Swaar tye voorsien vir Padongelukfonds – prokureur

Miljarde rande se eise word jaarliks teen die POF ingestel. (Argieffoto: ER24)

ʼn Prokureur wat vantevore deel van die paneel regslui was wat sake namens die Padongelukfonds (POF) hanteer het, waarsku dat die fonds binne net ʼn paar jaar miljarde rande dieper in die skuld kan wees.

Die POF het die afgelope week gesê hy is besig met ʼn omkeerplan wat verlede jaar in werking gestel is. Die plan bevat vyf kernfokuspunte om die sukkelende entiteit te help regruk. Dit behels die vermindering van regs- en mediese koste, ʼn hersiening van die POF se struktuur en sakemodel, die inwerkingstelling van ʼn geïntegreerde eisbestuurstelsel en ʼn ondersoek na en die uitwissing van bedrog en korrupsie.

Die fonds sê sy omkeerplan was nie sonder teenkanting van diegene wat by die eisproses baat nie.

Die prokureur, wat op voorwaarde van anonimiteit met Maroela Media gepraat het, waarsku egter dat die POF se beoogde werkswyse die fonds na verwagting veel meer geld uit die sak gaan jaag.

Die POF het vantevore gebruik gemaak van die paneel prokureurs om eise namens hom te behartig. Hul dienste is egter opgeskort – oënskynlik in ʼn poging om geld te bespaar – met die POF wat sê hy gaan van staatsprokureurs gebruik maak in ʼn poging om sy regskosterekening te verminder.

“Ek het vier prokureurs, vier kandidaatprokureurs en ʼn sekretaresse wat net POF-sake hanteer. Ek mag verkeerd wees, maar ek dink nie drie of vier staatsprokureurs per hof gaan die massas lêers kan hanteer nie,” sê hy.

POF gaan nou méér opdok

Die prokureur voer aan die paneel het die POF boonop miljoene rande aan skikkingsbedrae bespaar.

Maroela Media het vroeër berig die paneel prokureurs bespaar die fonds miljarde, deurdat die bedrag wat uiteindelik uitbetaal word ongeveer 77% minder is as dit waarvoor die eisers aanvanklik gevra het. In die laaste 200 sake wat hy hanteer het, is ʼn algehele skikking van R154 miljoen bereik, terwyl die eisers gesamentlik R533 miljoen gevra het.

Dit terwyl die regskoste per saak as ʼn reël – en op ʼn rojale berekening – nie meer as R100 000 beloop het nie.

Hy sê die paneel het as hekwagters opgetree en die POF beskerm teen dikwels opgeblase eise.

“Daardie hekwagters is nou weg en die eise gaan die POF miljarde en miljarde rande meer kos.”

Hy sê indien die POF nie dokumente aan die hof kan voorlê om ʼn verminderde eisbedrag te regverdig nie, gaan die hof geen ander keuse hê as om die eiser se bedrag toe te staan nie.

Die POF het vandeesweek voorts gesê hy betaal soms tot vyf keer meer vir ʼn diens as die markverwante prys. “Ons het ook besef daar is vermorsing en ondoeltreffendheid omdat sommige van hierdie dienste nie eens nodig is vir die doeltreffende bedryf van die POF nie.”

Die POF sê hy het binne ʼn jaar R43 miljard ingevorder en net R26 miljard aan eisers uitbetaal, terwyl hy R17 miljard aan administrasiegeld bestee het. Hiervan was R10,6 miljard vir regskoste.

“Dit beteken vir elke rand wat ingesamel word, bestee ons 40 sent om 60 sent uit te betaal. In die meeste gevalle word 25% van hierdie 60 sent aan prokureurs betaal as sogenaamde suksesgeld vir hul verteenwoordiging.

“Die eiser kry dus net 45 sent van elke rand wat betaal word. Dit het duidelik geword dat die situasie onvolhoubaar is.”

Die prokureur voer egter aan die besparing danksy prokureurs wat die uitbetalings afbring, is veel meer as die besparing wat die POF reken hy gaan bewerkstellig omdat eise soveel hoër gaan wees.

Betaal oudste eise eerste

In ʼn onlangse hofuitspraak is intussen beslis die POF moet sy oudste eise eerste uitbetaal, ʼn verwikkeling wat die betrokke prokureur verwelkom het.

