondent die applikant geteister, misbruik, teen haar gediskrimineer en haar uiteindelik afgedank het omdat sy geweier het om deurslaggewende bewyse te skrap wat gebruik sou word in haar beweerde onbillike diskriminasiesaak.

“Die applikant het binne die bestek van ongeveer ses maande twee griewe teen Van der Westhuizen ingedien. Daar is namens die applikant aangevoer dat hierdie griewe deur die respondent verontagsaam is, en sodanig afgemaak is dat hulle selfs vergeet het om die nodige stappe teen hul handelaarshoof te doen.”  Hawyes het bevind dat die respondent eers ’n waarskuwing aan Van der Westhuizen uitgereik het nadat Ooteman haar diskriminasiegeskil na die KVBA verwys het.

Ooteman is deur Michael Buitendag, arbeidskenner by Misa, verteenwoordig.

Buitendag sê geen bedrag geld sal die onreg wat Ooteman aangedoen is, herstel nie. Hy meen sy is getraumatiseer weens die vernederende gebeure en dat die respondent (Suzuki West Rand) “net oor die vingers getik is” .

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

melaney ·

Baie goeie nuus. Nou weet ek ook waar nie om my hardverdiende geld te spandeer nie.

Christine ·

Ek is geskok! Ek self ry ‘n Suzuki en dis wonderlike karre en kry goeie diens, maar nou begin ek twyfel of ek hulle nog wil ondersteun!

Hester ·

My dogter was so gevloek en skel by n “bekende” motor handelaar groep in Pretoria Noord. Sy kon dit later nie meer hanteer nie en het geloop.

My seun werk nog steeds daar en die “verbal abuse” is erg. Hul tree lynreg teen d arbeidswet op in hordes gevalle en tot dus ver kom hul weg daarmee

Nie Verbaas ·

Kry bewyse en laat hulle betaal vir hulle arrogansie.

Pieter ·

Is sy weer heraangestel ook? Daai paar rand kan seker nie opmaak vir die inkomste wat sy verloor aan selaris nie?

piet ·

Ek twyfel. Lyk nie of sy gevra het vir heraanstelling nie en net vergoeding wou he weens die onregmatige afdanking. In so ‘n geval word vergoeding gelykstaande aan 1 jaar of 2 jaar se salaris (afhangende van die geval) gewoonlik toegeken en dis dit.

Christine ·

Piet nee, ek dink die labor law sê een of twee weke se salaris vir elke jaar se diens.

Vexed ·

Dalk het sy, daar is vreemde goed daar buite Cherokee, vreemd, jy het duidelik nog baie om te leer.

Veronika ·

Goed so!! Moes eintlik meer gewees het!! Het ook saam met 2 sulke baas-boelies gewerk tot my aftrede! Hul dag sal kom! Die wiel draai en die Vader slaap nie!!

Nie Verbaas ·

Ek hoop ook so. Mag al die modder terug in hul gesigte vlieg.

Antie Sarie ·

Fantasties. Nou wag ek net vir suksesvolle hofsake teen werkgewers wat mense suksesvol gedwing het . Ek weet van n hele paar.

VaalDonkie ·

Ek was in so ‘n situasie waar ek gedreig was dat ek op “die bench” sou moes sit. m.a.w. geen werk sou kon doen nie, en dan retrench word indien ek nie wou inent nie.

Toe vind ek maar binne ‘n week ‘n ander joppie en dien my bedanking in.

Cherokee ·

Sommige banke, supermarke, groot instansies soos Ou Mutual, goudmyne en vele meer.

Antie Sarie ·

Ek wonder nou of mense wat bedank het as gevolg van maatskappy reels, sal kan dagvaar vir konstruktiewe afdanking. Ek hoop so

Kwikkie12 ·

Dis jammer dat sy nie vir meer kon dagvaar nie soos miljoene in Amerika!! Iets sal gedoen moet word aan die “Boelies” in die werkplek hulle kom weg met te veel!! Ken van ‘n sogenaamde “paranoiese professionele” man wat orals kameras insit om sy mense dop te hou en dan vat hy nog geld af van hulle salarisse nes hy wil en dink hy mag dit doen. Gelukkig kry sulke mense hulle dag en sterf gewoonlik nooit gelukkig nie!

Jack ·

Die hele ongeregverdige histerie rondom Covid het tot baie onreg vir baie mense gelei. Dis natuurlik geinisieer deur voortvarende medici wat agter die Amerikaners aangehardloop het en daarna aangeblaas deur die ANC regering wat ‘m gaping vir korrupsie pleeg gesien het. Dit was ook ‘m gulde geleentheid vir die owerheid om hulle magsug uit brei en die gewone publiek se regte in te kort. Om die regering te dagvaar sal nie werk nie maar om hulle uit te stem wel. Kom ons doen almal ons deel om van onbevoegdheid ontslae te raak.

Chris ·

Kan iemand aandui of Solidariteit al so ‘n saak met sukses kon aanveg? Met my suster wat ‘n ere-lid was, was hul maar redelik apaties teenoor haar en die diskriminasie wat sy moes verdra

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.