ʼn 24-jarige man van Limpopo is in hegtenis geneem nadat hy glo sy swanger meisie en haar ma vermoor en ʼn vriend se huis aan die brand gesteek het.
“Die voorval het Donderdagaand by Mkwazini naby Letsitele plaasgevind,” het kol. Ronel Otto, woordvoerder van die polisie in Limpopo, in ʼn verklaring gesê. “Die verdagte is na sy meisie, Tinyiko Matlaahule (20) se huis waar hulle begin stry het voor hy haar met ʼn mes doodgesteek het. Sy was sewe maande swanger.”
Die verdagte het ook haar ma, Rachel Hlangwani (58) aangeval en met die mes doodgesteek.
“Al twee vroue is op die toneel dood, maar Matlaahule is na ʼn hospitaal gehaas in ʼn poging om die baba te red. Dit was egter tevergeefs,” het Otto bygevoeg.
Die verdagte is daarna na ʼn vriend se huis waar hy ʼn brand gestig het. Volgens inligting het die man en die vriend oor geld gestry. Niemand is in dié voorval beseer nie, maar die tweeslaapkamerhuis is heeltemal vernietig in die brand.
Lede van die gemeenskap en die polisie het saam gewerk om die verdagte op te spoor. Hy is Donderdagaand aangekeer. Hy word glo ook gesoek in verband met verskeie huisbrake in die Letsitele-gebied.
Hy sal na verwagting Maandag in die hof verskyn op aanklag van moord en brandstigting.
As die vark toegesluit was vir al sy onwettige optredes soos dit hoort sou so iets mos nou nie gebeur het nie………………….maar ja daar het S.A nog n Ma en kind en Ouma in die steek gelaat baie dankie vir niks!