Swaar straf vir twee wat matriekmeisie verkrag

Die hof het die twee verkragters lewenslange tronkstraf opgelê. (Argieffoto)

ʼn Taxibestuurder en sy wag is lewenslange tronkstraf opgelê vir die verkragting van ʼn matriekleerder.

Die meisie, 17 jaar oud toe die voorval in Maart 2018 plaasgevind het, het ekstra klasse bygewoon by haar skool in die Kraaifontein-omgewing. Sy het ʼn saamrygeleentheid saam met ʼn onderwyser huis toe gekry, maar dié se voertuig het op pad onklaar geraak.

Die onderwyser het die meisie gehelp om ʼn taxi te haal wat Giovanni Florence bestuur het en waarvan Jerome van Wyk die taxiwag was.

Adv. Dercia Rabie, ʼn spesialisaanklaer in die Parow-hof vir seksuele misdrywe, het aan die hof gesê Florence het nie stilgehou op die plek waar die jong slagoffer afgelaai moes word nie, maar het na ʼn afgeleë plek gery.

Daar het albei mans haar oorval en verkrag.

Die twee 27-jarige mans is kort daarna aangekeer.

Rabie het aan die hof gesê die leerder was afhanklik van openbare vervoer om skool toe en terug te gaan. Die beskuldigdes het die situasie uitgebuit en die meisie oorval toe sy alleen in die taxi saam met hulle was.

“Suid-Afrika ondervind ʼn pandemie van geslagsgebaseerde geweld. Die leerder het weens die aanval ongelooflike trauma ondervind,” het Rabie aangevoer.

Ten spyte hiervan het die meisie matriek suksesvol voltooi.

“Sy was sterk, ondanks die kwessie dat dit moeilik was om by die skool te konsentreer. Sy was bang om tussen die skool en die huis te reis. Sy het in haar slagofferimpakverklaring ook gesê sy vrees mans weens die voorval.”

Rabie het die hof gevra om nie af te wyk van die voorgeskrewe minimum vonnis nie.

Die hof het saamgestem dat geen wesenlike of dwingende omstandighede bestaan om ʼn ligter vonnis te regverdig nie en het albei mans lewenslank tronk toe gestuur.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Wes-Kaap, het die vonnis verwelkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Boer

Die regter kort n bells. Alle mense wat sukle dade doen en skuldig is moet hulle hele lewe in eensame tronk cell bly.

Boksombende

Lewenslange tronkstraf is nie die regte straf nie. Die mans moet die doodstraf gekry het.

Tipper

Kan dalk die een op face book wees. Kyk.

ES

Sluit hulle virewig toe. Verkragters moet dieselfde vonnisopleggins as moordenaars kry want hulle vernietig hul slagoffers se lewens!