Swak rand: ‘SA’ners word armer’; Roodt gee raad

‘n Volledige onderhoud en video volg onderaan die berig.

Argieffoto

Argieffoto

Die rand het Maandag gelyktydig sy laagste vlak in die geskiedenis behaal teenoor die vernaamste geldeenhede. Dit beteken net een ding vir die man op straat: Suid-Afrikaners raak armer.

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group, het gesê die wêreld se finansiële markte en ekonomieë is op ʼn baie onstabiele plek in dié stadium. “Daar is baie probleme in Europa, Amerika en ook in China.”

Volgens Roodt is die wêreldekonomie omvergegooi deur China se aandelebeurs wat so ’n paar weke gelede onder druk begin kom het en die land wat later sy geldeenheid gedevalueer het. “Chinese markte het skerp begin daal, so ook Amerikaanse markte en die wisselkoerse, en die Suid-Afrikaanse rand het daarop gereageer.”

Roodt het gesê die Suid-Afrikaanse ekonomie is ook nie die “gesondste ekonomie” in dié stadium nie. “Ons is in ʼn situasie waar die senuwees internasionaal maar baie rou is en niemand wil risiko’s waag nie. Almal hardloop na ʼn plek waar hulle veilig voel en Suid-Afrika is seker nie een van daardie plekke waar hulle veilig voel nie.”

Op ʼn vraag aan Roodt oor die invloed van die rand se wisselvalligheid op Jan Alleman se sak, het hy gesê daar is twee kanale met ʼn invloed op die Suid-Afrikaanse ekonomie. “Die eerste het te doen met die reële ekonomie. Dit is die plek waar ek en jy werk, asook fabrieke bedryf en handel gedryf word. In Suid-Afrika gaan ons minder uitvoer en sake doen, met ander woorde die man op straat se werksgeleenthede en salarisverhoging gaan waarskynlik nou so ietwat gekortwiek word as gevolg van die onlangse verwikkelinge. Die ander kanaal is die finansiële markte. Die rand het sterk gesak wat beteken ingevoerde produkte soos olie gaan begin styg in waarde of prys, die inflasiekoers gaan styg en die Reserwebank gaan later rentekoerse moet verhoog.”

Roodt het gesê as die rand verswak, beteken dit eenvoudig dat Suid-Afrikaners armer word. “Alles gaan nou duurder word, want alles word volgens internasionale terme geprys. Die vooruitsigte vir ekonomiese groei en werkskepping is nou swakker weens die onlangse krisis wat ons ervaar het.”
Volgens Roodt is daar nie veel wat die individu aan die situasie kan doen nie, maar ʼn behoorlike finansiële plan kan wel as buffer optree. “Wat vir my eintlik die hartseerste is, is dat individue altyd wag vir die een of ander krisis en dan vra: Wat moet ek nou doen? En dan eers begin hulle die regte dinge doen soos om te begin begroot, spaar vir aftrede en allerhande wonderlike en goeie planne maak. Maar wanneer die goeie tye weer terugkeer, dan waai die goeie planne by die venster uit en ons vergeet daarvan.”

Roodt het gesê indien iemand reeds ʼn goeie finansiële plan gereed het, hoef daar nie veel aanpassings in uitdagende tye gemaak te word nie aangesien die plan reeds voorsiening maak vir onvoorsiene uitgawes. “Die beste is om ʼn behoorlike finansiële plan te kry wat ʼn begroting en aftreebeplanning insluit.”

Roodt is nie baie optimisties oor die Suid-Afrikaanse ekonomie se vooruitsig nie. “Wat ons die afgelope tyd gesien het, was besonder wisselvallige finansiële markte en in ʼn erger scenario is daar ongetwyfeld die moontlikheid dat die wêreldekonomie ʼn resessie kan ingaan. Dit is ʼn erge scenario, maar ek dink nie ons is al daar nie. Indien dit gebeur, kan die Suid-Afrikaanse ekonomie ook ʼn resessie ingaan met al die nare gevolge daaraan verbonde. Ek dink ook nie ons is al daar nie. Die waarskynlike scenario gaan wees dat die wêreldekonomie stadiger gaan groei en dat wisselvalligheid en onsekerheid ʼn tyd lank met ons gaan wees.”

Die volledige onderhoud met Dawie Roodt:

Die onderstaande insetsel is deur eNuus vervaardig. Kyk eNuus elke aand om 19:00 op kanaal 144 en 145 op DStv.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Rynhardt ·

DIE rand gaan nog swakker word met wankelende markte!SA het geen ekonomiese raamwerk nie.Die ekonomie ir reeds vernietig deur die Anc.Voor die einde van 2015 is die rand se kans baie goed om R14 of meer te verhandel teenoor die dollar!Ons geld gaan nog swakker en swakker word,wat ekonome versuim uit te spel!Neem in ag dat die wereld se skuld beloop op meer as $76triljoen en Amerika s’n meer as $18triljoen waaruit hulle nie kan kom nie.Dit het alles n direkte impak op SA!Dinge eindig egter nie hier nie.Op 13 en 28September verskyn die bloedmane.Bloedmane het n akkurate geskiedenis met Bybelse profesie wat oor eeue strek.In 2008 het bloedmane verskyn toe die finansiele krisis begin het,wat juis deur die nuwe wereldorde en wereldleiers geskep was.Op 13 of 28 September gaan iets skokkend gebeur.Gaan dit die val van die markte wees of iets anders?Net tyd sal leer,maar die val van markte is baie naby as wat ons besef.Die gebeurtenis in September gaan beslis n groot impak op SA en wereld he,waarvan bitter min mense bewus is.Die volgende bloedmaan verskyn eer oor 400 jaar,dan is ons almal in n ander wereld.Ons kan maar gereedmaak vir duurder kos en goedere voortaan terwyl Zuma en kie geen planne van regruk het met die SA ekonomie nie.

Kwagga ·

Ek wil nou nie snaaks wees. Hieride artikel en kommentaar help my blou bogger rol.
Regtig waar ons almal weet alles gaan duur der word dis klaar duur. Ons sit geld weg vir n pention wst nou al klaar kinder werd is. Dit maak nie saak wat jy doen die Rand se koop waarde word net minder. Ek spaar en spaar is al blou gespaar. Nou gaan ek maar eerder verder braai.

Elize Louw ·

Julle kan alles hang aan wereldekonomie ens ens bla bla bla. Die antwoord – hou op steel, mense aanstel wat nie bevoeg is om die werk te doen nie, korrupsie, miljoene rande betaal aan bonusse vir mense wat niks werd is nie, maak goed reg wat gebreek het, onderhou reeds gevestigde strukture (die wat julle nie reeds tot in die grond in vernietig het nie) en so kan ek aangaan en aangaan

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.