Swaar straf na hy hom as huurmoordenaar voordoen

Argieffoto

ʼn 46-jarige man wat hom as ʼn huurmoordenaar voorgedoen het, is Maandag in die Umlazi-streekhof in KwaZulu-Natal tot 15 jaar direkte tronkstraf gevonnis.

Kapt. Simphiwe Mhlongo, woordvoerder van die Valke, sê die man, Morris Mdu Mkhungo, is in Januarie verlede jaar in hegtenis geneem nadat inligting aan die lig gekom het dat hy hom as ʼn huurmoordenaar voorgedoen het wat gehuur is om ʼn vrou te vermoor.

“Mkhungo het die vrou gebel, vir haar boodskappe gestuur en geld geëis in ruil daarvoor dat hy haar nie sal doodmaak nie,” sê Mhlongo. Hy het die vrou aangesê om geld vir hom oor te plaas.

“Die saak is by die polisie aangemeld en ʼn ondersoek is van stapel gestuur wat tot die man se inhegtenisneming gelei het.”

Dit is vasgestel dat daar ʼn aantal slagoffers was wat geld aan Mkhungo betaal het.

“Dit het verder aan die lig gekom dat Mkhungo al meer as een oortreding teen hom gehad het en dat hy uit was op parool. Die hof het hom teruggestuur tronk toe om sy vonnis van tien jaar te voltooi terwyl hy sy verskynings in die hof gemaak het.”

Mkhungo het voor sy vonnis talle kere in die landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Willem

Duisende van hulle op straat

Rentia

Swaar straf? Watse swaar straf? Gratis kos, blyplek, vermaak, opvoeding AS hy wil, want hulle het mos “regte”. 15 jaar om memse herhaaldelik te dreig met die dood? Hy moet effektief ‘n derde doen, en met die volgende pandemie word hy nog voor dit vrygelaat. Terwyl hy reeds op parool was? Ja kyk, die regstelsel op sy beste….

JM

As hy maar so “vindingryk” was om te werk vir ‘n inkomste! Maar, die kop werk net in een rigting.

Sarel

Slim baie slim