Swaar pad na herstel ná meisie in motorwrak vassit

Selanna Giselle Biggs (Foto: Instagram)

Selanna Giselle Biggs, die 19-jarige wat 28 uur lank in ʼn motorwrak buite Mbombela vasgekeer was, verkeer in ontsettende pyn en sal waarskynlik die volgende jaar nog swaar trek weens die femur wat sy tydens die ongeluk gebreek het.

Selanna se ma, Melisa, sê die pad na haar kind se herstel is nog lank. “Sy is gister in vir ʼn operasie om die wond van ʼn vórige operasie, waartydens dokters probeer het om haar femur te heg, toe te maak. Sy moes ook ʼn plaat in haar gebreekte toon kry. Sy verkeer in ontsettende pyn.”

Maroela Media het verlede week berig Selanna is in die wrak van haar Suzuki S-Presso onder in ʼn plantasie langs die Kaapschehooppad vasgekeer, voordat die soekgeselskap haar eindelik opgespoor en te hulp gesnel het. Sy het die Saterdagmiddag vermis geraak, nadat sy saam met haar ouers middagete geëet het, en is eers die Sondag laatmiddag gevind.

Haar ma sê haar dogter het beheer oor die motor verloor omdat die padoppervlak in ʼn slegte toestand was. Haar motor het van die pad afgegaan en in die bosse beland.

Melisa sê nou die fisieke pyn waardeur haar dogter gaan, is niks in vergelyking met die emosionele trauma om langer as ʼn dag in ʼn motorwrak vasgekeer te wees nie. “Sy kon die helikopters bo haar motor hoor vlieg, maar het geen manier gehad om hul aandag te trek nie. Sy het vir ons gesê dat sy net heeltyd om ons ontwil probeer oorleef het.”

Volgens Melisa het Musa Macky, wat in die gebied werk, op haar motor in die bosse afgekom. “Hy het die voertuie wat deel uitgemaak het van die soekgeselskap gesien en een van hulle voorgekeer.”

Melisa, wat deurentyd saam met familie gery en na Selanna gesoek het, sê elke oproep wat hulle in dié tyd ontvang het, was angswekkend. “Jy weet nie of hulle jou dogter lewend of dood gaan kry nie. Elke keer dat die foon lui, moes ek eers gaan lê. Ek is nou nog uitgeput.” Toe hulle wel die goeie nuus kry dat Selanna lewe, is Melisa aangesê om eerder by die hospitaal vir haar dogter te wag, as om saam met reddingswerkers na die toneel te gaan.

’n Groot soektog is die naweek na Selanna Giselle Biggs van stapel gestuur. (Foto: Bossies Community Justice/Facebook)

“Dit het twee uur gevat om haar uit die wrak te bevry. As ek geweet het dit gaan so lank vat, het ek eerder na die toneel gegaan om by my dogter te wees.”

Volgens Melisa sal haar dogter waarskynlik nog tot middel volgende week in die Mediclinic Nelspruit moet aansterk. Ses weke van nou af moet sy X-strale laat neem om te bepaal of die femur weer aan’t heg is. “Indien die been nie weer aanmekaargroei nie, is daar ʼn baie goeie kans dat sy ʼn derde operasie sal moet kry om been uit haar heup in haar femur oor te plant.”

Selanna sal nou fisioterapie kry, wat volgens Melisa ook vir haar baie pynlik is. Om alles te kroon, lei Selanna aan outo-immuunsiekte en al die medikasie doen haar nie goed nie. “Sy het verlede jaar matriek behaal en het juis die jaar afgevat om haar gesondheid te verbeter voordat sy volgende jaar begin studeer. Dit is ʼn hengse terugslag vir haar.”

Nietemin is Melisa dankbaar hulle staan langs haar dogter se hospitaalbed, eerder as haar graf. Sy het ook haar dank uitgespreek teenoor lede van die gemeenskap wat help soek het na haar dogter en hulle nog elke stap van die pad ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Michael ·

Baie sterkte net bly sy lewe. Ry daai pad gereeld op Kaapsehoop toe. Baie gevaarlike pad.

Wielspore ·

Dit is teleurstellend om te lees dat die ouers beweer dat die ongeluk se oorsaak op die pad se toestand geplaas word. Hierdie pad is in ‘n goeie toestand en die bestuurder van die voertuig is ‘n plaaslike inwoner en besoek Kaapsehoop gereeld.

Gaan kyk eerder na die voertuig se NCAP gradering wat in die ongeluk betrokke was. Unsafe cars for Africa!

Suzuki S-Presso
https://www.youtube.com/watch?v=r2yMdcfgr54

Karlahari ·

Die voertuig het die pad verlaat.
Dit is waar ongeluk begin het. Of dit bestuurders fout of pad oppervlak of n ander voertuig was weet ons nie.

Die S-Presso toets is waarna jy verwys was die bots 60% toets van voor. Teen n wal af is daar baie meer faktore van die natuur en voertuig ontwerp wat intree.
Nie almal kan n RAV bekostig nie. Maar self sy 5 sterre sal nie n stomp deur die voorruit keer nie.
Dankie dat sy veilig gevind is en ons bid dat sy volkome sal herstel.

Chris ·

As ek luister hoe die res van SA se paaie lyk, kan ek glo dat die pad wel ‘n oorsaak kan wees. Ons het nie almal die geld om duursame motors vir ons kinders te koop nie. Wat ookal die oorsaak was, dankie Here dat sy gespaar is. Sterkte vir die opdraende pad vorentoe.

Flip ·

Suzuki Vitara Brezza en Toyota Urban Cruiser us dieselfde voertuig. So watter een gaan jy nie koop nie?

Wielspore ·

Suzuki Vitara Brezza en Toyota Urban Cruiser is wel dieselfde voertuie maar nie een is ‘n afgewaterde goedkoop onveilig motor soos die Suzuki S-Presso. Gaan toetsbestuur self die Suzuki S-Presso waar daar draaie opdreandes en wind voorkom en besluit dan of jy so ‘n voertuig vir jou eie kind sal gee om te bestuur wat velede jaar matriek geslaag het met realtief min bestuurs ervaring.

Boeing ·

As die padoppervlak sleg is, ry jy stadiger. Spoedige herstel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.