‘Swartkoppie’ nou massiewe kankergewas

Bennie de Lange (65) het ’n massiewe kankergewas op sy gesig. (Foto: Verskaf)

*Waarskuwing: Die foto’s in hierdie berig kan sensitiewe lesers ontstel.

Toe Bennie de Lange (65) sowat ’n jaar gelede aan ’n lastige swartkoppuisie op sy linkerwang begin karring het, het hy nooit verwag dat dit in ’n reusekankergewas sou ontaard wat reeds die helfte van sy gesig oorgeneem het nie.

Dié gewas het oor die afgelope maand drasties gegroei en oënskynlik reeds ’n gedeelte van De Lange se oor weggevreet en aan sy kakebeen geheg. Van die weefsel op sy vel het reeds doodgegaan. ʼn Dokter het ook reeds bevestig dat dit kwaadaardig is.

Bennie de Lange (65) het ’n massiewe kankergewas op sy gesig. (Foto: Verskaf)

Sy dogter, Michelle (36), sê haar pa verduur tans erge pyn en dat hy as gevolg daarvan nie meer kan werk nie.

De Lange woon saam met sy vrou Elize (56), dogters Maryna (26) en Michelle, en Michelle se twee kinders, Anushka (17) en Andrew (17), in ’n losieshuis in Kookrus in Gauteng.

Die gesin leef hoofsaaklik van die geld wat De Lange elke maand by die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) ontvang.

Hulle gebruik baie van dié geld vir De Lange se mediese onkoste, waaronder skoonmaakmiddels om die wond te behandel.

“Dit stink verskriklik en is moeilik en pynlik om skoon te maak,” sê Michelle.

Die gewas was onlangs nog so groot soos ’n R5-stuk, maar het nou al oor die helfte van sy gesig versprei. (Foto: Verskaf)

“Hy kan in dié stadium ook glad nie vaste kos eet nie. My ma maak slap pap wat ons deur ’n strooitjie vir hom voer.”

Michelle sê haar pa was verlede week by die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Soweto, maar dat daar weens die Covid-19-pandemie glo nie genoeg beddens is om De Lange nou op te neem en te opereer nie.

Hulle kon egter daarin slaag om hom intussen na ’n dokter in Meyerton te neem wat aan De Lange pynmedikasie voorgeskryf het om tydelike verligting te bring.

“Sy toestand het oor die afgelope maand drasties versleg. Die gewas was onlangs nog so groot soos ’n R5-stuk, maar het nou al oor die helfte van sy gesig versprei.”

Michelle sê haar pa “huil soms soos ’n baba” van al die pyn, maar is oor die algemeen baie dapper.

“Hy probeer sterk wees.”

Sy sê dis moeilik om te glo dat dié gewas aanvanklik soos ’n onskuldige swartkoppuisie gelyk het.

“Hy het destyds daaraan gedruk en gepeuter, maar dit het nooit regtig ’n punt gemaak nie. Daar het wel soms vuilgoed uitgekom.

“Dit het later ’n knop begin maak – soos ’n albaster wat onder die vel vassit. Steeds het dit nie ’n geel punt gemaak nie. Nou is dit buite beheer.”

Dit is nie duidelik wanneer en of De Lange ’n operasie sal ondergaan nie, aangesien die gesin maar “skrikkerig” vir staatshospitale is omdat hulle al voorheen teleurstellings ervaar het.

Hulle is ook bekommerd oor De Lange se algehele gesondheid wat volgens Michelle “baie swak” is.

Die gesin kan nie private mediese behandeling bekostig nie en is desperaat om vir De Lange die regte mediese hulp te kry. Intussen sukkel hulle ook om in hulle gesin se basiese behoeftes te voorsien, waaronder kos en klere.

“Ek het hierdie week na verskeie plekke in Meyerton gestap om my CV in te handig, maar nog niks gehoor nie. Ek besef dis nou nóg moeiliker om werk te kry as gevolg van Covid-19.”

Indien iemand ʼn bydrae wil maak om die gesin te ondersteun of De Lange se mediese kostes te help dek, kan Michelle by 062 065 0809 gekontak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Hennie ·

Maar hulle is dan “skrikkerig” vir hospitale…. Moes lankal hulp gekry het

Piet Snot ·

Skrikkerig vir Staatshospitale.
As jy nie daarvoor skrikkerig is nie, is jy oningelig of baie dapper.

Tanniepetoors ·

Hoeveel staats/provinsiale hospitale is daar in die Meyerton omgewing waar hierdie man hulp kan kry?

Anel ·

So mense wat ander siektes het waarvan jy kan doodgaan is nie ernstig genoeg om opgeneem en behandel te word nie. Solank jy net nie die vervloekte pes het nie. Dit moet nou voorkeur kry. Dis siek man!!!! Sterkte aan nie mense.

Natasha ·

Baie staats hospitale gee briljante diens, ek dink nie dit kan as verskoning gebruik word nie.

Vat hom hospitaal toe eerder as om te wag om derduisende rande te probeer bedel.

melW ·

Daar is ń fonds – soos “givealittle”- waar mense geld kan bydra en nie direk aan die familie. Daardie fonds se inkomste word dan direk betaal aan die mediese behandeling. Vir eers moet die man by ń hospitaal uitkom, Vereeniging Hospitaal is die beste in daardie omgewing. Die familie moet nou inspring, kanker word net erger.

Frikkels ·

Na die hel met die pandemie! Hierdie is doodsake. Die staats hospitale kan net sowel toemaak. Hulle het geen begrip vir menslike lyding nie. Of kan mens maar weer ñ politieke windjie hier sien waai?????

ChrisR ·

Ek het begin werk op 17……glo as die ma….die twee dogters en twee klein kinders elk n werk kry…….sal dit baie goed gaan met hulle…….ons almal sit maar met probleme……maar werk is daar.

Linx ·

Wou ek ook se,almal is no ewe skrikkerig vir die staatshospitaal ,maar glad nie skrikkerig om op die arme ouman se staats pensioen te lewe nie,as jy nie mediese fonds het nie,moet j staatshospitaal toe,punt klaar,skrikkerig of nie,kry julle pa by n hospitaal,dit baat nie jy loop nou met n cv op 36 jaar oud nie,jy moes al jare gewerk het,ds covid die mense wat werke het weet nie eens of hulle werk nog heti

Africangrey ·

Iemand sal moet help, die man sal Sepsis op doen en dood gaan!!!!

Elisabeth ·

Ongelukkig by van die staat hospitale as oumense soontoe gaan dan woord hulle woordeliks mishandel “Jy is te oud jy gaan nie die operasie maak nie”.
of
“Covid-19” ons neem nie nou mense in nie.

Nonsense daar moet een hospitaal oop gehou word (Covid-19 vry) vir hierdie ander mediese gevalle.

Hierdie man het pyn en hy lei. Toe jy jou eed afgelê het was dit omdat jy mense wil genees of was dit omdat jy dink jy gaan politieke mag verwerf?

Skokkend .

Mnr. ek hoop harte gaan oop as God ‘n roeping op Dr plaas.

melW ·

Dit is hartverskeurend dat hierdie man so ly. Mediese voordele is nie meer bekostigbaar vir so baie mense nie. Hospitale is oorvol met Covid terwyl intensiewe gevalle soos Bennie skaars kan funksioneer. Daar moet iets gedoen word, die man kan nie so ly nie, dis onmenslik!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.