‘Swak groei, swak vaste investering ernstige bron van kommer’

groei-bbpStatistieke Suid-Afrika (SSA) het Dinsdag die bruto binnelandse produk (BBP-) syfers vir die derde kwartaal van 2016 bekend gemaak.

Die vakbond Solidariteit het in reaksie gesê hy het met ernstige kommer kennis geneem van die swak groeivlakke in die Suid-Afrikaanse ekonomie. Volgens SSA het die ekonomie op seisoenaal aangepaste en geannualiseerde terme met ’n skamele 0,2% van 2016 K2 tot 2016 K3 gegroei (0,7% van 2015 K3 tot 2016 K3 jaar-tot-jaar).

Volgens Gerhard van Onselen, ekonomiese navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), staan die swak bruto kapitaalvorming deur sakeondernemings in die private sektor veral uit in die BBP-syfers.

“As daar gekyk word na die jaar-tot-jaar groeikoers in bruto vastekapitaalvorming (BVKV) – ’n meting wat vaste investering in die ekonomie bepaal – word ’n totale afname van ’n geskatte R165,5 miljard in K3 2015 tot R155,4 miljard in K3 2016 waargeneem – dit verteenwoordig ’n jaar-tot-jaar afname van 6,1%. Voorts het die kapitaalvorming in die private sektor van ’n geskatte R103,7 miljard in K3 2015 tot R95,2 miljard in K3 2016 afgeneem – ’n jaar-tot-jaar afname van 8,2%,” het Van Onselen aangetoon.

“Volgens SSA se BBP-syfers het die private sektor se vaste beleggingsgroei sedert die begin van 2014 aansienlik verlangsaam en het dit ná die derde kwartaal van 2015 duidelik negatief gedraai. Dit is problematies aangesien vaste investering ’n besonder belangrike investeringskategorie is, des te meer in die geval van vaste investering deur die private sektor,” het Van Onselen verduidelik.

Volgens Van Onselen blyk dit uit die syfers dat die private sektor met hul rande stem deurdat beleggings in vaste bates soos grond, masjinerie en toerusting nie teen dieselfde vinnige tempo as in die verlede geskied nie. “Investering is die lewensaar van enige ekonomie; ʼn afname in beleggings uit die private sektor sal afbreuk doen aan die toekomsvooruitsigte van die ekonomie,” het Van Onselen gesê.

“Hoewel nie veel aan eksterne ekonomiese toestande gedoen kan word nie, is dit nou gebiedend noodsaaklik om stappe te oorweeg om die dinamiek van die private sektor te versterk en te verbeter. Hervormings om vryer markte, minder regulasies en rompslomp teweeg te bring en afstand te doen van skadelike beleidsrigtings wat beleggings afskrik, kan veel vermag om vooruitsigte vir nuwe beleggings deur die private sektor te verbeter,” het Van Onselen gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jan ·

My wens aan Kersvader is om in my kous, ‘n nuwe Regering, langs my bed agter te laat. Daar moet ‘n etiket aan wees, met die woorde op, “effiektief, beginselvas, vir die mense, hoë morele waardes, lewenslustig, hardwerkend, nederig, nie korrup nie, kennis en kundigheid, ‘n ekonomiese suksesstorie is gewaarborg”.

John ·

Jan-Jan, dis ‘n bielie van ‘n wensdenkery vir hierdie ou landjie met sy mense wat eerder nog ‘n miljard+ die’ Feestyd sal blaas op brassery & kie en nie eens dink aan die Grootbaas se Seun se opoffering waaroor dit eintlik behoort te gaan nie… want dan sou alles wat jy vir ons begeer in plek val.

TTh ·

Dit is duidelik dat die SA ekonomie in ‘n maalstroom vasgevang is te wyte aan die onvermoe van die ANC regering. Die grondwet is kragteloos en kan nie die land se mense beskerm teen hierdie vorm van georganiseerde misdaad nie. Dit sal nie herstel met die ANC aan bewind nie. SA beweeg nader aan anargie met meer en meer mense sonder inkomste, hoop en ‘n toekoms. Hoe gouer dit kan gebeur hoe gouer kan ‘n nuwe toekoms geskep word – tans is dit onmoontlik. Diegene wat kan sal moet voorberei vir die ergste – en begin met geestelike weerbaarheid (kry jou saak in orde met die Skepper).

jaco ·

parlementslede kry n salaris van R1miljoen per jaar en munisipale raadslede kry R500 000 per jaar. Daardie salarisse is SO hoog dat al versleg ons ekonomie ook tot R40 vir 1 liter petrol, hulle dit steeds nie sal voel nie. So om hierdie dinge by die stembus reg te kry, gaan ook nie werk nie. Die politici van ALLE partye wat so vir hulle mense veg, gaan nadat hulle verkies is, maar ook net lekker agteroorsit met daardie lekker salaris.

Chillie ·

Dit help nie ek worry my dood oor die ekonomie en elke keer wat Zuma sy mond oopmaak gaan dit net nog slegter of elke keer wat hy vir Pravin aanvat daal die rand net nog meer nie. Terwyl ons in ‘n land sit met clowns wat NET na hulleself kyk, gaan dit nie help ek bekommer my dood oor die toestand in die land nie, wat moet ek nou daaraan doen. Niks wat ek doen kan die petrolprys laat daal of kospryse nie … ek shut up maar, verdien my geldjies en koop my eie kos, betaal my water en ligte en petrol . .Die spulletjie hou weer lekker nuwejaar met Franse Shampagne en kaviaar en ek worry my dood oor kospryse terwyl ek kyk hoe my tjoppie op die vuur braai? Neewat .. drink ‘n chill pil.

miv ·

Chillie, ek stem saam met jou. Die baie plaas- en ander moorde in ons land, wraak- en vergeldingsuitsprake van politici, die swak regering en die totale agteruitgang van alles (skole, hospitale, spoorweë, munisipaliteite, tronke, SAID, Eskom, Prasa, Verkeer, Lugdiens, waterinfrastruktuur, ens. in ons land, skrik buitelandse beleggers af. Alles in hierdie land gaan agteruit, word besteel en wanadministreer. Dit is net die huidige en ex ‘fat cats’ wat lekker lewe – ten koste van die belastingbetaler wat uitgemergel word met hoë belastings. Uitgawes word nie deur die wat gemagtig is, beheer of ingeperk nie. Die belastingbetalers is mos daar om die regering se boeke te laat balanseer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.