Swart Sondag op land se paaie

Ongeluk naby Westonaria op 29 November 2015 waartydens minstens 19 mense dood is Foto: ER24

Ongeluk naby Westonaria op 29 November 2015 waartydens minstens 19 mense dood is Foto: ER24

Minstens 23 mense is Sondag in twee afsonderlike ongelukke op die land se paaie dood.

ʼn Man, vrou en twee kleuters is dood en drie ander mense is beseer nadat die voertuig waarin hulle gery het Sondagaand op die N3-snelweg naby Durban gerol het.

Chitra Bodasing, woordvoerder van ER24, het gesê die ongeluk het naby die Shongweni-oprit plaasgevind.

“Met paramedici se aankoms op die toneel was die pasiënte oor die hele toneel versprei,” het Bodasing gesê. “ʼn Vrou was reeds dood. ʼn Man en twee kleuters het kritieke beserings opgedoen. Ondanks alle pogings om hul lewe te red is hulle op die toneel aan hul beserings dood.”

Sy het gesê ʼn kind, sowat 11 jaar oud, en twee vroue het matige beserings opgedoen. Hulle is met ʼn ambulans na ʼn nabygeleë hospitaal geneem.

Robert McKenzie, woordvoerder van die KwaZulu-Natalse nooddienste, het gesê drie voertuie was by die botsing betrokke, maar al die slagoffers en beseerdes het in ʼn sportnutsvoertuig gery. “Daar word vermoed dat die slagoffers familie is,” het hy gesê.

Vroeër die dag is 19 mense dood en vier kritiek beseer in ʼn ongeluk tussen ʼn vragmotor en ʼn taxi op die R28 naby Westonaria in Gauteng. Die bestuurder van die taxi het glo beheer verloor oor die voertuig en die vragmotor en die taxi het mekaar getref. Die taxi het glo ʼn paar keer gerol voor dit aan die brand geslaan het. Mense is uit die voertuig geslinger. Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

lilipit ·

Dit verbaas my glad nie… dit voel elke dag asof padreels meer en meer verontagsaam word. Rooi is klaarblyklik die nuwe oranje soos mense deur hul snel, onwettige u-draaie en soortgelyk is aan die orde van die dag.. en natuurlik die magdom text-terwyl-ons-bestuur (ders)… daar is ‘n totale laksheid – en dit ALLE mense in – nie net taxi’s nie. Ek sidder om te dink my kinders moet oor ‘n paar jaar leer bestuur op hierdie paaie – waar is die sigbare metro-polisie in ons woongebiede en op ons snelwee…

Alle simpatie aan die onskuldige slagoffers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.