Maroela Media het vroeër berig ingevolge die bevel moet alle betalings van die POF tot 12 September vanjaar opgeskort word om eise wat nie ouer is as 180 dae nie, te betaal. Die bevel bepaal ook dat eise, wat ouer is as 180 dae en waar ʼn skikking reeds bereik is, uitbetaal moet word.

Die prokureur sê dit is ʼn praktiese reëling wat die eisproses veel meer deursigtig gaan maak.

Vantevore het oorhaastige regsverteenwoordigers lasbriewe bekom en op die POF se bates beslag gelê indien ʼn eis nie gou genoeg verwerk is nie. Die prokureur sê dit het dikwels die hele stelsel tot stilstand gebring omdat enigiets van rekenaars tot stoele opgeskryf is.

Voortaan word ʼn eis by die POF geregistreer en die betrokke regsverteenwoordiger kan presies op die stelsel sien hoe die eis vorder. Indien ʼn probleem opduik, byvoorbeeld met ʼn betaling wat nie betyds gemaak word nie, kan dit dadelik aangemeld word.

“Ek dink dit is ʼn goeie stelsel omdat ouens in die ry indruk en die hele stelsel ontwrig. Almal moet nou hul beurt afwag.”

Die prokureur sê die nuwe stelsel gaan die POF ook ʼn beter aanduiding gee van hoeveel geld hy beskikbaar het om aan eisers uit te betaal.

Hy hou egter voet by stuk dat die POF se omkeerplan die land duur te staan gaan kom.

“Ons het in die beste belang van die POF opgetree. Daar gaan ure en ure se werk in elke verslag in. Alles word ontleed en ʼn opsomming word aan die POF voorgelê. Dan doen ons ʼn berekening en maak ʼn aanbeveling vir die uitbetaling van die eis.

“Die ouens op die paneel was almal deskundiges met jarelange ondervinding.

“My voorspelling is dat die POF oor vyf jaar in ʼn selfs groter krisis gedompel gaan wees. Eisbedrae kan met miljarde rande opskiet omdat daar nie meer prokureurs is wat as hekwagters optree nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Riana

Hulle moet sommee ontslae raak van POF… moet soos in America versekering uitneem… en as jy afgetrek word hen jou versekering is nie inplek en op datum nie sommer 10 jaar tronkstraf….

Charmain

90% van die POF se paneel prokureurs was totaal onbevoeg gewees. Daag onvoorbereid by die hof op, het nie deskundiges aangestel nie, kan ni voortgaan met n verhoor nie en dan moet op die hof trappe geskik word. Die regskostes vir hierdie prokureurs was astronomies gewees – geld wat eerder direk aan Eisers betaal kon gewees het. Toegegee die POF het sy probleme maar dis n goeie ding dat hulle begin huis skoon maak en van die ekstra bagasie op die soustrein begin ontslae raak

Wielspore

Die POF is net nog ‘n voorbeeld van ‘n volhoudbare stelsel wat deur die ANC regering omskep is onvolhoudbare stelsel. My broer het ‘n eis by die POF gehad en hulle prokureurs het die eis teengestaan tot die Hoogeregshof hulle verplig het om die eis uit te betaal. Hierdie prokureurs het nie een van die 5 keer by die hof opgedaag en bloot ‘n flou verskoning aangebied aan die hofbeampte. Natuurlik het hierdie Prokureurs admin koste van die POF ge-eis vir elke “hof setting”. Dit is hoekom eise so lank vat om uit te betaal, die staats prokureurs daag nie… Lees meer »

Sonia

die regering moet ‘n ondersoek doen en kyk hoeveel ongelukke word deur die swart taxi’s veroorsaak – dit mag dalk net ‘n goeie idee wees om ‘n stewige belasting op die taxi bedryf te hef wat in die POF gestort kan word – hulle doen net wat hulle wil., wanner hulle wil en waar hulle wil, geen padreëls word gehoorsaam nie. Ek wil ook graag weet hoekom ons nooit meer hoor vsn taxi’s wat protesteer wanner die brandstofpryse verhoog word nie – betaal hulle wat die res van ons betaal?

Nie Verbaas

POF word deur ANC kaders bestuur. ANC kan absoluut niks bestuur nie agv totale onbevoegdheid.