Swak opgeleide polisielede kos jou R2,2 miljard in siviele eise

(Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Die Demokratiese Alliansie het onthul dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens sedert 2018 reeds meer as R2,2 miljard uitbetaal het in siviele eise vir onbillike inhegtenisnemings en aanhoudings.

Die minister van polisie, Bheki Cele, het in reaksie op ʼn parlementêre vraag onthul dat die SAPD onder sy bestuur in die afgelope boekjaar vergoeding in siviele eise oorbetaal het gelykstaande aan meer as sy hele begroting vir forensiese laboratoriums, byna ʼn derde van sy begroting vir misdaadintelligensie en byna ʼn kwart van die begroting wat toegeken is vir grensveiligheid.

“Trouens, die SAPD het ʼn 52%-toename gesien in siviele eise oor vyf boekjare. Dit stem ooreen met die ampstermyn van minister Cele,” sê Andrew Whitfield, die DA se skaduminister oor polisie. Dit strek van meer as R356,2 miljoen in 2018/2019 tot meer as R541,7 miljoen in 2022/2023.

“Om sake te vererger, wil dit voorkom of ooreenkomste die afgelope drie kwartale van 2023/2024 reeds R406 miljoen behaal het. Om hierdie getalle in perspektief te stel: Sedert 2018 kom dit neer op spandering van meer as R1 miljoen elke enkele dag.”

Whitfield sê dit is baie duidelik dat die minister ʼn SAPD bestuur wat nog nooit só min personeel, geld of opleiding gehad het nie.

ʼn Gebrekkige reserviste-afdeling het 93,3% minder personeel as ʼn dekade gelede. Daar is ʼn kritieke tekort aan speurders landswyd. Die polisie se reaksietye laat burgers gestrand en hulpeloos. In die operasionele personeelkomponent is daar minder polisiebeamptes as in 2019. “Dit is die minister se nalatenskap, of gebrek daaraan.”

Whitfield sê die getalle is nie net ʼn bewys van ʼn skokkende vermorsing van belastingbetalers se geld wat bedoel is vir ware polisiëring nie, maar werp lig op die gevaar van die verrotting wat bo begin en sy pad ondertoe gewerk het. “Suid-Afrikaners is nie eers veilig by die polisie wat veronderstel is om hulle te beskerm nie.”

Whitfield sê die DA-geleide regering sal die SAPD weer bekwaam maak, dissipline terugbring en die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) versterk om vinnig polisiebeamptes te hanteer wat oortree. “Die DA sal ontslae raak van opgeblase senior bestuur en seker maak ʼn merietegebaseerde stelsel word ingestel vir bevordering en aanstellings. Die DA kan Suid-Afrikaners red deur die misdaadkoers te halveer en ʼn veiliger Suid-Afrika vir almal te bou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Anel ·

Vergelyk bietjie dit met voor 1994. Kyk ook bietjie hoeveel ander rasse in diens geneem word. Daar word altyd gesê blankes, indiers en bruinmense doen nie aansoek nie. Maar gaan kyk bietjie hoeveel word nie eers na die eerste stap genooi nie. En hoeveel van hierdie ander het werklik die psigometriese toetse geslaag? Hoe is dit dan dat daar soveel eise in gedien word? Die wat regte geroepe word om die werk te doen, word oorgesien want hulle is te eerlik!!!!!!

Papsak ·

Ja klomp onbevoegde polisiemanne en wie moet betaal belastingbetaler se geld so operate regering mos dit is hoekom misdaad so toe neem kyk hoe lyk polisiemag !!!!!!

Danie ·

Siviele eise die sapd skrik nie daarvoor nie.Hoekom nie?Want hulle betaal dit nie.Jy en ek betaal die eise.

Melissa ·

Hier is weer vanoggend by my in gebreek. Die security guard vra of hulle die polisie kan uit stuur toe sê ek nee want die polisie kla al omdat hulle heeltyd na my huis toe moet kom want volgens hulle kan hulle niks doen nie

Melissa ·

Ongelukkig vir die polisie moet hulle maar weer uit kom want ek het “weer” n saak nommer nodig.

Protea ·

Dis nie altyd die lede nie. Arrestasies word afgeforseer voor ondersoek gedoen is.

trotsNAMSA ·

Daar moet gekyk word wie sit agter kantoor tafels en niks doen nie. Bevelvoerders moet meer betrokke raak by haar/sy lede en leiding gee.

Wondermaarnet ·

Wat verwag die SAP as die mense wat opleiding gee self onbevoeg is?

Johan ·

Weer eens: n Snoek vrot van sy kop af. Swak president stel swak ministers aan wie dan weer swak bestuur op senior vlak aanstel en so vrot dit verder af tot op grondvlak.

Eugene ·

Verstaan nie hoe en hoekom ons as belastingbetalers moet “pa staan” vir ‘n ander individu se gemors en kriminele aktiwiteite en onbevoegdheid nie….as ek in my privaat hoedanigheid aanjaag, word EK gedagvaar of vermaan. Niemand kan nie dan omdraai en reken dat ek nou nie die nodige opleiding gekry het nie en dis die rede dat ek “A, B of C” gedoen het nie.

Hoed-man kan sekerlik in sy privaat hoedanigheid “pa staan”…as kwansuiste “hoof” en aanspreeklike/verantwoordelike persoon wat kwansuis alles oorsien ?
En so ook die goewerment aan die hoof van sake?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.