Swaar straf ná bendekoeël tweejarige eis

(Foto: pixabay)

ʼn Bendelid wat skuldig bevind is aan die moord op ʼn tweejarige seuntjie van Port Elizabeth is vir ʼn effektiewe 25 jaar tronk toe gestuur.

Marshall Thomas (22) het vroegmiddag op 18 November 2018 uit ʼn veld aangestap gekom en op ʼn 17-jarige seun, wat op die trappies voor ʼn huis in Hartbeesstraat gesit het, losgebrand. Die tiener het in die straat ingehardloop, terwyl Thomas aanhou skiet het.

Klein Hakeem Baartman (2) het langs die pad gespeel en is dood toe ʼn dwaalkoeël hom getref het.

Die polisie het bevind die skietery het met bendebedrywighede verband gehou.

Thomas is verlede jaar by ʼn kroeg in Gelvandale in hegtenis geneem, terwyl sy makker, Maxwell Muller (22), vroeër vanjaar aangekeer is. Muller was reeds in aanhouding in verband met ʼn onverwante moord- en poging tot moordsaak, het kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, gesê.

Die hooggeregshof in Port Elizabeth het Thomas Maandag 15 jaar tronkstraf opgelê vir moord, agt jaar vir poging tot moord, 15 jaar vir die onwettige besit van ʼn vuurwapen en drie jaar tronkstraf vir die onwettige besit van ammunisie. Sommige van sy vonnisse word gelyklopend uitgedien.

Muller is agt jaar tronkstraf opgelê vir aandadigheid, agt jaar vir poging tot moord, 15 jaar vir die onwettige besit van ʼn vuurwapen, asook sewe jaar tronkstraf vir die onwettige besit van ammunisie. Naidu het gesê, soos Thomas, dien Muller ook 25 jaar effektiewe tronkstraf uit.

Lt.genl. Liziwe Ntshinga het die vonnisse verwelkom en die ondersoekspan en aanklaers vir hul werk geloof. “Dit is ons verantwoordelikheid as wetstoepassers om die weerloses in die samelewing te beskerm en dié verantwoordelikhede moet ernstig opgeneem word deur ondersoeke, inhegtenisnemings en suksesvolle vervolging.

“Hierdie is die eerste bendeverwante skuldigbevinding wat ingevolge die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad (beter bekend as Poca) in die Nelson Mandelabaai-metro behaal is. Vonnisse soos dié wys dat geregtigheid geskied vir ongevoelige misdadigers wat nou uit die samelewing verwyder word,” het Ntshinga gesê.

Maroela Media het vroeër vandeesmaand berig ʼn vyfjarige kleuter is gewond nadat twee mans op ʼn ander een losgebrand en ʼn dwaalkoeël die kind in die maag getref het.

Kort voor dié voorval het Jay-Linn Jantjies (6) in ʼn hospitaal gesterf, nadat sy sowat twee weke tevore óók deur ʼn dwaalkoeël getref is. Die man wat nou van haar moord beskuldig word, is ʼn dag voor haar dood in hegtenis geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Francois le Cochon ·

Ek verstaan nie hoekom bendes nie verbied word nie. Dit behoort ‘n strafregtelike oortreding te wees indien iemand aan ‘n bende behoort.

Anoniem ·

Korrek Francois, bendes=georganiseerde misdaad, niks anders nie.

JohanR ·

Ek stem Francois…..die ANC kan wette maak vir alles onder die son. Nou hoekom nie ‘n wet dat daar mag geen bende wees, of bende leiers, en jy mag nie lidmaatskap aan ‘n bende he nie, en maak die boete ietsie wat as ‘n groot afskrik middel sal dien. Die probleem kan dan wees met die wet, dat alle ANC’s sal ook moet ontrek uit bende aktiwiteite. Ace gaan nie gelukkig wees!

regtig ·

Moord 15 jaar Verkragting Lewenslank? Help ek is seker agter maar hoe werk dit?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.