Swaarste straf nóg vir ietermagog-smokkelaar

Bloot ter illustrasie (Foto: Pangolin.Africa/Facebook)

ʼn 32-jarige man is Woensdag tot tien jaar gevangenisstraf gevonnis nadat hy ʼn ietermagog in ʼn emmer vasgekeer en glo vir kopers rondgevra het. Dit is die langste gevangenisstraf wat nóg in dié verband opgelê is.

Nicky Mhlongo, wat op die plaas Mooiwater in Limpopo woon, is in die Lenyenye-streekhof skuldig bevind en tot tien jaar tronkstraf vir die besit van ʼn ietermagog gevonnis, asook ses maande vir dieremishandeling en twee jaar vir die oortreding van die Immigrasiewet.

Die hof het gelas dat die drie vonnisse gelyklopend uitgedien moet word.

Mashudu Malabi-Dzangi, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Limpopo, sê die beskuldigde het skuldig gepleit op al die aanklagte teen hom en erken dat hy in Oktober 2021 ʼn ietermagog van sy woonplek gedra het en van plan was om dit te verkoop.

Die polisie het inligting hieroor ontvang en ʼn span saamgestel om die voorval in Moeketsi te ondersoek. Die Umoya Khulula-wildsentrum is ook by die operasie betrek.

“Met die span se aankoms is die man in besit van ʼn lewende ietermagog in ʼn emmer gevind. Mhlongo is dadelik in hegtenis geneem en die dier is na die Umoya Khulula-rehabilitasiefasiliteit geneem,” sê Malabi-Dzangi.

(Foto: Verskaf)

Volgens Wynand de Jager, van die Umoya Khulula-wildsentrum, het die ietermagog ongelukkig nie oorleef nie.

“ʼn Ietermagog is ʼn baie sensitiewe en pieperige diertjie en hul longe kry gewoonlik maklik skade.

“Ons het alles probeer om hom te red, maar die skade was reeds te groot omdat hy in ʼn emmer aangehou is.”

Ter strafverswaring het staatsaanklaer Tula Bekwa aangevoer dat die misdrywe ernstig en boonop algemeen in die Limpopo-gebied is.

“Die beskuldigde het die ietermagog wreed behandel deur hom in ʼn emmer vas te keer.

“Spesiale beskermde of bedreigde spesies loop ʼn hoë risiko om uit te sterf. Hierdie oortredings het ʼn nadelige uitwerking op die ekonomie wêreldwyd en bewaringsdepartemente vereis dat die wet toegepas moet word om te verhoed dat hierdie diere uitsterf,” sê Bekwa.

De Jager sê die span by Umoya Khulula het ook die vonnis verwelkom.

“Dit is ʼn ongelooflike skaars dier en die mees verhandelde dier ter wêreld. As ons hierdie praktyke nie gou stopsit nie, gaan ons die ietermagog permanent verloor.

“Ons span werk regtig baie hard om hierdie diere ná so ʼn voorval te rehabiliteer. Dit verg baie tyd en ongelooflik baie geld om ʼn ietermagog weer stabiel genoeg te kry om in die wildernis vrygelaat te word.

“Wanneer misdadigers nie streng vonnisse opgelê word nie, voel dit soms of ons werk verniet is.”

Volgens Malabi-Dzangi het die NVG ook die vonnis verwelkom.

“Ons is sterk gekant teen die stropery van alle bedreigde spesies, dieremishandeling, mishandeling of verwaarlosing.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

adriaan ·

Hoe primitief moet ‘n mens wees om groot geldwaarde te heg aan ietermagog skubbe en renoster horing.

Pieter ·

vir solank as daar n mark is sal die stropery aanhou. Die kingpins moet aangekeer word, dan sal die stropery ophou.

domheks ·

Die gemors kom stroop net hier in SA. Dankie cANCer dat julle almal hier verwekom ten koste van ons wild lewe.

Gert ·

In ons land kry jy15 jaar vir die moor van n mens of 10 jaar indien jy n wilde dier in emmer vang en hom probeer verkoop.

Miskruier ·

Solank ons “maaitjies” is met die kopers, sal dit nooit stop nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.