Swak rapport vir meeste provinsies

Argieffoto.

Die parlement het die voorlopige rapport van die finansiële toestand van die nege provinsies saamgestel en met die uitsondering van die Wes-Kaap (wat baie goed lyk) is sake absoluut beroerd.

Charel de Beer (ANC, Noord-Kaap), voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies se gekose komitee oor finansies, waar die konsepverslag gedien het, het benadruk dat dit nog nie ʼn finale of amptelike verslag is voordat dit skriftelik deur die parlement gepubliseer is nie.

Maar die syfers spreek vir hulself, en is ʼn samevoeging van voorleggings aan die komitee deur die nasionale tesourie en die nege provinsiale tesourieë.

In die Wes-Kaap – die enigste provinsie onder opposisiebeheer – lyk die posisie kerngesond. Dit is die enigste provinsie waar die nasionale tesourie geen rooi vlae uitgesit het nie.

In die Oos-Kaap flikker die helderste rooi ligte in die onderwysstelsel, met die meeste onderwysers ouer as 50 jaar. Daar gaan dus binnekort ʼn reuse-tekort aan onderwysers in die provinsie wees.

Die kwaliteit van nuwe infrastruktuur wat in die provinsie opgerig word, is swak weens swak handewerk, swak bestuur en oorsig, en swak vaardighede. Die provinsie maak ook al meer van konsultante gebruik en die provinsie betaal nie sy skuld betyds nie, met slegte gevolge vir kleinsake-ondernemings.

In die Noord-Kaap is die provinsiale gesondheidsdepartement op sterwe na dood. Die provinsie betaal oor die algemeen nie sy rekeninge betyds nie, wat druk plaas op private maatskappye.

Boonop bestaan daar nie die vermoë in die provinsiale staatsdiens om behoorlik toesig te hou oor projekte nie, sodat projekte sloer en deur swak vakmanskap en gebruik van konsultante gekenmerk word.

Daar is geweldig baie wanbesteding in byna alle Noord-Kaapse provinsiale departemente.

Noordwes is die enigste provinsie waar sake só tot stilstand knars dat onderwysbesteding oor die algemeen verminder eerder as vermeerder het. Die provinsie het wel – verstommend genoeg – heelwat kontant in die bank.

Gauteng se posisie is, naas die Wes-Kaap, die beste. Die grootste probleem is in die departement van gesondheid, waar ʼn voortdurende verandering in senior bestuur dit moeilik maak om veranderinge deur te voer, en waar regseise teen die departement weens nalatigheid skerp toegeneem het.

Gauteng is so onbetroubaar wat die betaling van rekeninge betref dat die nasionale tesourie bevind kleinsake-ondernemings kan as gevolg daarvan bankrot speel.

Limpopo is besig om sy onregmatige besteding in te kort, maar nie-betaling van provinsiale rekeninge hou ernstige gevolge vir ontluikende ondernemings in, met enorme onregmatige besteding wat egter steeds in die provinsiale departemente van onderwys en gesondheid voorkom.

Al hoe meer suksesvolle regsaksies word teen die provinsiale gesondheidsdepartement ingestel met betrekking tot nalatigheid, tot so ʼn mate dat dit Limpopo se geldelike posisie begin beïnvloed.

Die verspreiding van medisyne word só swak bestuur dat R6 miljoen se medisyne vernietig moes word omdat die vervaldatum bereik is.

In Mpumalanga is die gesondheidsdepartement eweneens ʼn groot sondaar. Die gesondheidsdepartement se uitstaande skuld het vanjaar meer as verdubbel: van R661 miljoen tot R1,4 miljard.

Al meer suksesvolle regsoptrede word teen Mpumalanga se departement van gesondheid ingestel, met slegte gevolge vir die provinsie se geldelike posisie.

Miskien is die mees omvattende bron van kommer in Mpumalanga dat die finansiële vooruitskattings so swak is dat dit min verband met realiteit toon, wat beplanning haas onmoontlik maak.

Die Vrystaat se grootste probleem is eweneens in die gesondheidsdepartement, waar ‘n groot getal permanente kliniese personeel bedank het en deur tydelike werkers en konsultante vervang is. Suksesvolle regsoptrede teen die Vrystaatse gesondheidsdepartement is aan die toeneem.

Die Vrystaatse onderwysdepartement se kontantbestuur is so swak dat ʼn tekort van 59% aan leermateriaal en onderwysersopleiding aangeteken is.

KwaZulu-Natal se finansiële posisie bly verbeter, deels omdat die provinsie goed vaar met belastinginvordering en sy rekeninge al meer getrou betaal.

Daar is egter groot uitdagings. Hiervan is instandhouding van mediese toerusting en ʼn uitvloei van mediese kundigheid dalk die belangrikste. ʼn Ander groeiende las op die provinsiale skatkis is die vergoeding van hoofmanne (izinduna) wat nou al sowat R800 miljoen meer bedra as waarvoor begroot is.

Die gekose komitee is dus oorkoepelend veral bekommerd oor die provinsiale gesondheidsdepartemente, veral in Limpopo en die Noord-Kaap, en veral met betrekking tot groeiende regskoste.

Die laat betaling van provinsiale rekeninge en die oorbesteding aan izinduna in KwaZulu-Natal is deur die komitee as ander hoofpunte van kommer uitgelig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Theresa B ·

My tyd – ek wonder hoekom? Dit gaan dan so great in ons land……………………….

Anél ·

Meeste Provinsies????? AL DIE PROVINSIES BUITEN DIE WES-KAAP!!!!
Regtig!!!!

John ·

Hoekom nie die Zoeloe-koning as landsleier aanstel nie. Hy sal die izinduna’s rehabiliteer en ten minste die baie base in die land aarde toe bring. Dan is daar net een leier wat geld blaas. En al die grootbekke sal buite die hoofkraal moet opsnork tot hul nukke bedaar en die baie optogte… Wat van ‘n nee, gaan werk.

IK ·

Veels geluk, so sal die juk van apartheid volledig losgemaak word. ‘Freedom’ en armoede lê net om die draai, VIVA!!

Callie ·

Hoekom probeer mense aan BEE voldoen. Magtig mense, dink logies. Jy kan dan met die staat besigheid doen. Hoekom wil jy met die staat besigheid doen, jy gaan nie betaal word nie. So los dit. Dis net die tenderpreneurs wat saam met die ANC bedrog pleeg wat met die staat besigheid doen.

Waldo ·

Ek vermoed dis in elk geval hoofsaaklik swart besighede wat met die staat besigheid doen. So laat hulle gerus bankkrot speel.

Anoniem ·

Dinge in die Wes-Kaap werk nog reg omrede dit reg bestuur word. Vieslike klap in die ANC se gesig dat die res van die land waar hulle in beheer is ‘n totale gemors is. Dis hoekom die ANC alles in sy vermoë doen om die Wes-Kaap onregeerbaar te maak, dis mos moeilik om te erken as jy ‘n mislukking van iets maak.

Daantjie in die kallerhok ·

Nuks nuut nie, die verot is so diep dat dit nie omgekeer of gestop kan word nie. So veryk en wanbestuur die staat amptenaare. Geldjies sal nog heeltemal opdroog en dat vat hulle maar net die volgende ding(grond) en so sal dit aanhou. Sirkus –

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.