Swart ouers ontken rassisme by Curro-skool

'n Skermskoot uit die video.

‘n Skermskoot uit die video.

Twee swart ouers van die private skool Curro Roodeplaat het gesê daar is geen sprake van rassisme by dié skool nie.

Die video wat onlangs op sosiale media versprei is, spruit glo uit ʼn vete tussen ʼn ongelukkige ouer en die skool, berig Marelize Maré van Radio Pretoria. Volgens een van die swart ouers was die voorval nie rassisties van aard nie, maar die kinders is glo op grond van taal geskei. Nog ʼn swart ma het dit beaam.

In die video kan gesien word hoe ʼn groep wit gr. R-leerlinge uit ʼn skoolbussie klim en daarna ‘n kleiner groep van meestal swart en ‘n paar wit kinders.

Panyaza Lesufi, die LUR vir onderwys in Gauteng, het buite die skool se hek gesê hy het ‘n taakspan saamgestel om die video te bekyk en sal op die bevindinge reageer.

Volgens die skool is die leerlinge in twee bussies vervoer, een met 65 sitplekke en die ander met 30 sitplekke. Die drie Engelse klasse is in die 65-sitplekbus vervoer en die twee Afrikaanse klasse is in die kleiner bus vervoer.

Daar is 42 Curro-skole in die land wat onderrig aan 36 000 kinders gee. Altesaam 66% hiervan is swart kinders. Die meeste van die 23 760 swart leerlinge het Engels as onderrigmedium gekies en verreweg die meeste van die 12 240 wit leerlinge is Afrikaans.

AfriForum Jeug het Panyaza Lesufi en ander politici wat die uitstappie as rassisme voorhou, daarvan beskuldig dat hulle onskuldige kinders misbruik om hul eie rasbehepte agenda te voer.

Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug sê Lesufi is daarvoor bekend dat hy valse aanklagte van rassisme stook om op dié manier Afrikaans as onderrigtaal te knel.


Die DA het intussen ‘n versoek aan die Menseregtekommissie gerig om ondersoek by die skool te gaan instel. Die party se skadu LUR vir onderwys, Khume Ramulifho, sê hulle veroordeel aanhoudende rassistiese optrede en sê die Menseregtekommissie moet ten volle ondersoek instel om te bepaal of Curro Roodeplaat aan die nodige vereistes voldoen.

Die Vryheidsfront Plus se woordvoerder, Anton Alberts, sê dis ‘n politieke speletjie. Hy sê Lesufi moet eerder nuwe skole bou eerder as om bestaande skole te tranformeer.

Lees alle vorige berigte oor Curro Roodeplaat op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hannelie ·

Hierdie hele storie….video en al, lyk vir my na iemand wat probeer kwaad stook! Ek kon met my leke oog sien dat niks ongeruimd lyk nie! Ai tog!!!

Elaine Westraadt ·

Hierdie is net nog ‘n bewys van hoe die media manipuleer word om kwaadwillige gerugte te versprei met 1) bronne wat nie betroubaar is nie en 2) inligting wat vertol kan word na gelang van subjektiewe oortuiging.

Hennie ·

Die Da moet besluit asof hulle ook nou by die rasse speletjies wil betrokke raak. As hulle nou ook witteas wil begin aanvat is hulle tyd verby as dit by n my stem kom

scalla ·

En daar word sy naam met n plank geslaan, die bewys is daar.

Peet Schabort ·

Jitte Lesufi, tot ‘n taakspan.
Elkeen met ‘n dikbril en ‘n vergrootglas.
Jy is bestem vir die weermag waar jy dan ‘n taakmag kan saamstel.
Jy is rasbehep a.g.v. politieke dronkheid.
Los die kinders dat hulle normaal kan groot word sonder politieke inmenging.

George ·

Dit is skynbaar al wat die politici kan doen. Dit is naamlik ondersoeke te las en geld te mors. Meeste van die ondersoeke lewer niks op maar as dit kom by dienlewering is dit grafstil. Daar is geen medikasie vir sotlikheid.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.