Swak groei, swak belegging, verhoog risiko van afgradering

Argieffoto (Foto: stevepb, Pixabay)

Argieffoto (Foto: stevepb, Pixabay)

Die vakbond Solidariteit het vandag hernude kommer oor Suid-Afrika se swak ekonomiese groeikoers uitgespreek. Dit volg nadat Statistieke Suid-Afrika (SSA) gister die syfers oor die bruto binnelandse produk (BBP) vir die vierde kwartaal van 2016 bekendgemaak het.

Volgens SSA se verslag het Suid-Afrika se ekonomie in die vierde kwartaal van 2016 met 0,3% op ʼn kwartaal-tot-kwartaal-grondslag gekrimp. Dit volg op ʼn aangepaste syfer van 0,4% in die derde kwartaal van 2016.

Op ʼn jaargrondslag het die ekonomie met slegs 0,3% in 2016 teenoor 2015 gegroei en onder die verwagting van sowel die tesourie as die Reserwebank presteer. Solidariteit is ook bekommerd oor die sterker moontlikheid van ʼn afgradering van Suid-Afrika se regering se kredietgradering aangesien die groot kredietgraderingsagentskappe reeds groei as ʼn wesenlike kwessie van kommer genoem het.

Tesame met die algehele swak groeikoers dui die syfers verder daarop dat bruto vaste-kapitaalbelegging vanuit die privaat sektor nou al vir vyf agtereenvolgende kwartale verswak het en in die vierde kwartaal van 2016 met 1,7% gekrimp het.

Volgens Gerhard van Onselen, ekonomiese navorser aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), is dit kommerwekkend dat bruto vastekapitaalbelegging in die privaat sektor verder gekrimp het. “Ons het vantevore kommer uitgespreek oor die swak groei van private vaste beleggings en dit is duidelik dat die elemente wat beleggings in die privaat sektor aan bande lê, soos ʼn ongunstige en onsekere beleid, nog nie bygelê is nie,” sê Van Onselen.

Vir ʼn ekonomie om volhoubaar te groei, is gereelde en voldoende private beleggings nodig. Nie net moet private beleggings bestaande infrastruktuur, masjinerie en toerusting in die kapitaalstruktuur onderhou nie; dit moet ook voldoende wees om die private kapitaalstruktuur uit te brei. Private kapitaalbeleggings is tans onvoldoende om ʼn uitbreiding van die private kapitaalstruktuur te ondersteun.

Die algehele koers waarteen vaste kapitaal gevorm is, het op ʼn kwartaalgrondslag wel sterker gestaan, maar dit was hoofsaaklik weens regeringsbesteding. Staatsbesteding kan nooit ʼn plaasvervanger vir belegging in die privaat sektor wees nie, het Van Onselen gewaarsku.

“Die privaat sektor is tans baie traag om in vaste kapitaal te belê, wat ʼn aanduiding is dat die plaaslike sake-omgewing nie op mooi woorde van politici reageer nie, maar wel op die grondvlakrealiteit van ʼn skadelike en ʼn onsekere beleidsomgewing,” het Van Onselen bygevoeg.

Solidariteit hou vol dat ekonomiese inmengingsbeleid wat teen vryheid indruis, hersien en aansienlik verminder moet word. Ernstige aandag moet aan die noodsaak van vryemarkhervormings en die herroeping van wette wat teen vrye ondernemerskap indruis, geskenk word. Daardeur kan aansporing vir hernude kapitaalinvestering en ʼn sterker, meer produktiewe ekonomie geskep word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johanna Botha ·

Niemand gaan hier wil belê met die sirkus waar alles so onseker en sonder rigting is nie …so ja rommelstatus is presies wat die anc verdien net jammer almal sink saam met die klomp skelms

Johannes van Staden ·

Waneer gaan die regering besef dat alles wat hulle sê mense negatief beinvloed en beleggers gevolglik eerder uit SA wil onntrek as om in die gemors te wil bele. Dis net of die regering nie wil hoor of ongee nie …hoe dom ! Is daar dan niemand in die ANC wat kan opstaan vir wat reg is nie ..of stem almal saam met die gemors !

AL ·

Sal graag wil weet of die ANC so kortsigtig is om net in hul gemaklike luukse lewe met hul salarisse en inkomste baai dat hulle nie verder in die toekoms wil sien nie.
Wat hul nie besef nie, als is tydelik op aarde.

Ouvrou ·

Al dis presies wat leiers in afrika lande doen. Hulle gee nie n snars om vir hulle mense nie. Solank hulle alles wat geoes kan word in hulle sakke kan prop is die res bysaak. Mugabe is stink skatryk en die res vergaan van die honger. Hier gaan dieselfde gebeur.

Raymond ·

Dit is nie nodig om te emmigreer om jou kinders ‘n geleentheid in die lewe te bied nie. Afrikaans sprekende studente kan heelgemaklik in een van die wêreld se top 100 universiteite studeer in Belgie en dit teen die helfte van die koste van ‘n SA universiteit die nie eers in die top 300 lê nie. Sien http://www.toelatingsexamen-bootcamp.be/suid-afrika-en-namibia

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.