Swartland-plaasmoord: Meer hulpbronne bepleit

Foto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Landelike gemeenskappe landwyd is onder beleg weens gruwelike geweld, maar die minister van polisie, Bheki Cele, het steeds nie die landelike veiligheidsplan behoorlik in werking gestel nie.

Dit volgens die DA wat sê daar is ʼn groter behoefte aan hulpbronne om plaasaanvalle en -moorde te bekamp, sowel as die talle ander misdade wat boerdery bemoeilik.

In die jongste voorval is Ingrid Koch (65) in ʼn plaasaanval in die omgewing van Moorreesburg in die Wes-Kaap dood, terwyl haar man, Frans (69), ernstig beseer is. Die polisie is Dinsdag na die toneel ontbied waar hulle die Koch-egpaar met steekwonde aan hul liggame aangetref het.

Ingrid is op die plaas dood verklaar en Frans is na ʼn hospitaal gehaas.

ʼn 34-jarige man is reeds in verband met die voorval aangekeer.

Die aanval het opnuut skokgolwe deur die land gestuur en is uit verskeie kringe ten sterkste veroordeel.

Andricus van der Westhuizen, die DA se Wes-Kaapse woordvoerder oor landbou, het ʼn beroep op die polisie gedoen om ʼn deeglike ondersoek te doen en gevra dat die saak spoedig en effektief hanteer sal word.

Van der Westhuizen sal met die departement van gemeenskapsveiligheid skakel oor die stappe wat gedoen word om meer hulpbronne beskikbaar te stel en die polisie te help om landelike veiligheid te verbeter.

“Ons gaan vrae aan die minister van landbou stel om ʼn beter begrip te kry van die omvang van veiligheidskommer en aanvalle op die boerderygemeenskap – boere en plaaswerkers – en hoe dit ons landelike gebiede raak,” sê hy.

Ook dr. Corné Mulder, die VF Plus se leier in die Wes-Kaap, het sy skok oor die aanval te kenne gegee.

“Die jongste plaasaanval en -moord is ʼn duidelike bewys dat dié soort misdaad tot prioriteitsmisdaad verklaar moet word,” sê Mulder.

Hy stem ook saam met Agri Wes-Kaap “dat een plaasmoord een te veel is”.

“Die VF Plus sal aanhou veg vir ʼn noodsaaklike, spesiale landelike beveiligingseenheid wat hom toespits op die voorkoming van plaasaanvalle en wat in samewerking met boere en ander veiligheidsforums hierdie soort misdaad bekamp,” sê Mulder.

Die VF Plus en die DA het albei hul diepe medelye met die Koch-familie betuig en Frans ʼn spoedige herstel toegewens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

gatgogga ·

Hoekom vra die DA nie vir die drie hoofstroom TV nuuskanale, hoekom hulle saamspan en nooit rapporteer wanneer plassaanvalle en -moorde gebeur nie?

Manie ·

Want die staat is die media en die media is die staat, alles wat hulle nie pas nie, word gemuilband.

Marius ·

Moenie jul asem ophou nie. Die patetiese regering gaan niks daaraan doen nie.

Blikkies ·

Weet iemand dalk, of mag hulle ons sê van waar af is die aanvallers? As hulle nie vorige werknemers was met griewe nie, is hulle plaaslik of immigrante? Hoe of wie kies daardie teiken spesifiek/ Ek kan nie dink dat dit net toevallige aanvalle is nie. Iets baie groter sit agter hierdie plaas moorde, en Bheki Cele en sy trawante weet.

Hayntjie ·

Die plaaswerkers het die moordenaar aangekeer en aan die SAPS oorhandig in Moorreesburg. Hy het vandag in die hof verskyn.

Hennie Biebouw ·

Wat weet ons van die 34-jarige man wat in verband met die moord aangekeer is? Was hy bekend aan die familie?

casper ·

Elke dag word nog ‘n blanke persoon uitgemoor in die land deur ANC goed gekeurde magte !!!
Sien dit wat hier aangaan met oop ogens !!

Jean ·

En elkedag word daar swart mense ook vermoor, SA se misdaad is ‘n groot probleem.

Casper ·

Ek glo nie plaasmoorde pla Cele te veel nie veral nie as jou vel wit is nie.Inteendeel ek dink dit is hoe die hele regering voel asook die manne met die rooi oorpakke.Ek verstout my om te sê dit sluit Ramaphosa in.

JM ·

ANC te stiksienig om te besef; ‘n plaasmoord = “cut your nose to spite your own face.” Ekskuus, het vergeet dat Rusland ons mos van kos sal voorsien. Sien uit na die dag dat ons van hierdie siek spul verlos sal wees.

Hayntjie ·

Die plaas se werknemers het self die moordenaar aangekeer en aan die SAPS oorhandig. Behoort die media nie lof aan hulle te bring nie. Dan sal dit ook ander werknemers bemagtig om hulle werknemers, kollegas en werksomgewing te beskerm. So sal dit vir oortreders moeiliker wees om hulle eie kop te volg.

Mariana ·

Hoekom sleep Cele steeds voete met die landelike veiligheidsplan? Hoekom moet nog boere sterf omdat daar geen beskerming vir hulle gebied word nie? Die man se prioriteite sluit beslis nie boere en hul families in nie. Hy is te besig om belangrik te probeer lyk. Pateties. Innige simpatie met Mnr. Koch en sy familie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.