Swartwater-boer het gelewe vir sy plaas

riette botha

Riëtte, haar pa, Louis-John Botha, en Rosa Fourie, tydens Riëtte se troue op 13 Desember. Foto: Verskaf

Dr. Louis-John Botha, die boer (64) van Swartwater in Limpopo wie se liggaam Maandag in ʼn waterkuil naby sy plaashuis gevind is, het 15 jaar gelede sy stetoskoop opgehang om heeltyds met wild te boer.

“Hy het gelewe vir sy plaas,” het Botha se dogter, Riëtte (32), Dinsdag aan Maroela Media gesê. “Hy het in die Swartwater-omgewing op ʼn plaas grootgeword, waarna hy as mediese dokter op Coligny en Swartwater gepraktiseer het. Hy het in 1982 met my geboorte die plaas Gwelo Safaris naby Swartwater gekoop en in 2000, met sy aftrede,  heeltyds met wild begin boer. Sy swartwitpense was sy passie.”

Maroela Media het Maandag berig Botha was die naweek alleen op sy plaas. Sy vriendin, Rosa Fourie (56), wat saam met hom op die plaas woon, was die naweek in Pretoria. Sy en Botha se ma, Eva (85), wat ook op ʼn plaas in die omgewing woon, en vriende by wie hy Saterdag sou gaan kuier het, het bekommerd geraak nadat hulle hom Saterdag nie in die hande kon kry nie.

Hulle het Sondag nog niks van hom gehoor nie, en dus Botha se bure gebel en gevra om te gaan ondersoek instel. Toe die buurman Sondag by Botha se huis opgedaag het, het die huis oopgestaan. Daar was geen teken van Botha nie. Die kluis het oopgestaan en daar was bloed in die huis.

ʼn Soektog na Botha is van stapel gestuur en sy liggaam is vroeg Maandagoggend in ʼn waterkuil, sowat 200 m ver van sy huis af, opgespoor.

Riëtte het aan Maroela Media gesê haar pa is vermoedelik Saterdag deur drie of vier mans, wat na bewering die plaas geken het, in sy huis ingewag. Hy is in die huis met ʼn graaf of stok aangerand en daar was baie bloed. Die moontlikheid word ondersoek of hy gevlug het tot by die plek waar hy gesterf het, en of sy liggaam daar gestort is.

Die kluis in die huis het oopgestaan. Daar was aanvanklik vermoed dat geld en vuurwapens uit die kluis gesteel is. Riëtte het egter gesê die vuurwapens was op ʼn ander plek weggesteek en sy is nie seker of enigiets tydens die aanval gebuit is nie.

Kol. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê die polisie ondersoek ʼn saak van moord. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Riëtte het gesê haar pa was ʼn goeie mens wat hard gewerk het en glad nie spandabelrig was nie. “As ons uit Pretoria oor naweke vir hom op die plaas gaan kuier het, sou ons lekker saam ʼn vleisie braai. Hy het gereeld by my ouma gaan kuier. Hy het Saterdag nog sowat ʼn uur met haar oor die foon gepraat. Buiten sy liefde vir die plaas en wild was hy ook baie lief vir sy hondjie Whiskey.”

Botha laat Riëtte, en nog ʼn dogter wat in Australië woon, Melanie Sloane (40), agter. Sy 36-jarige seun, Louis-John jr., is verlede jaar op 22 April in ʼn vliegtuigongeluk dood.

Maroela Media het destyds berig Louis-John jr. en sy verloofde, Geogina Joubert, was alleen in die ligte vliegtuig toe dit naby Niekerkshoop, tussen Prieska en Griekwastad in die Noord-Kaap, op ʼn plaas neergestort het. Hulle was met ʼn Pipper 46 (Malibu)-vliegtuig van Kaapstad Internasionale Lughawe onderweg na Swartwater toe die ongeluk plaasgevind het. Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

HD ·

Boere moet maar hulle wapens aan hulle lyf hou, dis die resultaat van ontwapening. Ons sal die Zimbabwe styl moet volg. Selfs ons mense in die stede. Ek is jammer maar dit moet seker maar nou gaan “oog vir ‘n oog en tand vir ‘n tand” Draai van die ander wang sluit beslis nie in koelbloedige moord en verminking van onskuldige mense in nie.

anet ·

Begin sommer by die werkers op die plaas. Wie het geweet dat hy alleen op die plaas gaan wees?, iewers is ‘n informant, en die storie dat die “goeie ou plaasvolk so opreg en betroubaar is” vergeet daarvan, dit is nie meer so nie. Daardie selfde monde wat jy daagliks voed, is die monde wat jou uitverkoop aan die vyande

ladybug ·

En niks is gebuit nie? Nog ‘n lewe onnodiglik geneem!

Dit sal ophou as ons self die boere begin bystaan met ‘n Plaaswag want ten spyte van hoe dierbaar hulle is, is hulle maar net te gemaklik en on-paraat.
As ek dié tipe goed lees dan weet ek dat dit verhoed kon geword het as daar mense wat eers die perseel beveilig het voordat hy ingegaan het by sy huis of selfs die werf betree het.

Ekke ·

Ja, ons boere moet op hulle plase begin rondstap met bodyguards. Hoe belaglik. Dis ook die sekuriteits mense wat inligting verskaf, wat soms saam in die ding is. Wat dalk dinge nog makliker kan maak omdat hulle inside info het. En as dit wit sekuriteits mense is, is hulle in net soveel gevaar as die boer.

Daar is baie plaasmoorde, maar daar is net so baie inbrake en aanvalle in dorpsgebiede. Statistieke waarvan ons nooit alles sal hoor nie. ‘n Mens kan nie van ‘n boer verwag om nooit uit te gaan nie. Hoe tref hulle voorsorg maatreels? Hulle werk is buite in die veld. Dis so goed jy sy vir ‘n ander om nie buite in sy erf te braai en kuier nie. (helder oor dag of in die aand) Punt is, ons is in ‘n penarie. En al hoe ons onsself kan beskerm is deur te bid en te bid en te bid.

Karen ·

Ek het groot geword op Coligny en Dr Louis-John was ons dokter. Hy was ‘n uitstekkende dokter en ‘n stunning mens. Dis so tragies, sterkte aan die familie in hierdie moeilike tyd.

knersus D ·

My LM5 is soos my koele – waar ek gaan, gaan hy saam. Probleem is egter dat dit soms die mense wat jy vertrou is wat met die graaf slaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.