Swaarder strawwe gevra vir dié wat nie kinders vasgordel

karstoeltjie-dogtertjie-meisie

(Argieffoto: Pixnio)

Strenger boetes moet in Suid-Afrika opgelê word om ʼn duidelike boodskap te stuur dat die versuim om kinders behoorlik in ʼn voertuig vas te gordel, ʼn ernstige oortreding is.

Só vra die Outomobiel-Assosiasie (AA) na afloop van die bevindings van navorsing wat Dinsdag bekend gemaak is. Hiervolgens word te veel kinders steeds nie behoorlik vasgegordel nie en beter wetstoepassing en opvoeding van motoriste is nodig om die situasie om te keer.

Die navorsing is vroeër vanjaar by verskeie winkelsentrums in Gauteng gedoen. Dit het bevind hoewel daar ʼn toename in die gebruik van doelgemaakte stremstelsels vir kinders in voertuie is, ʼn derde van kinders steeds reis sonder dat hulle op enige manier vasgegordel is.

Volgens die opname was 46% van kinders tussen die ouderdom van vyf en 12 nie vasgegordel nie, moontlik omdat ouers die gebruik van motorstoele opskort namate kinders ouer word.

Die AA vra vir ʼn hersiening van bestaande wetgewing wat bepaal dat die gebruik van motorstoele op kinders se ouderdom gegrond is. Die organisasie sê die lengte en gewig van kinders – babas en kleuters – behoort die bepalende faktor te wees, eerder as net ouderdom. Kinders van dieselfde ouderdom wissel geweldig in grootte en die ouderdomsfaktor veroorsaak dalk dat ouers hul kinders met veiligheidsgordels inperk, eerder as ʼn doelgemaakte motorstoeltjie.

“Daar kan gesê word dat veiligheidsgordels beter beskerming bied as om dit nie te dra nie, maar dit is minder doeltreffend om kindersterftes of beserings onder kinders in die geval van ʼn botsing te verminder,” sê die AA.

Motorstoeltjies verminder besering onder kinders tussen vyf en nege jaar oud met 52%, terwyl die gebruik van ʼn veiligheidsgordel sulke beserings met 19% verminder.

Suid-Afrikaanse wetgewing bepaal dat kinders jonger as drie in doelgemaakte motorstoele vasgegordel moet word.

Die AA sê dit is belangrik dat wetstoepassingsowerhede die gebruik van motorstoele afdwing en boetes oplê wanneer daar nie aan wetgewing voldoen word nie. In Suid-Afrika is die boete wat vir nienakoming opgelê word maar R250, terwyl dit in ander lande tot meer as R9 000 kan wees.

“Indien ons die sterftes van kinders in ons land wil verminder, moet ons plaaslik ʼn soortgelyke, duidelike boodskap uitstuur,” sê die AA.

Die navorsing het bevind dat 74% van bestuurders self ʼn veiligheidsgordel gedra het, terwyl ʼn kind wat nie vasgegordel is nie, saam met hulle in die voertuig gereis het.

“Die dui daarop dat die bestuurders hul eie veiligheid in gedagte hou, maar die veiligheid van die kind of kinders wat saam met hulle reis, agterweë laat.

“ʼn Moontlike rede hiervoor is bekostigbaarheid, en die siening dat die gebruik van sitplekgordels ʼn werkbare alternatief is.”

Volgens die Padverkeerbestuurskorporasie (RTMC) was 30% van alle padsterftes wat in 2020 aangemeld is, dié van passasiers in voertuie. Hiervan was 4% kinders tussen nul en vier jaar oud, 4% was kinders tussen vyf en nege jaar oud en 5% was kinders tussen tien en 14 jaar oud.

“Dit kan nooit as normaal aanvaar word vir ʼn volwassene om in ʼn motor te reis saam met ʼn kind wat nie vasgegordel is nie – selfs al is dit ʼn kort rit na die winkel. Die feit bly staan dat dit gevaarlik is,” sê die AA.

“Kinderbeperkingstelsels is spesifiek ontwerp om babas en kinders teen beserings in voertuie te beskerm deur hul beweging in die voertuig te beperk. Tesame met beter wetstoepassing en swaarder boetes doen ons ook ʼn beroep op alle bestuurders om hul kinders te beskerm en behoorlike stelsels te gebruik wanneer hulle reis,” sê die AA.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Lillian ·

Hou op praat en beboet die mense wat niehul kinders vasgordel nie, mens sien dit elke dag op die paaie!

