Swaarder straf vir pa wat eie seun doodskiet

Coert Kruger jr. (Foto: Facebook)

Die hooggeregshof het ʼn pa van Vanderbijlpark wat sy eie seun doodgeskiet het, ʼn swaarder vonnis opgelê nadat ʼn ander hof hom vroeër net op waarskuwing vrygelaat het.

Coert Kruger sr. (51) is verlede jaar skuldig bevind aan die moord op sy seun Coert jr. (30). Hy het sy seun op 22 Maart vir ’n rower aangesien en hom op die dak van ’n huis op ʼn kleinhoewe buite Vanderbijlpark in die Vaaldriehoek doodgeskiet.

Kruger het skuld beken ná die voorval en is in September met ʼn waarskuwing vrygelaat.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het die vonnis as “skokkend onvanpas” bestempel en het daarteen geappelleer.

Coert Kruger sr. (Foto: Facebook)

Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die NVG, het gesê die landdros wat dié vonnis opgelê het, het ook nie in ʼn soortgelyke saak – waar ʼn pa van Lenasia 10 jaar tronkstraf, opgeskort vir 5 jaar opgelê is omdat hy ook per ongeluk sy eie seun geskiet het nie – in aanmerking geneem nie.

Die hooggeregshof het in die Kruger-saak bevind die landdros het onder andere te min klem gelê op die erns van die oortreding.

“Die hof [wat die oorspronklike vonnis opgelê het] het die feit onderspeel dat die respondent (Kruger sr.) ʼn vuurwapen in die rigting van die oorledene gerig het sonder dat sy lewe in onmiddellike gevaar was of dat sy lewe bedreig is. Daar was geen aanduiding dat die oorledene gewapen was nie,” het regter Elmarie van der Schyff bevind.

Van der Schyff het gesê geen tronkstraf nie sal onvanpas wees, maar dieselfde geld vir lang tronkstraf omdat die hof ook genade moet betoon.

Sy het Kruger gevonnis tot agt jaar tronkstraf wat vir vyf jaar opgeskort is op voorwaarde dat Kruger nie in dié tyd aan moord skuldig bevind word nie.

Die NVG het die swaarder vonnis verwelkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Remlut ·

Dit klink vir MY billik, sien geen probleem met die vonnis nie.

Anel ·

Die arme pa. Onthiu, hy is klaar lewenslank gevonnis. Elke dag verwyt hy homself. Verder weet mens nie wat aanleiding gegee het nie. Was daar dalk gereeld inbrake ens. Onscwat op die kantlyn staan kan nie oordeel nie. Voel net baie jammer vir die familie.

Stefan ·

Ek dink die Pa ly reeds genoeg deur die tragiese misverstand.
En dit als as gevolg van ons buitesporig misdadige samelewing waarin ons probeer oorleef, glad nie ondenkbaar dat dieselfde met enigeen van ons kan gebeur, baie maklik om na die toeval te redeneer of dit nie dalk beter was gewees om sus of so te gemaak het maar op daai oomblik is jy oortuig dis nou jou beurt en dis jy of hy.

Amanda ·

Die nuwe vonnis is net so n groot teleurstelling. Moenie die moord miskyk nie!!!!!!

Mathys ·

Hoe lank moet jy deur jou teiken kyk voor jy die sneller trek? ‘n goeie skut kan die verskil tussen ‘n gands en ‘n Eland deur sy teiken sien, kyk na die foto’s van die pa en die seun. Lyk of daar bietjie verwarring was wat nie in die 20 sekondes se gluur in die teleskoop ontstaan het nie.

Michael ·

Ek dink dit is iets wat vir jou res van jou lewe by jou sal spook

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.