Swaar straf vir tienjarige se moordenaar

Miguel Louw. Foto: Facebook.

Die werklose slagter wat byna drie jaar gelede die tienjarige skoolseun Miguel Louw van Sydenham in KwaZulu-Natal ontvoer en vermoor het, is tot 25 jaar tronkstraf gevonnis.

Mohammed Vahed Ebrahim (46) is Woensdag in die Durbanse hooggeregshof 25 jaar tronkstraf opgelê vir die moord op Miguel, agt jaar tronkstraf vir die seun se ontvoering en 18 maande tronkstraf vir diefstal.

Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Maroela Media het vroeër berig Miguel het op 17 Julie 2018 vermis geraak nadat hy sy skool in Sydenham verlaat het. ʼn Grootskaalse soektog is destyds van stapel gestuur en Miguel se liggaam is op 3 September in die bosse naby Ebrahim se huis in Phoenix gevind.

Ebrahim is later met die saak verbind nadat kringtelevisiebeeldmateriaal gewys het hoe hy Miguel na ʼn kitskosrestaurant naby die skool neem. Miguel se geboortesertifikaat is ook destyds in sy besit gevind. Die aanklag van diefstal spruit uit Ebrahim se besit van dié dokument.

Die seun se verdwyning het destyds landwyd opslae gemaak en die familie het gepleit dat hy veilig teruggebring word. ʼn Beloning van R50 000 vir inligting oor sy verdwyning is ook uitgeloof.

Die saak is in 2019 na die hooggeregshof oorgeplaas en Ebrahim is in Desember verlede jaar skuldig bevind aan die moord op Miguel.

Lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi, provinsiale polisiekommissaris, sê hy hoop die vonnis bied ʼn mate van vertroosting vir die gesin.

“Ons is bly dat dié gruwelike misdaadgeval opgelos is en dat die oortreder nog lank agter tralies sal bly. Ons bly daartoe verbind om geregtigheid te laat geskied aan alle slagoffers van misdaad in dié provinsie,” het Mkhwanazi gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Annatjie ·

Wat was die motief vir die moord? Waarom ‘n kind vermoor?

Nico ·

Is 25 jaar ‘n swaar straf omdat hy ‘n 10 jarige kind sy lewe weg geneem het, die sogenaamde swaar straf is ‘n klug, die ouers sit met die leed en verdriet , die Mohammed sit nou in die staat se 5 ster hotel, lekker nê.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.