Swaardaanval op plaas: ‘Hulle het gesê hulle gaan terugkom’

Roger van Parys na die aanval. Foto: Verskaf

Roger van Parys na die aanval. Foto: Verskaf

Die drie mense wat Donderdagoggend ʼn plaasaanval buite Rustenburg oorleef het waartydens ʼn swaard in ʼn man se keel afgedruk is, lewe in vrees nadat die aanvallers glo gesê het hulle sal terugkom.

ʼn Samoerai-swaard is tydens die aanval in Roger van Parys (71) se keel afgedruk, terwyl Mario van Wyk in die bobeen geskiet is. Albei is ná die aanval in die hospitaal opgeneem, maar sedertdien weer ontslaan.

Sharon Pieterse (50), een van Van Parys se huurders op die plaas, het Maandag aan Maroela Media gesê hulle is oortuig die aanvallers het die doen en late van die mense op die plaas geken, omdat hulle spesifiek na Van Parys op soek was en “die geld” geëis het. Volgens Pieterse het Van Parys ʼn onderneming van die huis af bedryf. Hy het hout en houtskool verkoop en dus gereeld groot bedrae kontant in sy huis gehad.

Pieterse vertel dat sy omstreeks 04:30 die oggend wakker geskrik het van iemand wat paniekbevange om hulp geroep het. “Iemand het net geskree, ‘Sharon, help my! Help my! Ek is geskiet!’ Dit was bloedstollend en absoluut verskriklik.”

Volgens Pieterse het sy dadelik geweet dit is ʼn plaasaanval en daarom nie uitgegaan nie, maar die bure, vriende en polisie gebel. “Ek het net geweet dit is te gevaarlik om uit te gaan, want ek het nie geweet waarteen ek my sou vasloop nie.”

Volgens Pieterse het vyf verdagtes vermoedelik tussen 03:00 en 04:00 by ʼn enkelmanwoonstel, aangrensend aan die hoofhuis, op die plaas ingebreek. Daar het hulle Van Wyk, ook ʼn huurder, in sy bed oorval.

“Die aanvallers het hom Roger genoem en aanhou sê hulle soek die geld,” het sy gesê. “Hoe meer hy gesê het hy is nie Roger nie, hoe kwater het hulle geraak en hoe harder het hulle hom geslaan. Toe Mario aanhou om te sê hy het nie geld nie en hy weet nie waarvan hulle praat nie, het een sy vuurwapen uitgeruk en hom in sy bobeen geskiet.”

Die rowers het daarna vir Van Wyk vasgemaak en hom in die veld ingesleep. Hulle het glo gedreig om hom aan die brand te steek, maar is toe eers na die hoofhuis waar Van Parys woon.

Daar het hulle Van Parys in sy kamer oorval. Hulle het hom ook aangerand en geld geëis. Die aanvallers het hom vasgemaak en deur die huis gesleep sodat hy hulle kon wys waar geld versteek is. Pieterse vertel hulle het hom daarna in een van die gastekamers ingesleep en juwele geëis.

“Roger het gesê daar is geen juwele in die huis nie, want daar was regtig nie, maar hulle het hom nie geglo nie. Een het in die kamer ingekom met ʼn samoerai-swaard wat aan Roger behoort en gesê hy sal hom maak praat. Hy het toe die swaard ongeveer 15 cm in Roger se keel afgedruk. Roger het begin huil en aanhou sê daar is regtig nie juwele nie, waarna hulle hom gelos en sy huis begin leegdra het.”

Die verdagtes het met die meeste van Van Parys se huishoudelike inhoud agter op sy bakkie gevlug. Toe bure op die toneel opdaag, het hulle Van Parys in die kombuis aangetref waar hy van die slaapkamer gekruip het in ʼn poging om hulp te soek. “Hy het in ʼn plas van sy eie bloed gelê, sy gesig was erg geswel soos hulle hom geslaan het, sy arm was velaf geskuur soos hulle hom gesleep het en drie van sy ribbes was gebreek,” het Pieterse vertel. “Hy kon skaars praat, hy was so getraumatiseer.”

