Swak matriekuitslae? Hier is jou opsies

(Argieffoto: pixabay)

Terwyl die meeste matrikulante ʼn sug van verligting kon slaak na die bekendstelling van die matriekuitslae hierdie week, is dit ongelukkig ook so dat sommige leerders nie matriek geslaag het nie.

Onderwyskenners is dit eens dat dit nie die einde van die wêreld hoef te beteken as jy matriek druip nie omdat daar steeds ʼn verskeidenheid opsies beskikbaar is vir studente om die situasie reg te stel. Leerders het die opsie om hul vraestelle te laat hermerk, sekere vakke oor te doen of die hele jaar te herhaal en só steeds hulle professionele drome na te streef.

Edu Connect en Career Planet, plaaslike webwerwe wat leerders en studente toerus met inligting oor loopbane, meen die eerste stap is om te bepaal hoekom jy nie matriek geslaag het nie. Was dit oor omstandighede buite jou beheer soos ʼn siekte of familieprobleme? Of is dit omdat jy gesukkel het of net nie hard genoeg vir jou matriekeindeksamen studeer het nie?

Wees eerlik met jouself sodat jy die regte volgende stap kan neem. As jy nie hard genoeg gewerk het nie, gaan jy jou gedrag moet aanpas en beslis harder moet probeer.

“Jy moet besef dat jy ekstra werk sal moet doen om die situasie reg te stel, maar jy kan steeds jou loopbaandrome volg, al neem dit net ʼn bietjie langer as wat jy gehoop het,” sê Horace Mpanza, besturende direkteur van die ADvTECH-groep se Abbotts Colleges.

Hermerk van vraestelle

(Argieffoto: pixabay)

Coleen Cronje, uitvoerende hoof van die afstandsonderrig verskaffer Breinlyn, meen die eerste stap sal wees om onmiddellik vir ʼn hermerk van jou vraestelle aansoek te doen.

“As jy vermoed dat daar fout is met jou punte, moet jy jou skool kontak en die toepaslike vorms vir die hermerk van jou vraestelle aanvra. Daar is wel koste verbonde aan die hermerk van ʼn vraestel; so maak seker dat dit iets is wat jy wel wil doen,” het Cronje gesê.

Die aansoeke vir die hermerk van vraestelle kan by jou skool of distrikskantoor van die departement van onderwys gedoen word en die sluitingsdatum vir hierdie soort aansoeke is 31 Januarie.

Herhaal gr. 12

Beide Cronje en Mpanza meen dit is ʼn goeie opsie om jou matriekjaar te herhaal as ʼn hermerk van vraestelle nie vir jou die gewenste resultate gaan lewer nie.

“Dit is ook ʼn goeie opsie vir leerders wat nie goed genoeg presteer het om vir hul gekose kwalifikasie te studeer nie. Onthou as jy beter punte behaal, verhoog dit ook jou kanse om tot ʼn bepaalde studierigting toegelaat te word. As die gedagte om terug te gaan skool toe te intimiderende is, kan jy matriek deur ʼn geregistreerde en geakkrediteerde private instelling voltooi. Maak net seker die akademiese reputasie van die instelling is uitmuntend en hulle is daarop gefokus om studente te help om hulle punte te verbeter,” sê Mpanza.

Herhaling van sommige vakke

(Argieffoto: Morné van Rooyen)

Gr. 12-leerders wat slegs in sommige vakke hoër punte benodig, hoef nie ʼn hele jaar te herhaal nie. In stede hiervan kan hulle deeltyds vir tot ses vakke inskryf.

“Goeie instellings sal leerders help om die regte besluit hieroor te neem. Die instelling sal na ʼn student se uitslae kyk en kan sien of daar nie ʼn bykomende vak is wat die student kan neem om hul totale punte te verhoog nie,” sê Mpanza

Skryf aanvullende vraestelle later in die jaar

“Dit is ook nog ʼn opsie, maar dit moet baie noukeurig oorweeg word.

“Jy gaan nie enige formele klasse kan bywoon wat jou kan help om die uitdagings te oorkom wat aanvanklik tot jou teleurstellende resultate gelei het nie. Dit beteken jy gaan uiters selfgedissiplineerd en gefokus moet wees om hierdie opsies vir jou te laat werk. Dit kan wel gedoen word, maar wees 100% seker van jou toewyding as jy besluit om hierdie roete te volg,” voeg Mpanza by.

Matriek deur afstandsonderrig

(Foto: Clay Banks/Unsplash)

Elbie Liebenberg, besturende direkteur van Oxbridge Academy, wat jaarliks meer as 20 000 Suid-Afrikaanse afstandsonderrig leerders bedien, meen die voordele daarvan om matriekvakke of gr. 12 deur afstandsonderrig te herhaal, is dat dit bekostigbaar is en jy kan dit in die gemak van jou eie huis doen.

Sy sê dit is egter noodsaaklik dat jy ʼn gerespekteerde, geregistreerde en geakkrediteerde instelling vind met ʼn reputasie vir gebruikersvriendelikheid en oor maklik verstaanbare leermateriaal beskik. Die instelling moet ook uitstekende tutorondersteuning bied wat telefonies en aanlyn beskikbaar is.

Cronje sê leerders wat besluit om gr. 12 deur Breinlyn te herhaal kan dit selfs doen terwyl hulle werk. “Die 21ste eeu het die weg gebaan vir ʼn alternatiewe vorm van onderwys wat met die nuutste tegnologie ondersteun word.”

