Swaar vonnis gevra ná moordenaar skuld beken

Cleo Diko (Foto verskaf deur Action Society)

Sandile Jegwa, het self in die Mitchells Plain-landdroshof beken hy is ʼn moordenaar.

“Ons was alleen. Ons het gestry en ek het haar herhaaldelik met ʼn hamer geslaan,” het hy verduidelik hoe hy die 34-jarige Cleo Diko vermoor het.

Diko was ʼn ma van drie kinders wat in Oktober 2022 verdwyn het. Haar ontbinde liggaam is drie maande later, op 27 Januarie 2023, in Mandalay in Kaapstad gevind.

ʼn Tou was om haar nek gedraai en haar liggaam is onder ʼn bed versteek, bedek met beton en teëls.

Kaylynn Palm, hoof van Action Society se provinsiale aksiesentrum, sê Diko se identiteit moes deur DNS-toetse bevestig word.

“Jegwa is in hegtenis geneem toe die polisie ʼn oproep van ʼn vrou ontvang het oor bloedbevlekte komberse en kussings waarop sy afgekom het toe sy die huis skoongemaak het.”

Jegwa is naby ʼn treinspoor, waar hy gebly het, in hegtenis geneem.

Hy het aan die hof gesê hy het haar geklap en geslaan totdat sy haar bewussyn verloor het, voor hy haar met die hamer aangeval het. Hy het gesê hy was buite homself van woede, maar weet dat sy reaksie oormatig was.

Palm meen vandag was ʼn groot tree op die pad na geregtigheid vir Diko.

Sandile Jegwa (Foto verskaf deur Action Society)

“Daar was vandag baie emosies in die hof. Ons is almal verlig dat die familie nie deur ʼn uitgerekte hofsaak hoef te sit nie. Die feit dat hy beken het wat hy gedoen het was moeilik om te hoor, maar die familie het dit nodig gehad om met hul lewens te kan aanbeweeg en te weet dat hy nou die gevolge sal dra.”

Sy sê Action Society baklei al sedert verlede jaar hand en tand saam met Cleo se familie en vriende. “Die saak het vanjaar stadigaan begin momentum kry en vandag het ons uit die hof uitgestap – een tree nader aan geregtigheid.”

Die saak is tot 18 Maart 2024 uitgestel vir vonnisoplegging.

“Ons sal haar familie bly ondersteun totdat Jegwa tot die volle omvang van die reg gestraf is.”

Die staatsaanklaer het versoek dat die hof die maksimumvonnis van 25 jaar of meer oplê, en nie die minimum van 15 jaar nie. “Sy het daarop gewys dat dit nie die eerste keer is dat Jegwa ʼn oortreding begaan nie en dat Cleo die ma van drie kinders was.”

Jegwa het vorige skuldigbevindings van roof en die diefstal van ʼn motorvoertuig teen hom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jannie ·

Ten minste het hy nie gelieg nie. Hy spaar nou sommer baie tyd aan ondersoeke en hoftyd. Mooi man – nou kan jy gaan sit – hopelik vir ewig!

ES ·

Ten minste het hy skuld beken en kan nou tronk toe gaan. Nie weer ‘n uitgerekte saak wat sloer vir jare nie en die familie kan nou die stukke optel en rou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.