Swaar straf vir twee wat renosters stroop

(Argieffoto ter illustrasie: Unsplash)

Twee mans is Donderdag swaar gestraf vir hul betrokkenheid by renosterstropery in die Krugerwildtuin.

Die twee mans is effektiewe tronkstraf van 19 jaar opgelê nadat die karkasse van twee renosters, waarvan een se horings reeds gestroop was, in 2019 in die wêreldbekende wildtuin aangetref is.

Kol. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder, sê Michael Chauke (57) en Americo Mathonsi (59) is in die Skukuza-streekhof gevonnis nadat hulle reeds in Oktober verlede jaar skuldig bevind is aan die aanklagte teen hulle.

Die twee stropers is in Mei 2019 die wildtuin binne en het naby die Satara‑ruskamp gewag met die doel om renosters te stroop.

“Wildbewaarders het geweerskote gehoor en in die rigting van die geluid gegaan. Met hul aankoms op die toneel het hulle ʼn dooie renoster met ʼn skietwond aangetref, maar die dier se horing was nog nie verwyder nie,” sê Mdhluli.

“Nadat die wildbewaarders die gebied gefynkam het, is twee verdagtes naby die karkas aangetref.”

Die mans het rugsakke gedra wat jagmesse en twee renosterhorings ingehad het.

Die wapen wat gebruik is om die renoster te skiet was egter skoonveld. Daar word vermoed dat Chauke en Mathonsi saam met ander verdagtes gewerk het, maar hul vermeende makkers is tot dusver nog nie vasgetrek nie.

Kort nadat die twee aangekeer is, is ʼn tweede renosterkarkas ʼn ent weg in die veld gevind. Die horing was reeds gestroop en is vermoedelik dieselfde horings wat in een van die verdagtes se rugsakke gevind is.

Chauke en Mathonsi is op aanklagte van onwettige jag en betreding in hegtenis geneem.

Die saak is aan die polisie se veediefstaleenheid in Skukuza oorhandig. Die ondersoek het bevind dat die stropers Mosambiekers is wat onwettig in die land is. Bykomende klagte van oortreding van die Immigrasiewet is bygevoeg.

Hoewel die vuurwapen en ammunisie wat gebruik is om die renosters te skiet nie op die toneel gevind is nie, het forensiese ondersoekers vasgestel watter kaliber geweer en ammunisie gebruik is.

Gevolglik is bykomende klagte van die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie ook teen die mans aanhangig gemaak.

Die mans is Donderdag tien jaar tronkstraf opgelê vir renosterstropery. Die hof het Chauke en Mathonsi ook drie jaar tronkstraf opgelê vir die aanklag van onwettige betreding en een jaar tronkstraf vir die aanklag van oortreding van die Immigrasiewet. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Terselfdertyd is ʼn vonnis van ses jaar tronkstraf vir die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en een jaar vir die onwettige besit van ammunisie opgelê. Hierdie vonnisse sal ook gelyklopend uitgedien word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frank ·

Nie seker hoe werk die skuldig bevinding aan vuurwapen besit nie????? Daar was dan nie ‘n wapen nie.

SomeOne ·

en nou met al die optel, maal en deel van die vonnisse het ek die jare wat hul tyd bepaal en die aftrek van gelyklopende vonnisse, kry ek ‘n totaal van een en half jaar, dan moet die goeie gedrag tyd ook in berekening bring word, eish, dis ‘n vreeslike moeilike som wat julle my gegee het

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.