Swanger vrou se moord moes soos selfmoord lyk

Tshegofatso Pule (Foto: Twitter)

Tshegofatso Pule (28) se kêrel het Maandag in die landdroshof in Roodepoort aan die Wes-Rand verskyn in verband met haar moord.

Ntuthuko Ntokozo Shoba (32) word daarvan beskuldig dat hy die 31-jarige Muzikayise Malephane gehuur het om sy swanger vriendin te vermoor in ʼn poging om haar swangerskap van sy vrou weg te steek.

Shoba staan ​​tereg op aanklagte van moord, sameswering tot moord en regsverydeling.

Maroela Media het vroeër berig Pule, wat agt maande swanger was, se liggaam is in Junie verlede jaar met steekwonde en opgehang aan ʼn boom in Roodepoort aangetref. Sy is twee weke vantevore die laaste keer gesien toe sy in ʼn taxi geklim het wat Shoba vir haar gereël het.

Die 31-jarige Muzikayise Malephane is kort daarna in hegtenis geneem in verband met die moord. Malephane het Vrydag skuld beken op Pule se moord en is tot 20 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy ʼn pleitooreenkoms met die staat aangegaan het.

Hiervolgens het hy onderneem om teen Shoba, wat hy as die baasbrein agter die moord geïdentifiseer het, te getuig. Hy het saam met Shoba skoolgegaan en is glo R70 000 aangebied om Pule te vermoor.

Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag in Gauteng, sê Malephane beweer die aanvanklike plan was om Pule aan ’n brug in Maraisburg op te hang en haar telefoon te neem om ’n selfmoordboodskap op haar WhatsApp-status te skryf.

Volgens Malephane het die eerste aanslag op Pule se lewe egter misluk aangesien sy nooit opgedaag het vir ’n werksonderhoud by ’n restaurant langs Gold Reef City waar Shoba met Malephane gereël het om haar op te laai nie.

Malephane het Pule toe op 4 Junie by Shoba se huis opgelaai onder die voorwendsel dat hy ʼn Uber-bestuurder is. Hy het “op ʼn donker plek” stilgehou en Pule geskiet. Hy wou dit egter steeds na ʼn selfmoord laat lyk en het na Durban Deep gery, waar hy haar aan ʼn boom opgehang het.

Die saak teen Shoba is tot 1 Maart uitgestel. Hy sal na verwagting dan aansoek om borgtog doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Alta Alleman

Hy skiet haar eers en hang haar dan aan ‘n boom. Dit moes na selfdood lyk???

Nicci

Hoe in sy lewe het hy gedink gaan hy wegkom hiermee. As iemand selfmoord pleeg, skiet hulle nie eers hulself en dan hang hulself op nie!

Jakes

Die vrou is gewetenloos vermoor en dan was sy nog swanger ook. Die moordenaar was beslis nie baie slim nie want sekerlik sal iemand wat selfdood beplan nie haarself eers met n mes steek en dan ophang nie. Hoop haar kerel vrot in die tronk.

Mira

Dit is die domste moordenaar ooit!!

Estelle

Die berig se sy is eers gesteek (steekwonde), en later praat dit weer van geskiet. Was sy dus gesteek en geskiet? En hy wou dit nog na selfmoord laat lyk!!!