Swak onderhoud kry skuld vir brand by hospitaal

Die Charlotte Maxeke- akademiese hospitaal in Johannesburg was Vrydagaand in ligte laaie. (Foto: Twitter)

Die DA en VF Plus sê die Charlotte Maxeke- akademiese hospitaal wat die afgelope naweek in ligte laaie was, is  jare lank swak onderhou. Dit is die tweede brand vanjaar in ʼn Gautengse staatshospitaal, en die partye eis dat ondersoek ingestel word oor veiligheidsmaatreëls by al die staatshospitale.

Die brand het Vrydagaand in ’n apteek se pakkamer uitgebreek en vir byna 12 uur geduur voordat brandbestryders dit in bedwang kon bring. Teen Saterdagmiddag was byna 700 pasiënte reeds na ander hospitale oorgeplaas.

Dié 42 jaar oue hospitaal is Saterdagmiddag vir sewe dae gesluit om die skade van die brand te bepaal. Die departement is nog nie seker wat die brand veroorsaak het nie en sê hulle sal binnekort met ʼn ondersoek hierna begin.

Jack Bloom, DA-woordvoerder oor gesondheid, sê die hospitaal gaan jare lank al mank aan swak onderhoud. Volgens hom het die hospitaal deur die jare met gereelde waterlekke te make gehad en ʼn gedeelte van die plafon het in Maart 2017 ineengestort.

Verder blyk dit dat daar nie genoeg brandkrane by die hospitaalgebou was nie en dat water van elders verkry moes word.

Amanda de Lange, VF Plus-LPW: Gauteng, sê brandskade aan die Charlotte Maxeke-hospitaal kon waarskynlik beperk gewees het indien rookverklikkers, watersproeistelsels en brandkraan-koppelings behoorlik onderhou was.

“Die Johannesburgse brandweer moes watertrokke by die hospitaal ontplooi omdat verskeie brandkrane by die hospitaal buite werking was. Luidens berigte het rookverklikkers en watersproeistelsels ook nie na behore gewerk nie,” sê De Lange.

“Die nalatigheid van die hospitaal se bestuur om brandbestrydingtoerusting behoorlik te onderhou, het nie net die omvang van skade vergroot nie, maar ook mense se lewe in gevaar gestel.”

Bloom sê hoewel byna 700 pasiënte na ander hospitale oorgeplaas is en die hospitaal vir sewe dae gesluit is, vermoed hy dat sekere spesialisfasiliteite baie langer gesluit sal wees. “Kankerpasiënte sal die ergste ly omdat die onkologie-afdeling naby die parkeerterrein is wat ineengestort het. Duur bestralingsmasjiene is moontlik beskadig of moet vervang word,” sê Bloom.

Hy sê boonop het die Covid-19-krisis die wagtyd vir chirurgie verleng en duisende pasiënte sal nou nóg langer vir operasies moet wag. Hy wys ook daarop dat daar nou ʼn tekort aan mediese voorrade, insluitend persoonlike beskermende toerusting (PPE) en medisyne kan wees weens die brand wat pakkamers vernietig het.

Bloom is veral bekommerd dat groot dele van die hospitaal se struktuur deur die brand geraak is en dat die gebou nie veilig vir pasiënte is nie. Hy dring daarop aan dat die departement van infrastruktuurontwikkeling in Gauteng vinnig vasstel of die struktuur van die gebou in sy geheel veilig is voordat enige pasiënte weer in die hospitaal toegelaat word.

Die VF Plus het die Gautengse LUR vir gesondheid, dr. Nomathemba Mokgethi, versoek om ʼn volledige verslag aan die wetgewer se portefeuljekomitee vir gesondheid voor te lê oor die oorsake van die brand. Die party vra sy moet ook aandui watter stappe gedoen gaan word om soortgelyke toekomstige voorvalle by ander provinsiale hospitale in die provinsie te voorkom.

Die VF Plus dring ook daarop aan dat ’n ondersoek na die nodige voorsorgmaatreëls en noodplanne by ander provinsiale hospitale in die provinsie gedoen word om moontlike toekomstige tragedies te vermy.

Groot skade is in Februarie aan die Carletonville-hospitaal aan die Wes-Rand aangerig toe ’n brand beskermende mediese toerusting ter waarde van R23 miljoen vernietig het.

Luidens ʼn verklaring deur die Gautengse departement van gesondheid word al die pasiënte wat van die Charlotte Maxeke-hospitaal oorgeplaas is in ander hospitale in die provinsie geakkommodeer. Meeste van hierdie pasiënte se families is reeds hiervan in kennis gestel.

Intussen het departement verskeie maatreëls getref om ontwrigting van dienste by die hospitaal te verminder.

Die departement sê alle pasiënte wat geskeduleer is vir ʼn keisersnee of ʼn dringende operasie in Charlotte Maxeke moet ʼn dag voor die beplande operasie aanmeld by die Discoverers Community-gesondheidsentrum in Florida, in die weste van Johannesburg. Alle voorgeboortedienste word in die Rahima Moosa- hospitaal in Coronationville in Johannesburg aangebied.

“Alle ginekologiese operasies sal in die South Rand-hospitaal in die suide van Johannesburg plaasvind. Ginekoloogafsprake sal ook in dieselfde hospitaal plaasvind. Hierdie pasiënte sal gekontak word en nuwe afsprake sal geskeduleer word,” sê die departement.

Pasiënte wat chroniese medikasie moet kry, kan hul voorskrifte na die naaste hospitaal of kliniek neem en hul voorskrifte daar kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Nie Verbaas

Geen of swak onderhoud. Weereens mooi so ANC. Niemand kan sover dink dat lewens dalk op die spel kan wees nie.

Pieter

Niks snaaks nie daar waar die ANC is val als uit mekaar.

Stephan

Die ANC-appelkarre val deesdae verwoed om.
Raak nou ontslae van hulle, dis tyd om te begin werk.

Feite

Dis nie al wat instandhouding in daardie hospitaal nodig het nie. My skoonsuster is daar onder sulke haglike omstandighede verwaarloos dat sy al ure heen gegaan het voordat enigiemand iets agter gekom het. Net amazing hoe al hierdie first class hospitale oor gegee is aan mense wat net nie trots in hulle harte het om om te gee oor hulle werks plek en ander mense nie. Dis n siekte wat besig is om die wereld te verswelg.

Sarel

Die Bestuur is verantwoordelik…Het ‘n Hospitaal nid meer ‘n Raad nie. Vat net en dis al