Swart Maandag-vervolgings ʼn ‘heksejag’

‘n Swart Maandag-optog in die Wes-Kaap. Foto: Twitter

Nie een van die vier mense wat vandeesweek by die polisie moes aanmeld in verband met Swart Maandag-optogte wat landwyd gehou is, is tot dusver formeel aangekla nie.

Drie mense van verskeie dorpe in Limpopo is ná Maandag se betogings versoek om by hulle onderskeie polisiestasies aan te meld op aanklagte van die reël van ʼn onwettige byeenkoms en verkeersontwrigting. Beamptes by die onderskeie polisiestasies het glo opdragte van die polisiebestuur gekry om stappe te doen.

Marcelle Maritz (52) van Mokopane (Potgietersrus), ʼn raadslid en die VF Plus se leier in Limpopo, moes Vrydag by die dorp se speurtak aanmeld. Sy het aan Maroela Media gesê daar is nog nie ʼn datum vasgestel wanneer sy in die dorp se landdroshof moet verskyn nie. “Dit gaan heel waarskynlik volgende week wees. Ek wag om van hulle te hoor,” het sy gesê. Sy is nie in hegtenis geneem nie.

Pieter Wagner (69) van Bela-Bela (Warmbad), ʼn eiendomsagent en lid van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), moes Woensdag by die dorp se polisiestasie aanmeld waar die aanklagte geregistreer en sy vingerafdrukke geneem is. Hy is nie in hegtenis geneem nie en moes Donderdag in die dorp se landdroshof verskyn. “Toe ek gister daar aankom, het die staatsaanklaer gesê ek word verskoon van die saak. Die saak moet eers verder ondersoek word en hulle sal my laat weet as ek vervolg gaan word,” het hy Vrydag aan Maroela Media gesê.

James van den Bergh (53), ʼn sakeman van Polokwane (Pietersburg), moes Dinsdag by die Westenburg-polisiestasie aanmeld waar sy aanklagte geregistreer is. Hy is ook nie in hegtenis geneem nie en moes Vrydag in die dorp se landdroshof verskyn. Die saak teen hom is egter teruggetrek nog voor die hof in sitting was. “Ek is van mening al die optrede is gedoen omdat hulle ons probeer intimideer. Dit was niks anders as ʼn heksejag nie. Die protesaksie was glad nie ʼn rasseding nie. Dit het gegaan oor moord. Almal wat aan die optog deelgeneem het, het dit beskaafd gedoen uit meegevoel vir ons boere,” het hy Vrydag aan Maroela Media gesê.

In die Vrystaat is Isolde Laesecke, ʼn AfriForum-takvoorsitter van Bloemfontein, vandeesweek aangesê om by die polisie aan te meld. “Haar prokureur het Vrydag weer met die speurder gepraat om  ʼn afspraak te probeer maak sodat ʼn klag aanhangig gemaak kan word, maar die speurder kon nog nie ʼn tyd vasstel vir die prosedure nie. In dié stadium wag ons nou maar dat die polisie weer kontak met ons maak,” het Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, gesê.

Maroela Media het vroeër berig drie mans is Maandagoggend op die N1 naby die Botha-afrit in Centurion in hegtenis geneem omdat hulle ʼn hindernis op ʼn nasionale pad veroorsaak het. Die mans was glo deel van die voorpunt van die Swart Maandag-optog wat deur 15 motors begin is. Die mans is na ʼn polisiestasie geneem en later met ʼn boete vrygelaat.

“Die polisie is nou besig met politiekery en hul skending van mense se burgerregte getuig van hul onvermoë om misdaad en veral plaasmoorde hok te slaan. Die polisie probeer die fokus vanaf die slagting van boere in Suid-Afrika met politieke aksies verskuif,” het Cameron gesê.

“Dit is erg genoeg dat polisieminister Fikile Mbalula nuus [oor Swart Maandag] fabriseer en versprei. Dié heksejag bewys juis die verpolitisering van die polisie in die land.”

Hy het gesê genl.maj. JJ Tsotesti het ook in ’n foonoproep vir Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, op Swart Maandag met optrede gedreig. Dié generaal kon egter geensins aandui wat die aanklagte sou wees nie.

“Ons moedig lede van die publiek aan om ons te nader indien daar onregmatig teen hulle opgetree word,” het Cameron gesê.

AfriForum, TLU SA en die Solidariteit Beweging sal weer op 25 November ʼn optog teen plaasmoorde na die Uniegebou in Pretoria hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Loeis ·

Maak seker jou kant is skoon, en stel dan siviele eise in, en voeg teen die betrokkenes in hul persoonlike hoedanigheid as partye.

Erick ·

Kan iemand vir my asb die peron nommer en trein nommer gee om na die Ou Suid-Afrika te vertrek want hier wil ek nie langer ‘duck and dive’.

Cherokee ·

Jy’t by die regte deur om hulp aangeklop, Eric. Nommer is 06/04/1652. Treine is die Drommedaris, Reijger and Goede Hoop (Dromedaris – dromen werkelijkheid maken) ,

Alida ·

Is die spul wat die univetsiteite verbrand en winkels geplunder het al vervolg?

Cherokee ·

Het die DA al ooit ‘n bek gerek oor plaasmoorde? Hulle sprak geen woord!

Penellope Jones ·

Dis net hulle manier om druk uit t e oefen en te wys hoe belangrik hulle is.
Die ANC sal op enige moontlike manier hulle stempel probeer afdruk waar ookal hulle dit wil doen.
Op so manier “hou” hulle emosioneel die “oorhand” (volgens hulle).

