ʼn Swanger vrou is in ʼn kritieke toestand nadat sy Woensdagoggend vier verdiepings ver geval het op ʼn bouperseel.
Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê die voorval het in Town Bush-weg in Chase Valley, Pietermaritzburg, gebeur. Die vrou, wat vermoedelik ʼn werker op die perseel is, het glo gegly en steierwerk getref soos sy geval het.
“Toe paramedici op die toneel opdaag, het hulle die vrou langs die steierwerk aangetref met ʼn groep werkers om haar wat die voorval gesien het. Sy het ʼn ernstige kopbesering opgedoen en haar rug erg beseer,” het Meiring gesê. Die vrou is glo ongeveer twee maande swanger.
Sy is gestabiliseer en na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas. Meiring kon nie bevestig of die vrou se ongebore baba tydens die voorval beseer is nie en het gesê ʼn skandering sou by die hospitaal gedoen word om dit te bepaal.