Sweeftuig-ongeluk: ‘Jy wil nie glo dis waar nie’

Elmien en William Scott. Foto: Facebook

Elmien en William Scott. Foto: Facebook

ʼn Rukwind was moontlik die oorsaak van die sweeftuigongeluk waarin die geliefde Potchefstroom-inwoner, William Scott, Sondag oorlede is.

Elmien, William se vrou, het aan Maroela Media gesê niemand het gesien hoe William se sweeftuig neergestort het nie. “Die sweeftuig het by die militêre basis langs die vliegveld neergestort en niemand het gesien wat gebeur nie. Ons vermoed dat die sweeftuig ʼn ‘tail-spin’ gedoen het, wat deur ʼn onverwagse rukwind veroorsaak word,” het sy gesê. “Dit het waarskynlik net veroorsaak dat iets nie gewerk het soos hy beplan het nie en die sweeftuig het met sy neus na onder geval.”

Sy het gesê William was ʼn ervare sweeftuigvlieënier wat al dekades lank die sport beoefen het. Hy was nog nooit voorheen in ʼn ongeluk of beseer deur ʼn sweeftuig nie. “Ek het altyd gespot en gesê sweeftuigvlieg is eintlik sy eerste liefde, want ons ken mekaar al 31 jaar en hy het dit gedoen nog voordat ons ontmoet het.”

William, ʼn verkoopsbestuurder by Daly Land Rover in die dorp, was ook ʼn lid van die Akavlieg Potchefstroom-sweeftuigklub. Die egpaar het ʼn 25-jarige seun, Grant.

Die ongelukstoneel. Foto: ER24

Die ongelukstoneel. Foto: ER24

Volgens Elmien was William mal oor die buitelewe en het hy graag voëlberinging gedoen. Hy was ook ʼn ywerige tuinier en het graag op staptoere gegaan. “Bo alles sal hy onthou word vir die goedhartige mens wat hy was,” het sy gesê. “Almal wat boodskappe gestuur het na die ongeluk, het gesê hoe hulle sy goedhartigheid sal onthou. Hy was ʼn eerlike en opregte mens.”

Elmarie het gesê sy het nie regtig woorde om die skok en hartseer van haar man se dood te beskryf nie. “Dit is die verskriklikste oomblik as iemand jou bel om te sê iemand is dood. Jy wil dit amper nie glo nie. Jy wil glo dit is nie waar nie. Selfs toe ek Sondagaand in die bed lê, het ek net heeltyd gewag om die bos sleutels by die hek te hoor.”

ʼn Gedenkdiens sal Vrydag vir William in die Metodiste kerk in Potchefstroom gehou word. Hy sal privaat veras word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Winston ·

Sterkte aan die naasbestaandes. Hy het ten minste sy passie beoefen toe hy weg is.

Hannelie ·

Baie baie sterkte aan die naasbestaandes mag Jesus jul vertroos in hierdie hartseer tyd.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.