Swanger Bloem-ma se raaiseldood: ‘Daar lê ʼn lang pad voor’

Adéle en JB Heckroodt. Foto: Facebook

Adéle en JB Heckroodt. Foto: Facebook

Daar is nog geen verduideliking wat presies die onverwagse dood van Adéle Heckroodt, die voormalige Vrystaatse netbalspeler en Bloemfonteinse ma, veroorsaak het nie.

Adéle (33), die vrou van die voormalige Cheetah en Vodacom Leeus-rugbyspeler, JB, is Dinsdag in die Mediclinic Bloemfontein oorlede nadat sy Sondag 29 November opgeneem is. Sy was 21 weke swanger met haar en JB se derde kind. Adéle is ’n paar dae later na die waakeenheid geskuif nadat haar toestand begin versleg het, waar sy aan ʼn asemhalingsmasjien gekoppel en in ʼn geïnduseerde koma geplaas is.

Jehan Heckroodt, JB se broer, het aan Maroela Media gesê ʼn virusinfeksie het veroorsaak dat Adéle se organe ingegee het en sy is Dinsdagoggend dood. “Hulle het baie toetse gedoen terwyl sy in die hospitaal was, maar ons weet nou nog nie watter virus sy gehad het nie. Die dokters weet ook nie presies wat dit was of hoe sy dit opgedoen het nie. Ons weet net sy is aan orgaanversaking dood,” het hy gesê.

“Dit is so ʼn groot raaisel, want Adéle was so gesond. Sy was aktief en fiks, het nie gerook of gedrink nie. Sy het gereeld aan hierdie park runs deelgeneem. Sy is die laaste mens wat jy sou dink so siek sou word.”

Volgens Jehan sukkel JB om die dood van sy vrou te verwerk. “Hy is maar op en af, maar ek dink die werklikheid begin hom nou regtig tref. Dit is Kerstyd, ʼn tyd wanneer ons altyd almal as familie bymekaar is en vir mekaar geskenke koop. In hulle huis staan die geskenke nog wat Adéle al klaar gekoop het, maar nooit toegedraai het nie. Ons weet daar is nog ʼn baie lang pad wat voorlê.”

Hy sê die familie sal Adéle altyd onthou as ʼn vrou wat vir haar man en kinders geleef het. Die egpaar het ʼn dogter, Ubré (8), uit JB se vorige huwelik, asook Jozua (3) en Leané (1). Die seuntjie wat op pad was, sou WD geheet het, vernoem na Adéle se pa.

“Adéle was ʼn wonderlike, positiewe mens met ʼn ongelooflike energie. Sy het nie teruggehou nie; as sy iets wou doen, het sy dit gedoen. Jy het haar nooit hoor sleg praat van ander nie. Almal wat met haar te doen gehad het, was lief vir haar en het van haar gehou. Sy het regtig voluit geleef.”

ʼn Roudiens vir Adéle sal Vrydag om 10:00 by die Hugenote kerk in Bayswater, Bloemfontein, gehou word. ʼn Privaat verassing sal daarna plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Gesiggie ·

Ek sluk swaar aan n knop in my keel….. Dit is Kerstyd… en almal moet as n gesin bymekaar wees… ek kan net dink hoe hartseer dit vir almal moet wees… en hoekom as sy so n gesonde mens was?? ons sal nooit die weg van die lewe verstaan… en nog swanger ook… ? Sterkte aan die Familie en vriende en aan jou JB… Mag Jesus jul styf vashou en vertroos…en al jou vrae beantwoord… Onthou haar vir die goeie mens wat sy was…..

Maritsa ·

Die is so hartseer en as iemand wat weet wat dit is om kerstyd sonder hul geliefdes te wees is dit vir my altyd ekstra tragies. Sterkte JB, dink aan jou en die kinders. Shame 1 jaar oud is maar nog so klein om sonder ‘n ma te wees.

Tascha ·

Dit is bitter hartseer. Ai my hart is so seer vir hierdie gesin! Mens kla so vinnig wanneer iemand jou te na kom maar wanneer mens so iets lees kan mens nie help om te besef hoe geseënd jy regtig is nie.

Inge ·

Ek is regtig jammer om dit te hoor. Ek het my pa 8 jaar terug net voor Kersfees verloor en dit was ‘n verskriklike skok. Ek het hom die oggend gesien en die aand was hy weg… die leemte wat daar is kan nooit gevul word. Ek wens julle familie sterkte toe en die arme ou kindertjies…

Hanlie ·

Dit is so verskriklik hartseet. Sterkte vir Pappa, die kinders en familie.

EMK ·

Laat beslis outopsie doen – ek vertrou GEEN hospitaal meer. Sy was dalk siek ja, maar kon sekerlik sieker geword het van swak sorg by hospitaal, wie weet! Weet dit sal haar nie terugbring nie, maar doen dit! Ek dink aan julle in jul moeilike tyd. Sterke.

Fanie ·

Ja ag dit is baie hartseer!! En dat die dokters nou nie eers weet watse virus dit is wat dit veroorsaak het nie. Ons het nou onlangs van dieselfde geval kennis geneem. ‘n Onbekende virus wat eers die rug aangeval het, en toe die organe!! Is dit nou ‘n nuwe virus wat die rondte doen? En dit was nou in Augustus/September gewees. Die dokters het toé ook nie geweet watse virus dit is/was.
Sterkte aan die Familie!!

Ronell ·

Daar is ‘n virus in hospitale wat hulle a (Superbug) noem, geen antibiotika stop dit nie. My vriendin het dit gekry toe hulle a bi-opsie gedoen het in haar longe en a paar dae later is sy ook dood.

jacqueline ·

n virus kan nie met antibiotika behandel word nie slags n bakteria kan daarmee behandel word. so as dit n virus was sou niks gehelp het nie. my pa is laasjaar oorlede aan septisemia en nierversaking ook die superbug of bakteria opgetel hulle kon hom nie help nie. so jammer vir julle verlies.

M ·

Die lewe loop baie snaakse draaie met n mens wat ons nie altyd verstaan nie. Baie sterkte aan hierdie familie. Hierdie tipe goed is maar baie sleg en mens het nie veel woorde nie.

Esther Coetzee ·

Dis werklik tragies. Mens het eintlik nie woorde nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.