Swaar vonnis vir twee wat non verkrag, vermoor

Argieffoto

Argieffoto

Die twee mans wat skuldig bevind is aan die verkragting van en moord op ʼn 86-jarige non is albei Vrydag tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

Sbongiseni Phungula (25) en Mondli Michael Shozi (26) het ʼn pleitooreenkoms met die staat aangegaan nadat hulle aangekla is vir die roof, verkragting en moord op Gertrud Tiefenbacher, ʼn non by die Sacred Heart-klooster in KwaZulu-Natal.

Albei moordenaars is in die hooggeregshof in Pietermaritzburg gevonnis tot lewenslange tronkstraf vir die verkragting en moord en ʼn bykomende 18 jaar tronkstraf elk op aanklag van roof.

Regter Nompumelelo Radebe het gesê te oordeel aan die houding van die beskuldigdes, het hulle geen berou vir hul dade nie. “Hulle het aangehou om onder die beskuldigdebank weg te kruip en die hof moes hulle vra om om op te staan en regop te sit. Hulle voel bloot verleë en ek is seker hulle haat hul dade,” het sy gesê.

“In hul pleitverduideliking het hulle gesê hulle het diep berou vir hul dade, maar behalwe vir daardie sin, het hulle niks gedoen om [hul berou] te bewys nie. Hulle het nooit die geleentheid gebruik om die nonne in die galery in die oë te kyk en te vra vir vergifnis nie. Hulle het nooit die geleentheid gebruik om om verskoning te vra nie,” het Radebe gesê.

Tiefenbacher, ʼn non van Oostenryk, is op 19 April langs haar bed in haar kamer gevind. Haar hande was met die elektriese koord van haar tikmasjien vasgebind en ʼn nat handdoek, waarmee sy vermoedelik versmoor is, was oor haar gesig.

Phungula en Shozi, wat albei vorige oortredings het, het gesê hulle was dronk toe hulle by die klooster ingebreek het om kos te steel. Die inbraak het tot die moord en verkragting gelei.

Radebe het die versoek verwerp dat die feit dat die twee beskuldigdes weeskinders was, as versagtende omstandighede moet dien. “Beide is deur hul oumas bygestaan toe hulle grootgemaak is en hulle het ondankbaarheid getoon deur ʼn ouma te verkrag. Daar is baie weeskinders in ons samelewing, maar hierdie weeskinders pleeg nie misdade nie.”

Sy het gesê sy wonder wat deur Shozi se grootouers, wat ook in die hof was, se gedagtes gaan. Volgens Radebe sal die langtermyn tronkstraf Phungula en Shozi genoeg geleentheid gee om hulself te rehabiliteer.

“Die beskuldigdes sal vir lank uit die samelewing verwyder word, wat hulle sal verhoed om enigiemand dood te maak, te verkrag of te beroof. Voornemende oortreders moet hulle as ʼn voorbeeld gebruik om hulle van sulke gruwelike misdade te weerhou.”

News24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

CHRISTA ·

Gaan die LANG vonnis uitgedien word of gaan hulle ook maar net parool kry na 5 jaar? Dit help nie die regters lê hierdie skuim lewenslange tronkstraf op en die Departement van Korrektiewe Dienste kom dit nie na nie. Dit maak net van ons regstelsel ‘n grap!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.