Pieterse het gesê hulle het al die slotte om die huis vervang, ekstra ligte op die perseel aangebring en die misdaadtoneel laat skoonmaak. “Maar dit laat ʼn mens nie beter voel nie. Hulle het vir Roger gesê hulle is nie klaar nie en hulle gaan terugkom. Jy kan maar honde koop en veiligheidsdeure aanbring – as hulle wil in, sal hulle in.”

Sy het gesê Van Parys is glo só erg getraumatiseer ná die aanval dat hy nie wil eet of sy onderneming hervat nie. “Hy sien nie kans om aan te gaan nie. Sy bakkie is gesteel, so hy kan nie weer met sy onderneming aangaan nie. Sy vrou is ʼn paar jaar terug oorlede en hy is heeltemal van sy kinders vervreem. Hy het geen ander familie nie en nêrens om te gaan nie. Hy is stoksielalleen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Eileen ·

Dis verskriklik. Ek hoop dat sy kinders na hom sal gaan – dit isnie nou ‘n tyd om ‘n wrok te koester nie, die lewe is te kort. Sterkte oom.

EMK ·

Ek stem saam Eileen. Bure moet saamstaan – MOENIE dat die spul julle regeer deur vrees in te boesem nie. Hou honde BINNE en as hul blaf, moenie dat hul uitgaan en vergiftig word nie. Kry tweerigtingradios en laat bure met mekaar PRAAT! Mense moet hulself beveilig en beskerm sover hul kan. Ligte help ja, maar wees paraat. Praat met veiligheidsmense en kry raad. Dalk kan Maroela ‘n hele storie saamstel van wat mens alles kan doen – as die spul DAN nog inkom, wel dan het jy probeer. Onthou enigiets wat hul tyd sal mors en jou kans gee om hulp te kry help! Ai baie jammer vir die ouens.

EMK ·

Baie dankie Sune, ek het dit seker gemis of as ek dalk dit gelees het vergeet van dit! Ek gaan beslis na dit kyk, maar kan julle dit nie dalk onder ‘n permanente hofie bo-aan by jul inhoud plaas dat enigeen dit enige tyd weer kan kry nie? Net vir geval ander ook op ‘n stadium dit weer soek en nie weet waar om te kry nie.

Theresa ·

Dis iets wat geensins deur mense geignoreer mag word nie. Hierdie mens was bitter wreed aangeval. Ek hoop die polisie en speurders werk sonder ophou om hierdie wreedaards te vang en te oordeel.

monique ·

ek haal my hoed af vir van parys! sterkte daar! dit is n groot vrees wat mens nie maklik vergeet nie. ek was 5 jaar terug in n gewapende roof en is nou nog skyt bang. ons bid vir julle.

pop ·

Daai selfde kinders wat die stomme man nou so ignoreer sou soos aasvoels op die plaas neergedaal het as hy dood was. Ek hoop hulle kry ook eendag sulke behandeling. dis skokkend.

Kaptein (Afgetree) Paulus N Antonio ·

Daar is, hoegenaamd geen ander of beter beskrywing vir hulle wreedheid en sinnelose aanval op hierdie weerlose ou mens nie. Ons, as kinders behoort ten alle koste na ons bejaarde ouers te kyk en hulle waar moontlik by ons, huise in te neem en hulle liefderyk te versorg in hulle laaste somer jare. Verkoop die eiendomme waaraan hulle vir solank geswoeg het, bele die inkomste vir hulle as ‘n nes-eier en kyk op ‘n waardige wyse na die oues van dae. Die oue-tehuise is, nie die antwoord nie, net so ‘n mens gooi hulle weg vir die swyne. Waar hulle ook soms aangerand en beroof word, deur genadelose hulp verpleegsters. Kyk na u bejaarde ouers wat ‘n voorreg. God, sal u ryklik seen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.