Marlien ·

Maak die karstoele bekostigbaar vir die mense. Ek stem saam dat n kind vasgegordel moet wees, maar as jy elke keer die stoel moet vervang soos die kind groter word, is dit nog n swaar las op die ouers. Daardie stoele is baie duur.

Nommer 7 ·

As jy ‘n motor kan bekostig, dan kan jy ook ‘n stoeltjie bekostig.

Swerwer ·

Miskienis dit tyd dat daar na die pryse van sulke veiligheidstoestelle vir kinders na geskyk word. Ongelukkig met die ANC/EFF aan bewind het alles onbekostigbaar geword en kan almal nie die veiligheidtoestelle bekostig nie. Begin sommer met TAXI bedryf. Kinders wat vervoer word. Is daar sulke veiligheidstoestelle beskikbaar in TAXI’s? Nee want dan gaan daar nie 30 in die TAXI pas nie en die ouers sal moet betaal vir ‘n addisionele passasier teen normale pryse wat nie beskostigbaar is nie!

Nommer 7 ·

Daar behoort nie ‘ n prys op jou kind se veiligheid te wees nie.

Swerwer ·

In die 80’s was daardie stoeltjie R30 nou is dit 1000de. Enig iemand probeer hul kinders so veilig moontlik hou maar ongelukkig is dit nie meer haalbaar vir almal nie.

Truzelda ·

Weet jy wat kos karstoeltjies?? Nie almal kan dit bekostig nie ..

pestilensie ·

Skreuende kind in motor , n baie groter gevaar . Se maar net

Nommer 7 ·

My kinders het geskree as hulle nie in hul stoeltjies vasgemaak was nie. Sekere dinge kan jy met jou kinders onderhandel, ander dinge is nie onderhandelbaar nie. Veiligheid is een van die dinge.

koei ·

Ek sien dit elke dag op die paaie, ek werk vir versekering, weet julle hoeveel eise kry ons van motorongelukke en wat die kinders seergekry het wat nie vas gemaak was nie, of voor op die voorste sitplek gesit het en nie vasgemaak was nie? Daai fotos is nie grappies nie, want dit moet genoteer word. Ek reken hulle moet die mense swaar beboet, daai kind moet maar lekker skreeu, dis die ouers se plig om hulle kinders reg te leer. Jy het nie nodig om elke keer n nuwe kar stoel te koop soos hulle groter word nie, koop een wat klaar groot genoeg is dat hulle daarin kan groot word en ingroei, daai goed is verstelbaar.

Wielspore ·

Ek is totaal pro-veiligheids gordel, die kar se wiele draai nie tensy almal vas gegordel is. Ons VW TCross monitor elke sitplek in die voertuig en waarsku die bestuurder indien iemand se gordel nie vas is. My eie kinders en kleinkind nommer 1 dra altyd veiligheids gordels.
Ons 2de kleinkind (Second born) weier om die gordel aan te sit, hy is nou 3 jaar oud, praat werk nie, straf werk nie, boud sielkunde werk nie.

Jack ·

Ek steun die gordels 100 persent maar statistiek word maklik rondgegooi. Nie alle sterftes onder kinders in ongelukke kon voorkom word deur gordels nie. Dit hang beslis af van die aard van die ongeluk. Verdeel die inligting in hul korrekte perspektiewe om die resultaat meer logies en geloofwaardig te maak. Boetes is in elk geval nie die enigste voorkomende maatreel nie. Wat van die puntestelsel wat seker ook nie gaan gebeur nie geld alles weer in n verkeerde sak. Voertuie moet by herhaalde oortreding in beslag geneem word en na voltooiing van n suksesvolle bestuursles kan die persoon weer bestuur

Nico ·

Met die vervoer van anderskleurigs se kinders skool sien ek elke dag hoe die kinders vervoer word, voertuie is oorlaai, minibussies is oorlaai, sonder om enigsins vinger te wys, hier waar ek bly is ‘n swart skool waarheen die kinders vervoer word wat nie reg is nie, ek sien ook van die kinders wat voorste sitplek sit wat nie reg is nie, kinders moet op agterste sitplek in beskermde posisie sit, ek kan nie onderskeid maak nie, almal wat kinders vervoer is skuldig.

Johan ·

Beboet eerder die mense wat nie die pad in stand hou nie, dis n baie groter gevaar om heeltyd te moet uitswaai vir slaggate. My kinders is my verandwoordelik en daarom is hulle vas. Hou op om vir mense voor te sê hoe hul moet leef, trek na Australië, daar kan jul dit na wellus gaan doen. Julle gaan ons net nog meer in gevaar stel met hoër boetes met blootstelling aan ons “eerlike” polisiediens. AA, los my uit man!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.