Swaargewig EFF-advokaat veg vir Gareth Cliff

Gareth Cliff

Gareth Cliff

Die swaargewig advokaat, Dali Mpofu, wat ook die nasionale voorsitter van die EFF is, gaan die afgedankte Idols-beoordelaar, Gareth Cliff, verteenwoordig om M-Net vir R25 miljoen te dagvaar.

Mpofu, ‘n voormalige bestuurshoof van die SAUK en huidige president van die Suider-Afrikaanse  Uitsaaivereniging, se aanstelling is deur Cliff se prokureur, Eric Mabuza, aan Maroela Media bevestig. “Ons is vol vertroue in sy vermoë en weet hy sal perfek wees as deel van ons span,” het Mabuza gesê.

Maroela Media het Maandag berig Cliff beplan om M-Net vir miljoene te dagvaar vir onregmatige afdanking en naamskending, nadat hy glo weens sy uitsprake op sosiale media die trekpas gegee is.

Mabuza het gesê hulle eis R20 miljoen vir “onregmatige afdanking en kontrakbreuk”. “Die program sal nog ten minste vier jaar lank voortgaan en ons eis R5 miljoen per jaar vir die verlies van direkte en indirekte inkomste. Die ander R5 miljoen is vir naamskending, omdat Cliff deur dié proses as ʼn rassis bestempel is en hy sy naam in ere wil herstel,” het Mabuza gesê.

M-Net het verlede naweek aangekondig Gareth Cliff gaan nie in vanjaar se seisoen deel van die beoordelaarspaneel wees nie.

Volgens berigte volg dié stap nadat Cliff erg op sosiale media deurgeloop het vir uitsprake wat hy oor die Penny Sparrow-debakel gemaak het. Cliff het gesê mense verstaan gladnie vryheid van spraak nie. Hy is uit talle oorde vir ʼn rassis uitgekryt en sosialemedia-gebruikers het M-Net versoek om hom van Idols te onttrek. Cliff het reeds om verskoning vir sy uitlatings gevra en rassisme daarin veroordeel.

M-Net is tot Maandag om 14:00 tyd gegun om op Cliff se prokureursbrief te reageer, maar volgens Mabuza het dit nie gebeur nie.

Hoewel sommige EFF-lede Dinsdag teen Mpofu uitgevaar het omdat hy ʼn “rassis” verteenwoordig, het Floyd Shivambu, die EFF se adjunkpresident en woordvoerder, gesê dit is Mpofu se professionele reg en verpligting om wie ook al te verteenwoordig wat hom nader.

“Hoewel Cliff se uitlating oor vryheid van spraak totaal onaanvaarbaar was ná die Sparrow-debakel, wil ons beklemtoon dat Mpofu sy professionele plig as advokaat doen deur hom te verteenwoordig,” het Shivambu gesê. “Die EFF se nasionale voorsitter se verteenwoordiging van ʼn rassistiese Gareth Cliff beteken nie die EFF verdedig rassisme nie.”

Nondumiso Mabece, hoof van publisiteit vir M-Net se Mzansi Magic-kanale, het Maandag bevestig hulle het die prokureursbrief ontvang en is in gesprek met hul prokureurs.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Berhalet Beukes ·

Ja?? Lyk my Gareth Cliff het regtig lus om die pot te roer! Tsk tsk

Anny Penny ·

Ek dink steeds nie sy kommentaar was rassisties bedoel nie en weet dus ook nie hoekom hy dit teruggetrek het nie. Dalk ook maar eerste instink jyis oor ons liewe landjie so oorsensitief is. Sparrow was egter wel heeltemal verregaande

Berhalet Beukes ·

Ek glo ook nie so nie… Maar hy is bekend en hulle sal hom roer om ‘n punt te maak. So ek hoop hy roer terug want dit gaan interessant wees om dop te hou!

Schalk ·

Ek hoop n hof besluit teen hom en verplig M-Net sommer terselfde tyd om Idols van die lug af te haal. Ek dink altwee het hulle tyd uitgedien. Maar nou ja, ons copy mos alles en kyk hoe lank ons dit kan uitrek.

Sonja ·

Snaaks…di situasie waarin Mpofu hom bevind is eintlik dieselfde as wat met Gareth gebeur het. (Mense hoor wat hulle wil hoor!)?

Frans ·

Sjoe R5 miljoen per seisoen om ‘n Idols-kompetisie te beoordeel en daar is as ek reg onthou
(jare laas na dit gekyk)4 beoordellaars, wat beteken R20 miljoen aan beoordeellaarsfooie per seisoen,as almal dieselfde kry.

Geen wonder ‘n mens betaal deur jou nek vir DSTV-subskripsies nie.Terwyl ek nou effens op ‘n ‘roll’ is, wie se simpel idee was ‘Box Office’ wat niks meer as ‘n videowinkel is en in direkte kompetisie staan met diegene wat nog ‘n bestaan in die bedryf probeer maak.

Waarom moet ‘n mens die nuutste goed huur? Is dit nie waarom jy inteken op DSTV om die nuuste en jongste te sien en nie herhalings van toeka se jare nie? En waarom het net swart mense aandele gekry en is die meer as 700 000 (is die statistiek reg?) armblankes van dit uitgesluit.

Is dit nie rassistiese optrede nie? Vir Cliff se part hoop ek hy wen alhoewel ek reken hul hopeloos oorbetaal word.

Henri ·

Mense, Moet se die eerste wat my opgeval het, was die briljante strategie (gesien uit ‘n ras- en regs-oogpunt) van Cliff om juis ‘n swart prokureur aan te stel. Wie se idee dit was om die swart advokaat te brief? Skat dit was die prokureur. Die syfers maak nie saak nie, Ek sien twee oorwinnings in die toekoms……….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.