Swaar vonnis vir eMalahleni-reeksverkragter  

Siyabonga Fana Dlamini (30) is drie keer lewenslank tronk toe gestuur, met ʼn bykomende vonnis van 115 jaar. (Foto: NVG)

ʼn Reeksverkragter wat vrouependelaars in die omgewing van die Highveld-winkelsentrum in eMalahleni geteister het, is Donderdag ʼn vonnis van meer as 100 jaar tronkstraf opgelê.

Die eMalahleni-streekshof het Siyabonga Fana Dlamini (30) drie keer lewenslank tronk toe gestuur, met ʼn bykomende vonnis van 115 jaar.

Dlamini is vroeër in dieselfde hof skuldig bevind op ses aanklagte van verkragting, een aanklag van moord en vyf aanklagte van roof met verswarende omstandighede. Dié misdade is tussen Mei en Oktober 2019 gepleeg.

Volgens Monica Nyuswa, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag in Mpumalanga, het Dlamini en sy medebeskuldigde, Gcina Gama, vroue wat langs die N4 en N12 by die Highveld-winkelsentrum gestap het, oorval, verkrag en van hul besittings beroof.

“Hulle het hul slagoffers met ʼn mes of vuurwapen gedreig, tussen bosse ingedwing en hulle verkrag. Daarna het hulle die slagoffers van hul besittings soos selfone, kontant en juweliersware beroof.”

In een van die voorvalle het Dlamini en Gama ʼn man vermoor wat saam met ʼn groep vroue geloop het. Nadat hulle die man doodgesteek het, het hulle die vroue verkrag en van die toneel gevlug. DNS het Dlamini positief met dié voorval verbind.

Gama, wat saam met Dlamini op al die aanklagte tereggestaan het, het in 2021 skuldig gepleit. Hy is destyds reeds gevonnis.

Hoewel Dlamini in die hof skuld op van die aanklagte teen hom beken het, het hy ontken dat hy by al die voorvalle betrokke was. Die staat se bewyse het egter die teendeel bewys.

Slagoffers het ook in die hof getuig oor die trauma wat hulle aan die hand van Dlamini moes verduur.

Slagofferverklarings wat ter verswaring van die vonnis by die hof ingedien is, het onder meer aangedui dat die vroue erg verontwaardig is, met woede worstel, verneder voel en nie kan slaap nie. Een vrou het selfs by haar werk bedank omdat sy nie die “stigma van verkragting wat aan haar gekleef het”, kon verduur nie.

Die regter het aangedui dat hy die verklarings in sy vonnisoplegging in ag geneem het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Cabous like braai ·

Die vonnis sal sekerlik gelyktydig uitgedien word …So dis 25 jaar…goeie gedrag en dan oor n paar jaar weer terug op straat…..

Casper ·

Dit is mos nou ‘n vonnis,welgedaan aan die regter,maar selfs hierdie vonnis sal nie dierlike instinkt uit sommige mans haal nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.