Swak verkeersbestuur dra glo by tot stadionrooftogte

Beeldmateriaal van kringtelevisiekameras by die motorhawe het opgeduik waarop gesien kan word hoe mense beroof en aangerand word.

Johannesburg se metropolisie sê hulle het ʼn interne ondersoek begin ná aantygings dat die verkeerbestuursplan nie streng uitgevoer is tydens die Global Citizen-fees in die FNB-stadion tien dae gelede nie.

Vyftien mense is aangekeer en 50 klagte ingedien nadat tientalle konsertgangers beroof en aangerand is by ʼn nabygeleë vulstasie terwyl hulle ná die sterbelaaide konsert op saamrygeleenthede gewag het.

Bheki Cele, polisieminister, het verlede week gesê ʼn omvattende polisiëringsplan is vooraf opgestel, maar weens “onvoorsiene omstandighede”, onder meer “ʼn totale ineenstorting van verkeersbestuur” en die feit dat druk verkeer op mobiele netwerkte tot swak selfoonontvangs gelei het, het gemaak dat mense na die Sasol-motorhawe is om van daar af saamrygeleenthede te kry en vir taxi’s te wag.

Michael Sun, lid van Johannesburg se burgemeesterskomitee vir openbare veiligheid, sê die metropolisie was verantwoordelik vir verkeersbestuur ingevolge ʼn meesterplan wat die geleentheid se beplanningskomitee vir veiligheid en sekerheid opgestel het.

Hy sê die oorkoepelende beplanning en beheer van die geleenthede was die SAPD se verantwoordelikheid. Volgens hom het die meeste metropolisiebeamptes van 06:00 op die dag van die konsert tot 07:00 die volgende oggend met genoegsame toerusting vir diens aangemeld.

“As die stad se regering moet ons verantwoordelikheid vir inwoners aanvaar en sal ons nie op die geraaswa van vingerwysery of verkwaliking spring nie,” het Sun gesê. “Tog moet daarop gelet word dat berigte opgeduik het dat toerusting vir padsluitings en omheinings nie betyds op die oggend van die geleentheid opgedaag het nie.”

Hy sê die stadsraad is besorg oor ʼn bewering dat die presidensiële beskermingsdiens die metropolisie se voertuigtoegangsbeheer geïgnoreer het, wat verder tot verkeersknope bygedra het.

Volgens Sun het die interne ondersoek begin omdat die stad wil bepaal wat gebeur het en hopelik “waardevolle lesse” leer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

marous ·

Absolute twak . Kriminele wat die land oorheers met die goedkeuring van die regering is die oorsaak .

Ans ·

Altyd ‘n verskoning vir absoluut alles wat in hierdie land verkeerdloop. Al soooo siek daarvan!! Bring ‘n strafstelsel – spoedig!!

flip ·

hierdie is n pot snot……om die minste te se…..so as dinge nie jou way gaan …..gee dit jou die reg om te plunder en roof…..SKANDE MAN!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.