Swaar reën oor dele van SA verwag

Argieffoto: Pixabay

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het gesê uiterste weerstoestande sal na verwagting die naweek oor die sentrale en oostelike gedeeltes van die land voorkom.

Hannelee Doubell, woordvoerder van die weerdiens, het gesê die uiterste weer sal in die vorm van swaar reën wees. ʼn Bolug-trog oor die westelike dele van die land trek tropiese vog na die sentrale en oostelike dele van die land.

Doubell het gesê dit sal lei tot reën en donderstorms oor die oostelike helfte van die land van Vrydagaand af regdeur tot Saterdag.

“Die bolug-trog oor die westelike binneland sal Sondag voortgaan om tropiese vog na die sentrale en oostelike dele van die land te bring.”

Daar word verwag dat toestande van Maandag af sal verbeter in Gauteng, die oostelike dele van Noordwes asook die Vrystaat. Daar sal van Dinsdag af verligting vir die res van die land wees, waaronder Limpopo en Mpumalanga.

Volgens Doubell sal swaar reën en moontlike kitsvloede Saterdag oor die suidelike dele van Limpopo, Gauteng, die oostelike dele van die Vrystaat, Mpumalanga en KwaZulu-Natal voorkom.

Die reën sal Sondag voortduur en moontlike kitsvloede veroorsaak in Mpumalanga, Limpopo, Gauteng en die noordelike dele van KwaZulu-Natal.

Die verwagte temperature vir Pretoria is 24 ˚C Saterdag en 25 ˚C Sondag. In Polokwane sal dit Saterdag 31 ˚C wees en 27 ˚C Sondag. Bloemfontein het ʼn verwagte temperatuur van 30 ˚C Saterdag en 29 ˚C Sondag. In Nelspruit sal dit Saterdag 30 ˚C wees en 24 ˚C Sondag. Die verwagte temperature vir Durban is 24 ˚C Saterdag en 23 ˚C Sondag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Adriaan ·

Gaan Eskom die verskoning dat hulle steenkool nat gereen het gebruik as rede vir beurtkrag?

Liezl ·

Nee, Adriaan…hulle sê dan steenkool is nie rede vir beurtkrag nie. Dis maar net om ons te ‘nail’! Ek is so dankbaar vir die reën, wens dit wil so hard reën dat geen Eskom knoppie drukkers by die werk kan uitkom nie.

Jan ·

Baie dankbaar oor die reën. Limpopo is in ‘n ernstige water krisis, snaaks dat maroela media nie daaroor berig nie. Ek dink die reën in Limpopo bring verligting, ons kort meer en meer daarvan, die ophou daarvan moet eerder nie as verligting beskryf word nie.

Kraai ·

Eskom of geen Eskomkrag nie, ons kan net dankie se vir die vooruitsugte vir reen, mens, dier en veld het dit so bitter nodig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.