Swaar straf vir pastoor wat verkrag

(Foto: pixabay)

ʼn Pastoor van Mpumalanga is altesaam 50 jaar tronkstraf opgelê vir die verkragting en seksuele aanranding van seuns en jong mans.

Sthembiso Nathaniel Kubheka (38) het herlewingsdienste in KwaZulu-Natal en Mpumalanga gehou, waar hy met die slagoffers bevriend geraak en hulle op sosialemediaplatforms gelok het om by hom in Vosman, Mpumalanga, te gaan kuier.

Brig. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder, het gesê teen Desember 2015 het Kubheka hul vertroue gewen en selfs beloof om spesiale, private gebede vir hulle te doen. Nadat hulle by sy huis aangekom het, het hy hulle betas.

Minstens vyf jong mans, tussen 17 en 23 jaar oud, was slagoffers.

Kubheka is reeds in Januarie 2016 aangekeer nadat die polisie van die aanrandings ingelig en ʼn ondersoek van stapel gestuur is.

Die pastoor is die afgelope week in die Witbank-streekhof skuldig bevind op een klag van verkragting waarvoor hy tien jaar tronkstraf opgelê is, asook vier klagte van seksuele aanranding waarvoor hy gesamentlik 40 jaar tronkstraf opgelê is.

Die hof het beslis dat Kubheka nie op die verkragtingsaanklag en eerste twee aanklagte van seksuele aanranding vir parool aansoek mag doen nie. Sommige van die vonnisse word gelyklopend uitgedien. Sy naam moet ook in die register vir seksoortreders opgeteken word.

Lt.genl. Mondli Zuma, provinsiale polisiehoof, het die vonnis verwelkom en die slagoffers geloof wat bereid was om na vore te kom en teen Kubheka te getuig.

“Ons hoop die vonnis gaan ander afskrik om dieselfde dade te pleeg en vertrou dit gaan hernieude hoop vir misdaadslagoffers bring,” het Zuma gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Nie Verbaas ·

4 jaar om ondersoek te voltooi en te vonnis. Briljant.

JohanR ·

En nog ‘n pastoor….hulle verkrag, toor met slange, bring mense terug uit die dood, spuit hulle gemeente lede met insek dooder, veg mekaar op kerk gronde en ens ens ens. Bekom jy ‘n pastoor sertifikaat ook met net 30%?

Hennie J ·

Daar in sy nuwe veilige hawe sal hy sekerlik genoeg geleentheid he om sy nering te beoefen.

Simon ·

Ja-nee. Waar ‘n pastoor betrokke is moet jy weet die geloof kom deur die kloof!

Sarel ·

Hoekom nog die Titel van ” Pastoor” Pastoor is ‘n Dienaar en die man is ‘n misdadiger en kan nie die titel dra nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.