SVA-agent getuig oor spioenasie-owerheid se korrupsie

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie. (Foto: Itumeleng English/ANA)

Verdere openbarings oor kriminaliteit en ontoerekenbaarheid in Suid-Afrika se spioenasiestrukture het Woensdag se getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping oorheers.

Dit is by verre die meeste inligting wat nog ooit oor die intelligensie- en spioenasiestrukture verskaf is en die beeld is een van bykans algehele korrupsie, verrotting, geldmors, leuens en kriminaliteit wat in die geheim plaasvind; die publiek weet dus van niks nie en niemand word vervolg nie.

Dit is duidelik dat van diegene wat magtig en baie welvarend geraak het deur en in daardie verrotte strukture, baie bekommerd is. Vir die tweede dag in ’n ry het verskeie van die nege regspanne, wat almal mense verteenwoordig wat meen hulle kan geïmpliseer word in onthullings van kriminaliteit, die kommissie se prosesse, sy voorsitter, adjunkhoofregter Raymond Zondo, en die getuienisleier, adv. Paul Pretorius SC, professioneel en by tye erg persoonlik aangeval op punte wat Zondo en Pretorius deeglik, feitelik en kalm weerlê het.

Telkens oor die afgelope twee dae het hierdie regspanne probeer keer dat getuienis oor die kriminaliteit, en die wanbesteding en/of diefstal van miljarde rand gelewer word.

Hulle dreig deurgaans met regstappe en sommige van die regsverteenwoordigers maak met groot aggressie gedetailleerde bewerings oor hoe swak en wederregtelik hulle deur die kommissie se regspanne behandel is, net vir Pretorius om hul weergawes telkens met skriftelike bewyse as leuenagtig te bewys.

Selfs die gewoonlik hoog aangeskrewe minister van staatsveiligheid, Ayanda Dlodlo, het probeer verhoed dat haar eie direkteur-generaal – onder eed om die waarheid te praat – uiteindelik aan die belastingbetaler laat blyk wat gebeur met die tans meer as R6 miljard rand wat sonder toerekenbare teken jaarliks in die Staatsveiligheidsagentskap verdwyn.

Nadat sy gister herhaaldelik die kommissie se verrigtinge probeer stop het – Zondo het haar versoeke afgewys en haar advokaat behoorlik uitgetrap – het Dlodlo vandag ’n ellelange verduideliking gegee, al die punte wat as ongeldig bevind is, herhaal, maar nietemin aangekondig sy steun nou dat die kommissie voortgaan.

Nadat al die besware aangehoor, tydens verdagings deur Zondo oorweeg en afgewys is, kon vandag se onthullings begin.

Waar die waarnemende direkteur-generaal van staatsveiligheid, Loyiso Jafta, Dinsdag die raamwerk van die Staatsveiligheidsagentskap (SVA) se kriminaliteit geskets het, het Woensdag se getuie die besonderhede van enkele spesifieke projekte rugbaar gemaak.

Die getuie is ’n SVA-personeellid, so haar identiteit is geheim – haar skuilnaam is “mej. K”.

Loyiso Jafta, die waarnemende direkteur-generaal van staatsveiligheid, (Foto: Itumeleng English, ANA)

Nadat Jafta die leisels oorgeneem het by die vorige direkteur-generaal, Arthur Fraser, het hy ’n ondersoek na ongerymdhede gelas. Die ondersoek se naam is Projek Momentum en mej. K is ʼn lid van die ondersoekspan. Eintlik moes ’n ander lid van die ondersoekspan, haar kollega mnr. Y, getuienis lewer, maar hy het onlangs so siek geword dat hy in ’n koma was en tans nie kan getuienis lewer nie.

Mej. K het dan ook getuig hoe SVA-personeel die ondersoekspan en die agente wat die korrupsie-ondersoek van hulp is, saboteer, verdag maak, afdreig en allerlei vuilspel uithaal.

So erg en suksesvol is hierdie vuilspel en afdreiging dat die ondersoekspan volgens mej. K baie sukkel.

Nietemin kon hulle al baie van die kriminaliteit aan die lig bring. Volgens mej. K was daar tussen 2007 en 2010 en weer tussen 2012 en 2018 ’n omvattende en kriminele proses om ’n parallelle intelligensieraamwerk te skep ten einde enige toerekenbaarheid te omseil, geld te steel en geld na familie en vriende van baie SVA-agente en -bestuurslede te kanaliseer.

