Swaar straf vir speelgoedpistool-rooftog

hof-hamer

Argieffoto.

Twee mans is gevonnis vir die roof van ʼn paartjie waartydens hulle ʼn speelgoedpistool gebruik het.

ʼn Paartjie het verlede jaar in Bishop Lavis op die Kaapse Vlakte ʼn kruidenierswinkel besoek om babakos te koop toe twee “gewapende” mans hulle voorgekeer het. Die een het glo die ander aangepor om die paartjie te “skiet”.

Die slagoffers was uiteraard onbewus van die feit dat dit nie ʼn regte wapen was nie en het hul kruideniersware en ander persoonlike besittings net so gelos en hulle uit die voete gemaak.

Beamptes wat met patrollie besig was, is van die voorval ingelig en het ʼn nabygeleë huis gaan deursoek waar die twee boewe weggekruip het.

Daar is beslag gelê op die gesteelde kruideniersware en Elroy Barron (19) en sy minderjarige makker, wie se naam nie bekend gemaak mag word nie, is in hegtenis geneem.

Albei verdagtes het Donderdag in die Parow-distrikshof voorgekom. Landdros Constance Nziweni het hulle skuldig bevind en gevonnis vir gewapende roof met verswarende omstandighede.

Barron is tot ses jaar tronkstraf gevonnis en die minderjarige tot drie jaar huisarres. Nziweni het uitgelig dat die minderjarige nie ingevolge die strafproseswet gevonnis kan word nie.

Sy het hom gewaarsku dat hy nou beperk word tot sy huis in Bonteheuwel, 24 uur ʼn dag vir die volgende drie jaar, behalwe as hy kerkdienste of gemeenskapsdiens (wat deel uitmaak van sy vonnis) moet bywoon.

Sy het hom ook gewaarsku dat die polisie te eniger tyd by sy huis mag opdaag en kyk of hy daar is en of hy dwelms of alkohol misbruik.

“Die polisie het op enige tydstip volle toegang tot jou huis nodig. Moenie jou hekke sluit nie en hou jou honde weg van hulle af. Neem die waarskuwing ernstig op anders gaan jy weer voor hierdie hof verskyn en ons gaan jou weer vonnis,” het Nziweni gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Gesiggie ·

SWAAR STRAF, drie jaar huisarres.. mooi man, lyk my die strawwe vir die skelms word al hoe SWAARDER!! DRie jaar huis arres, vier jaar huis arres . .. lekker man lekker!

Charmaine Coetzee ·

Wat is ses jaar absoluut niks moes ten minste 10 jaar gekry het en 8 jaar huisarres

SMR ·

Ek was so 12 jaar gelede deel van ‘n gewapende roof met ‘n speelgoed pistol. Dit het eg gelyk. Hy het my handsak gesteel. Die polisie het hom binne minute gevang toe hy in ‘n taxi geklim het. Hy was onder die invloed van dwelms en het 4 of 5 polisiemanne gevat om hom vas te keer en deursoek. My selfoon was in sy sokkie, my grimeersakkie in die polisievangwa weggesteek en my beursie in die taxi. Handsak weggegooi langs die pad. Met die hulp van ‘n vreemdeling en die polisie het ek ALLES teruggekry behalwe die geld in die beursie. Baie dankbaar daarvoor. Ek het besluit om voort te gaan en ‘n saak te maak. Te veel mense bly stil en kriminele kom weg. Die man behoort hierdie jaar ontslaan te word (as hy nie alreeds uitgekom het nie). Ek kon nie toelaat dat iemand anders dieselfde deurmaak nie. Ek is 1 van 3 susters. 2 van ons was al in ‘n gewapende roof en die ander suster kon dalk gewees het as sy nie vinnig gedink het en ‘n hek vinnig oopgemaak het toe ‘n gewapende man op haar afgestorm gekom het nie. Wat het van ons land geword?

Ulanda ·

Die MINIMUM vonnis vir roof met verswarende omstandighede(wat n speelgoed pistool insluit indien die slagoffer geglo het dat dit ‘n regte pistool is) is 15 jaar gevangenisstraf. 6 jaar is dus glad nie n swaar vonnis nie. Dis skokkend lig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.