Loeis ·

Jy is heeltemaal reg. Dan is daar die EFF wat ‘n daarmee het dat daar protesoptogte / weerstand is teen plaasmoorde.

As mens jou deur hulle laat intimideer is hulle outomaties baas, en jy is klaas. Net so erg as jy jou deur hulle laat uitlok, want dit kan tot meer direkte konflik lei. Enige protesaksies moet wettig gedoen word, en moet die EFF en ANC se opinies met die minagting wat hulle verdien, ignoreer.

Johan. H. ·

Lyk my die was n sukses, maar ek dink ons kan beter… Wanneer is die volgende een vir die boere wat intussen vermoor is?

Ag tog hoe nou? ·

Liewe anc en Mnr Zoema,
Hoekom is dit altyd swart teen wit?
of is dit reg teen verkeerd?
Die rassekaart word gou uitgepluk as sekere politici in n hoek is.
Apartheid lewe en is nog baie gesond na 23 jaar. Praat met enige landsburger van kleur, en hulle is kwaad vir hulle comrades in die huidige regime. Wat gaan aan met die anc? is hulle helde of rampokkers? mense van kleur, op plase en in townships, word daagliks vermoor asof dit reg is. Wat beteken “freedom” en demokrasie? die vryheid om te doen wat jy wil? Die regeering van die huidige bestel moet hulle ore oopmaak en luister na wat reg is, en ophou keer vir hulle eie paaltjies. Die alewige korupsie aanklagte sal nie vanself weggaan nie, Mnr. die president as jy regtig onskuldig is bewys dit, Jy het by die publiek n mandaat gekry om die land te regeer, doen dit tog en los die verlede in die verlede.
Ek se nie wit is altyd reg nie, maar vanwaar ek sit lyk die wit argument net na n beter opsie as dit by moorde, verkragtings, werkloosheid en aantuiging van korupsie en onkwensiteit kom.
Verstaan u wat ek se mnr? ek bedoel niks lelik nie.
Wanneer laas het ek (indien ooit,) n persoon van kleur hoor se “ons vir jou suid Afrika” Dit lyk eerder na, ons vir onself en bogger die res.

Gert ·

Nou wat van eff se plunder tog in pretoria. Niemand is gevang of aangekla nie. Polisie seker te bang

Michael von Mallinckrodt ·

In die jaar 1989 het die mense in die destydse Oosduitsland elke maandag op die straat gegaan en teen die staat en sy trawante gedemonstrier. Dit was elke maandag `n vreedsame optog waar hulle dan in die kerk gaan praat en gebid het. Miskien moet julle dit ook elke maandag in Suidafrika doen.

Groete uit Duitsland

Mike von Mallinckrodt

PJC ·

Ek dink nie mense moet paniekerig word oor hierdie aapstreke nie. Laat die ding maar sy gang en moenie enige vrees wys nie want die eintlike doel hiermee is om mense bang te maak.

CHRISTA ·

Wat van die massiewe vragmotors wat REGOOR die snelweg geparkeer was? Was dit wettig?

Kobus ·

Ons moes al lankal so saam gestaan het as kind was ons altyd buite mense kla oor kinders wat altyd voor tv sit maar watse keuse het hulle? Kan nie soos ons buite speel en na parke toe gaan nie, as jy slaap breek hulle in as jy ry dan vat hulle jou kar as jy op n plaas bly word jy gemartel en dis net die wat gelukig genoeg is om te se ons het dit darm oorleef wat van die wat nie so gelukig was nie? Die optog was vir almal wat so moeg is om die dinge te sien gebeur wens net ons kan dit verder vat sodat ons kinders n lewe buite die sitkamer het

Kobus ·

Ag asb ons volk glo nie in toor/heksejag of iets soort gelyke nie dit is nie ons style nie .Ek is di bly om te sien kns kan saam staan.10/10 vir die blanke afrikaner.Die volgende keer gaan die poppe dans.

John ·

Die EFF is teen Zuma gekant omdat hy glo by korrupsie betrokke is… maw verkeerd doen…. en storm dan deur die strate om hul standpunt te ondersteep. Sou Afrikaners siek en sat wees oor die talle plaasmoorde wat sekerlik ook verkeerde dade is, en optogte hou om hul skok en teenkantig te toon, spring Malema weer op van woede op en af maar dreig hierdie keer die boere met teenaksie. Hoekom is die een geval geregverdig en die ander nie. As die EFF etiek hoog ag moet die moorde mos ook die party se teenkanting kry ~ dubbele standaarde geld dus wat aansluit by Malema se destydse voorstel dat die grondwet gewysig moet word om grondvergrype sonder vergoeding te wettig.

Ne? ·

Interessant dat polisie sit en slaap en te lui is om hul werk te doen wanneer REGTE misdaad plaasvind, maar mense wie VREEDSAAM protes aanteken teen ‘n baie ernstige teer saak word sommer dadelik uitgesnuffel en polisie toe ontbied. Gaan hul volgende keer sulke moeite doen wanneer universiteitstudente eiendom afbreek en brand en mense seermaak?….Ek dink nie so nie!

Phillip ·

Eks daar want dit is ons naasie wat duer loop ek gaan op die 25 Nov. daar wees hou ons op hoogte MM asb

Hendrik ·

Laat my dink aan n steekhaar brak wat n kar jaag…maar nie weet wat om te doen as hy die kar gevang het nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.