Swaar donderstorms hiér verwag

(Argieffoto: pixabay)

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het Saterdagmiddag ’n waarskuwing uitgereik vir swaar donderstorms wat binne die volgende paar uur vir groot dele van die land voorspel word.

Donderstorms, swaar reënval en moontlik sterk wind word later vandag vir provinsies soos Gauteng, Noordwes, Vrystaat, KwaZulu-Natal en die Noord-Kaap voorspel.

Volgens die weerdiens word swaar donderstorms ook op die Hoëveld en die platorand van Mpumalanga verwag. Dié donderstorms sal na verwagting later na die Laeveldgebiede versprei.

Stormweer is egter reeds noord van Douglas in die Noord-Kaap in die rigting van die N8 en die noordooste van Postmasburg aangemeld.

Luidens ’n inskrywing op die weerdiens se Facebook-blad het swaar donderstorms, hael, reën en sterk wind ook vanmiddag suid van Ventersburg in die Vrystaat voorgekom. Dié swaar weer beweeg in ʼn noordoostelike rigting.

Swaar reën het tussen Dewetsdorp en Bloemfontein uitgesak met ’n donderstorm wat tans in die rigting van Steynsrus beweeg.

Donderstorms sal na verwagting Sondag in groot dele van die land voortduur.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.