Swaar reën nog met ons tot winter

Foto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Hewige reënbuie en vloede sal na verwagting tot Maart in Suid-Afrika voortduur, waarna die huidige La Niña-weerstelsel waarskynlik weer plek sal maak vir die droeër El Niño-stelsel.

Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) kan die hele land gemiddelde tot bogemiddelde reënval vir die res van die somer verwag. Dit kan met vloede en oorstromings gepaardgaan.

Dít, sê prof. Hannes Rautenbach, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia, is deels weens swak instandhouding van infrastruktuur in stedelike gebiede, veral waar oorbevolking voorkom.

Volgens Rautenbach beïnvloed die La Niña- en El Niño-weerstelsel die somerreënval en bepaal nie die winterreënval nie. Weerkundiges kan dus in hierdie stadium nog nie voorspel of bogemiddelde reënval in die winter sal voorkom nie.

“Weerkundiges verwag vanjaar egter hoër wintertemperature en meen dit raak in die algemeen warmer weens aardverwarming.”

Die La Niña-weerstelsel sal na verwagting teen Maart begin plek maak vir ʼn El Niño-weerstelsel, die einste stelsel wat tussen 2015 en 2020 die land in ʼn droogtewurggreep gehad het. Weerkundiges voorspel egter ʼn swakker El Niño-stelsel as vorige jare en glo ook nie dit sal so lank voortduur soos die vorige stelsel nie.

“Die vorige El Niño-weerstelsel het ongewoon lank gehou. ʼn Normale El Niño- en La Niña-weerstelsel duur gewoonlik drie jaar lank.”

Oorstromings, swak infrastruktuur

Rautenbach sê Suid-Afrikaners kan hulle in die volgende twee maande staal teen toenemende oorstromings en vloede weens die swaar reën.

Maroela Media het vroeër berig meer as 40 mense is die afgelope week in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal dood weens kitsoorstromings. Daar is ook skade van miljarde rande aan infrastruktuur wat nou herstel moet word.

Hy sê Suid-Afrika se infrastruktuur in stedelike en oorbevolkte gebiede is egter nie bestand teen sulke swaar reënval nie en die grootste reënskade kom gewoonlik in dié gebiede voor.

“In stedelike gebiede kan water nie meer wegsak in die grond nie weens die uitgebreide paaie en strukture wat hier opgerig is.

“ʼn Ander probleem is die swak onderhoud van stede en dorpe se dreineringstelsels. Rommel bou op in dreineringspype en riviere en veroorsaak verstoppings.”

Rautenbach sê die land se waterwese-stelsels is wel op standaard om groot hoeveelhede water te kan hanteer. “Ons damme is goed ontwerp om vloede te kan hanteer en ons vloedlyne langs die rivier is reg aangebring.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Shakespeare

Ek was 30 jaar lank ‘n boer. Getref deur liederlike oorstromings, en het oorleef. DROOGTE is ‘n perdjie van totaal ‘n ander kleur.

Jaco

Swak instandhouding van infrastruktuur. Maar daars mos geld vir Nkandla en sokkerstadions en en en.

Anel

Omdat die infrastruktuur voir 1994 opgerig is. Maar nou is dit nie instand gehou nie. En geen behoorlike infrastruktuur is sedertdien opgerig nie.

Elmarie

Slag gate as gevolg van die reen is ‘n groot bekommernis. In Pretoria kan mens eintlik glad nie meer in die nag bestuur nie. Niks word reggemaak nie en die gate word net al groter.

Wielspore

Ons sien uit na die reen om ons damme vir langer vol te hou, hier in die Laeveld is daar standhoudende riviere wat regdeur die jaar loop en dit is altyd ‘n lafenis om daarin af te koel in die somer. Die water tafel styg ook en meer water is uit boorgate beskikbaar.