Beroepsopleiding

Liebenberg meen ʼn beroepsgerigte kwalifikasie maak dat ʼn student maklik in diens geneem kan word omdat die soort kwalifikasie hulle toerus met spesifieke vaardighede en teoretiese kennis in velde soos byvoorbeeld kantoorbestuur, kindersorg, kleinsakebestuur, gasvryheid- en spyseniersingsbestuur.

Studente wat hierdie rigtings wil volg, het nie matriekvrystelling nodig nie en sommige instellings soos College SA bied nie-geakkrediteerde kursusse aan, wat jou tog nog ʼn hupstoot in die werksplek kan gee al het jy nie ʼn matrieksertifikaat nie.

Doen ʼn oorbruggingskursus

As jou matriekpunte nie goed genoeg was om jou toelating te gee tot die kwalifikasie van jou keuse nie, kan jy dit oorweeg om ʼn oorbruggingskursus by ʼn private instelling te doen.

“Maak net seker dat die oorbruggingskursus jou wel op die ou einde toegang tot jou voorkeurgraad sal gee deur met ʼn studente-adviseur by die instelling te gesels,” sê Mpanza.

Hoewel baie openbare skole jou nie sal toelaat om net ʼn paar vakke te herhaal of ʼn oorbruggingskursus te doen nie, kan jy by die volgende instellings vir raad en hulp aanklop:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

Ek ken twee jong mans. Die een het na matriek ‘n 4 jaar graadkursus gaan doen, met geleende geld en studie beurse. Na hy graad gekry het, het hy gesukkel om werk te kry, het teen ‘n baie lae salaris begin werk, en moes begin studieskuld afbetaal. Die tweede jong man se matriek uitslae was nie goed genoeg om te gaan swot nie. Hy het ‘n tweedehandse voertuig gekoop (ook maar ‘n “studie lening” as mens die situasies vergelyk). Hy het twee arbeiders aangestel, en begin om geysers te installeer. Hy het onmiddelik begin geld verdien, en is vandag, 4 jaar later, die eienaar van ‘n groot hardeware winkel met ‘n omset van so R180 000,00 per dag. Watter een van hierdie twee is die suksesvolste? Dis tyd dat ons “ernstige vrae” begin vra oor hierdie situasie, want daar’s miljoene jong mense daar buite wat dink ‘n “graad” is die “magic wand” tot sukses.

JO ·

Vir die wat will gaan by publieke of private Technical and Vocational Education and Training (TVET) College en doen Nated Vakke met die eind doel om’ n Government Certificate of Competence (GCC) ook genoem “Government Ticket” in Meganiese of Elektriese Ingenieurswese te behaal.

Daar is 6 Nated vlakke (Levels) N1/Gr10, N2/Gr11, N3/Gr12 dan N4, N5 en N6. Mens moet teminste 50% in 4 vakke behaal gewoonlik Wiskunde, Fisiese Wetenskap, Ingenieur Tekeninge en ‘n Ambag vak soos byvoorbeeld (Motorwerktuigkundige of Industriele elektronika) om’ n N-vlak te voltooi en een vak vat 10 weke om te voltooi.

Die wat N3 voltooi het, party maatskappye vra selfs net N2 kan aansoek doen om by ‘n Apprenticeship te beloop as byvoorbeeld Elektrisien of Dieselwerktuigkundige met die doel om na 2 jaar Appyship werkservaring die Section 26D Trade Test Certificate (Rooi Seal) te behaal en as Gekwalifiseerde Ambagsman of vrou te werk.

Gewoonlik met 2 jaar werkservaring as Gekwalifiseerde Ambagsman kan mens aansoek doen om die Government Certificate of Competence (GCC) eksamen af te le mits mens die nodige N-vakke en vlakke voltooi het, daar is 21 Vakke wat voltooi moet word op verskill ended vlakke.

Die Government Certificate of Competence eksamen bestaan uit 2 toetse 1. Health and Safety en 2.Fabriekworks of Mines as mens dit met 80% slaag is mens n Gekwalifiseerde Meganiese en/of Elektriese Ingenieur.

Ek noem dit maar net vir die wat die opsie sou intressant vind.

JO ·

@Gemaskerde Sopbeen ek sou saam met jou stem dat ‘n graad nie noodwendig n towerstokkie is tot sukses nie, maar ek wil wel se dat Matriek vir n feite vir die grootdeelse meerderheid is’ n eerste stap tot sukses is.

Die Brookings Institute in die VSA het navorsing gedoen en volgens hulle is daar 3 belangrike dinge wat mens moet doen om armoede te vermy:

1. Gradueer van hoerskool of te wel Gr12

2. Wag om te trou tot na 21 en nie kinders te kry voordat hulle getroud is nie.

3. Voltydse werk te hê.

In teenstelling hiermee het jong volwassenes wat al drie die norme oortree het – nie matriek geslaag het, voor 21 getroud het en kinders buite die huwelik gehad het en nie ‘n voltydse werk gehad nie, ‘n 76% kans om in armoede op gesluit te word en ‘n kans van 7% om die middel klas te bereik (Let wel as daar nog so iets is in Suid-Afrika)

Joan ·

Indien ‘n mens ‘n vraestel laat hermerk, weet iemand of jou punte minder kan wees as die oorspronklike?

Anoniem ·

Nee as dit laer sou wees behou jy jou oorspronklike punte. Al wat pla is dat jy jou geld terug kry AS jy punte bykry….wat my laat wonder of hulle werklik vir punte soek, want die geld is klaar in hulle geldkassie, wil hulle dit regtig weer terug gee! Ek sê HOU asb die geld, soek net punte. In volmaakte stelsel kan ek dit vertrou dat hulle bereid sal wees om punte te soek en geld terug te gee.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.