Swart én wit benadeel  deur departement se kwotastelsel

AfriForum en Solidariteit se regspanne. (Foto: Mia Slabbert)

Uitspraak in die hofsaak van Solidariteit en AfriForum teen die departement van toerisme is vandag in die Noord-Gautengse hooggeregshof voorbehou. Die uitspraak sal binne die volgende week per e-pos aan die betrokke partye gelewer word.

Dít volg nadat die twee organisasies hulle tot die hof gewend het om te vra dat die departement van toerisme se besluit om ras as kriterium vir die toekenning van finansiële hulp aan klein, mediumgrootte en mikro-ondernemings (KMMO’s) te gebruik, hersien word. Die departement het die aansoek teengestaan en die saak is Dinsdag deur die hof aangehoor.

Solidariteit redeneer dat swart ekonomiese bemagtiging (SEB) spesifiek ten doel het om die ongelykhede van die verlede reg te stel en dat dit geen plek in die aanwending van noodfondse te midde van die Covid-19-pandemie het nie. Duisende swart werknemers word boonop deur dié beleid benadeel, sê die vakbond.

“Die departement diskrimineer op twee vlakke: eerstens teenoor die wit eienaars van ondernemings en tweedens teenoor alle werknemers, wit én swart. Nood gaan nie by swart werknemers van wit werkgewers verby nie,” voer dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, aan.

Die departement het SEB as verweer in hofstukke gebruik. Volgens die minister van toerisme, Mmamoloko Kubayi-Ngubane, is die departement wetlik verplig om hulpfondse slegs volgens SEB-vereistes beskikbaar te stel.

“Ras speel nie ʼn rol in die pandemie nie en daarom kan SEB ook nie ʼn rol in die aanwending van noodfondse speel nie,” sê Hermann.

Kallie Kriel Dinsdag in die hof. (Foto: Mia Slabbert)

“Volgens die departement se beleid sluit die hulpfonds groot ondernemings en die meeste mikro-ondernemings wat in wit mense se besit is uit. Dit sluit egter ook klein ondernemings wat nie vir belastingdoeleindes geregistreer is nie en waarvan die meeste in swart besit is, uit,” voer Hermann aan.

Slegs maatskappye met ʼn omset van minder as R5 miljoen per jaar en wat vir belastingdoeleindes geregistreer is, kwalifiseer vir hulp. “Gevolglik sluit dit net ʼn klein groepie swart eienaars, wat 7% van die sektor uitmaak, vir die leeueaandeel van die verligtingsfonds in,” sê Hermann.

Volgens Solidariteit is die teenkant hiervan dat 93% van eienaars asook duisende klein informele swart ondernemings van enige hulp uitgesluit word. Twee uit elke drie werknemers in die bedryf is swart, dit wil sê altesaam 350 000 werknemers sal nie by die fonds baat nie.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, glo AfriForum en Solidariteit het ʼn baie sterk saak gestel. “AfriForum voel so sterk oor hierdie saak dat, sou dit nodig wees, ons bereid is om die saak enduit tot in die hoogste hof te beveg.”

Kriel het daarop gewys dat dit oneties is dat die regering graag minderheidsgroepe se belastinggeld invorder, maar dat hulle sonder om te huiwer teen dieselfde groepe diskrimineer wanneer belastingbetalers se geld aangewend word. “Dit is ook skokkend dat die regering selfs in ʼn tyd waar almal in die land saam teen Covid-19 as gemeenskaplike vyand behoort te staan, besluit het om selfs hulpverlening aan sukkelende ondernemings te misbruik om ʼn rasse-agenda te bevorder.”

Op 25 Maart het Solidariteit ʼn klag by die Menseregtekommissie (MRK) ingedien nadat die regering aangedui het dat dit noodfondsgeld op grond van ras sal toeken. ʼn Dringende aansoek is op 30 Maart aan die departement beteken waarna die saak op 28 April in die Noord-Gautengse hooggeregshof saam met ʼn soortgelyke saak van AfriForum aangehoor is.

“Die Covid-19-pandemie tref nie net sekere mense nie. Dit is jammer dat politici ten tye van so ʼn universele krisis hul eie vooroordele nie opsy kan skuif vir die algehele welstand van die land se burgers nie. Die departement van toerisme kies steeds om kleur eerder as nood raak te sien. Talle broodwinners, van wie die meeste swart is, het hul inkomste verloor en nou kan hulle nie by hierdie noodfonds baat nie. Die departement se verligtingsfonds moet beskikbaar wees vir almal wat hulp nodig het, ongeag ras,” het Hermann bygevoeg.

Kubayi-Ngubane het intussen tydens ʼn mediakonferensie Solidariteit en AfriForum by name daarvoor geblameer dat haar departement nog nie ‘n enkele sent aan hulp vir die toerismebedryf tydens die afsonderingsperiode uitbetaal het nie.

Kubayi-Ngubane het aan die media gesê Solidariteit en AfriForum se hofaksie teen die rasgebaseerde bemagtigingstipulasies waarvolgens die departement die geld wil toewys, beteken dat niks van die R200 miljoen in die toerisme-ondersteuningsfonds toegewys kan word totdat die hofsaak afgeloop is nie, en dat geen verdere toewysings van die tesourie onmoontlik is totdat die R200 miljoen bestee is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Ronel ·

Die ANC blameer nog al die jare die blankes vir alles. Baie swart, bruin en blankes is nie ryk en sukkel daagliks om bestaa n te maak. Honderde mense van alle rasse bly in plakkerskampe en kan skaars bord kos beskostig daagliks. Nou nog erger as voorheen. Die regering moet voor hulle eie deur vee. Immers hulle mense wat deel was van staatskaping en nog steeds buite die tronk is en gerieflik lewe.

Stebastiaan ·

Soos gewoonlik is dit die anc se onvermoë om die regte regering aan die dag te lê. Dit is ‘n wonder apartheid word nie weer blameer vir die besluit nie. Hoop die betrokke minister moet die regskoste betaal sou die uitspraak in Solidariteit en Afriforum se guns beslis en die belastingbetaler nie weer moet opdok vir die onregverdigheid nie

Cleopatra69 ·

Weereens omgekeerde apartheid maar die buite land maak geen ophef nie.

PieterP ·

En geen ingryping van Cyril of die parlement nie. Ons weet waar ons staan mense, dit is tyd dat elke groep maar na sy eie omsien en die belasting gelde weerhou tot ons gelyke geleenthede kry.

Pensionaris Sedgefield ·

Ek wonder wat die kans van sukses sal wees as mense en besighede wat deur die regering se inperkingsmaatreels benadeel is, ‘n klas-aksie teen die regering instel vir verliese gelei?

Petrus Johannes ·

ANC gee niks om solank hul net blankes kan inloop.Die president vergeet eending TEN EERSTE MOET HY VERANTWOORDING VOOR GOD DOEN DAN AAN MENS.Of hy God dien of nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.