Swaelreuk oor Gauteng: Nog bronne ondersoek  

(Argieffoto: Reint Dykema)

Die swaelreuk wat verlede maand oor groot dele van Gauteng gehang het, was waarskynlik ’n kombinasie van verhoogde vlakke van swaeldioksied en waterstofsulfied en die gevolg van die kumulatiewe impak van ’n aantal bronne in die omliggende gebiede.

Afgevaardigdes van die departement van omgewingsake en die Gert Sibande-distriksmunisipaliteit het op 18 Februarie Sasol se aanleg in Secunda besoek om sy bedrywighede na te gaan aangesien dit vermoed is dat dit moontlik die bron van die swaelstank in dele van Gauteng en Mpumalanga was.

“Tydens die inspeksie is gevind dat die vrystelling van swaeldioksied en waterstofsulfied uit die Sasol-aanleg binne die goedgekeurde perke is van die lisensie vir atmosferiese uitlaatgas (AEL) wat die Gert Sibanda-munisipaliteit op 23 April 2019 aan hulle uitgereik het,” het Albi Modise, woordvoerder van die departement, gesê.

In die stadium kan nie definitief gesê word wat die grootste bron van lugbesoedeling was nie en dit word vermoed dat dit moontlik die gevolg was van die kumulatiewe impak van ’n aantal bronne in die omliggende gebiede.

Terwyl aanvanklike ondersoeke getoon het dat die swaeldioksiedvlakke in die week van 11 tot 17 Februarie vanjaar aan die standaarde vir lugkwaliteit voldoen het, is gevind dat die vlakke van waterstofsulfied gedurende die betrokke week soms verhoog was.

Uiterste pieke is by die Lebohang-moniteringstasie (234 deeltjies per miljard op 12 Februarie om 11:00) en die Springs-moniteringstasie (220 deeltjies per miljard op 16 Februarie om 11:00) opgemerk. In Pretoria het waterstofsulfiedmetings by die Suid-Afrikaanse Weerdiens se stasie in Irene, Centurion, getoon dat waterstofsulfied op 12 en 15 tot 17 Februarie die aanbevelings van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) oortref het, met die hoogste piek van 61 deeltjies per miljard op 16 Februarie om 01: 00. Die metings toon dat daar op ’n gegewe dag twee tydperke was waar die vlakke van waterstofsulfied die ergste was, om 01:00 en 11:00.

Die WGO beveel aan dat die konsentrasies van waterstofsulfied nie 5,02 deeltjies per miljard binne ’n gemiddelde tydperk van 30 minute moet oorskry nie.

Volgens Modise was daar ook ’n laedrukstelsel in die Mosambiekkanaal wat aanleiding gegee het tot ’n taamlike ongewone sirkulasiepatroon oor die streek. Hierdie toestande het heersende suidoostelike winde tot gevolg gehad wat lugbesoedeling vanaf die Mpumalanga-nywerheidstreek na Gauteng moontlik gemaak het, veral oor Ekurhuleni, Johannesburg en Pretoria.

“Dit word dus aanbeveel dat ander bronne wat kon bydra tot die reuk wat in Gauteng ervaar is, ook ondersoek word. Dit sluit in kragsentrales en afvalwaterwerke wat ook waterstofsulfied vrystel.”

Die bevindings van die ondersoek sal bekend gemaak word sodra dit afgehandel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Bennie ·

Da jare gewerk gaan kyk in die aande tussen genoemde tye..als word afgesit en in die lug in gepomp..

Stof ·

Is dit waar dat een van die groot supermarkte gedeeltelik skuld erken het hieraan, nadat hulle te veel knoffel op hulle inhuis-naam knoffelbrood gesit het wat tot gevolg het dat die klante nou meer gasvry is?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.