Sommige van die tweede proses se gebeure en handelingswyses was volgens mej. K vergelykbaar met die PAN-netwerk van die eerste proses. In sy boek The President’s Keepers skryf Jacques Pauw omvattend oor PAN.

Volgens Pauw was Fraser baie betrokke by PAN en het ’n klomp van Fraser se familie en bykans al sy sibbes asook sy moeder ruim geld gekry in die proses. Pauw se lewe is daarna hel gemaak, ’n klopjag is op sy huis uitgevoer in ’n poging om op sy inligting beslag te lê en sy bronne te identifiseer.

En nou word PAN bevestig en die besonderhede sal uit die ondersoek blyk. Wat reeds deur mej. K bevestig is, is dat ʼn enorme hoeveelheid geld met hierdie onwettige parallelle strukture gesteel is (sy sal later in haar getuienis die huidige raming bekend maak) en dat fiktiewe maatskappye byvoorbeeld gestig is om geld te steel.

Benewens families en vriende was baie huidige en oud-agente van die SVA by die stelery betrokke, het mej. K getuig.

As verdere voorbeeld van die korrupsie en die massiewe bedrae betrokke het mej. K besonderhede gedeel van ’n sogenaamde presidensiële beveiligingseenheid wat wederregtelik gestig is in die aanloop tot die 2009-verkiesing, om na die verkiesing as pres. Jacob Zuma se persoonlike beskermingsdiens te dien.

’n Totaal van 48 weermaglede is gewerf – grootliks uit KwaZulu-Natal. Die persoon wat die werwing en aanstellings gedoen het, was ’n werknemer van die KwaZulu-Natalse departement van maatskaplike ontwikkeling.

Meer as dit weet mej. K nie van die persoon wat die werwing en aanstellings gedoen het nie, maar volgens Pretorius sal mnr. Y (indien hy ooit genoegsaam herstel om getuienis te lewer) getuig dat hierdie persoon ’n voormalige lyfwag van Zuma was.

Die persoon wat die aanstellings gedoen het, en later tydens die Zuma-bewind ’n toppos by die SVA gekry het, was nie ’n SVA-werknemer nie, het geen intelligensie-opleiding gehad nie en het mense aangestel wat nie die gewoonlik vereiste formele akademiese kwalifikasies gehad het nie, wie se agtergrond nooit nagegaan is deur die SVA of intelligensie-ondervinding gehad het nie.

Na hul werwing is hulle nietemin heeltemal onwettig en teen totale koste van miljoene rande per maand by die SVA aangestel. Hulle het ’n klomp voordele en toerusting ontvang, waaronder vuurwapens, en is plaaslik en internasionaal op kursusse gestuur.

“Dit was ’n persoonlike stel lyfwagte vir pres. Zuma as individu, nie uit hoofde van sy amp nie. Hulle was ook nie onderworpe aan die gewone regulasies nie. Tydens die ondersoek het lede van hierdie groep getuig hul lojaliteit was aan oudpres. Zuma persoonlik en dat hulle aan hom gerapporteer het,” aldus mej. K.

Sy het voorts uitgewys dat een van die redes waarom die hele bestaan van die sogenaamde beskermingseenheid onwettig was, is dat die fisieke persoonlike beskerming van die president nie binne die SVA se mandaat val nie.

Verskillende aspekte daarvan val onderskeidelik onder die verantwoordelikhede van die weermag en die polisie as deel van skeiding van magte, en dit word behoorlik befonds deur die belastingbetaler in die polisie en weermag se begrotings.

Mej. K sal Donderdag verder getuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
SjN

Wanneer vind vervolgings en vonisse plaas?????

Renee

So word die korrupsie stuk stuk bekend gemaak net jammer nog geen vervolgings is gedoen nie. Geen geld terug gevind nie.

Grant

So wat nou? Nou niks. Zondo kommissie is mors van geld. Wie is al ooit vervolg en wat kos dit al. Kommissie sonde tande met mense wat net aanhou skep. Geen resultate.

Mallie

Mr CR wat nou Jou kabinet en volgelinge is lekker korrup

lodewyk

Nou sal ons sien of apartheid nog die skuld gaan kry,ons regering is vrot van korrupsie,daai mafia se doen en late moet bloot gestel word,en hou die spasie dop,daar gaan nog groot name betrek word!

Maar wat gaan met hulle gebeur?? -NIKS,hoop die lands burgers sien nou die ware kleure van die ANC,en dat dit n verskil kan maak in die volgende verkiesing -Daai padda wat Cyril so praat wat stadig gekook word tot hy nie meer kan uitspring nie?-wonder nou eintlik wie is die padda wat gekook gaan word?