Swaar straf vir Zimbabwiër wat springstof smokkel

(Argieffoto)

ʼn Zimbabwiese vrou is Woensdag in die Musina-streekshof in Limpopo tot 15 jaar tronkstraf gevonnis nadat sy springstof die land probeer insmokkel het.

Kapt. Matimba Maluleke, woordvoerder van die Valke, sê Mercy Rifundo (42) was op 17 Augustus van Zimbabwe na Suid-Afrika onderweg toe die minibustaxi waarin sy gery het by die Beitbrug-grenspos deur polisie voorgekeer en deursoek is.

“Die polisie het 590 eenhede springpatrone ter waarde van R168 000 in die taxi gevind,” sê Maluleke.

Rifundo is summier in hegtenis geneem.

“Die saak is aan die Valke oorhandig. Hulle het vasgestel dat die beskuldigde nie die nodige dokumentasie het om in die land te wees nie.”

Rifundo het verskeie kere in die hof verskyn voor sy vandeesweek tot 15 jaar direkte tronkstraf gevonnis is. Sy het nie die keuse van ʼn boete gekry nie.

Sy is ook skuldig bevind aan die oortreding van die Immigrasiewet en is ʼn boete van R20 000 opgelê.

Brig. Angie Matlabe, die waarnemende provinsiale hoof van die Valke, het die ondersoek- en vervolgingspan geloof vir hul harde werk.

“Ons is vasberade om alle soorte georganiseerde misdaad te beveg. Ons sal nie rus tot ons land vry is van alle kriminele netwerke nie,” het Matlabe gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pieter ·

Die ANC het hulle mos verniet bly plek gegee hier by ons so lank hulle net vir die ANC stem.

Sarel ·

Wat was die Springstof se eindbestemming en wie sou haar betaal daarvoor.?

Johan ·

Dis verblywend om te verneem dat vonnis gevel is. Ek wonder wat word van tientalle dat mense vir diefstal en smokkelary gevang word. Word hulle verhoor en gevonnis of word sake stil-stil onder die mat ingevee.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.