Swemmer in Valsbaai vermis

(Argieffoto)

ʼn Man wat Sondag vermis geraak het toe hy by Valsbaai in Kaapstad gaan swem het, is nog nie gevind nie. Sy minderjarige dogter is nou in die polisie se sorg.

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI)-span van Strandfontein is omstreeks 12:14 deur lewensredders by die Monwabisi-strand in kennis gestel van ’n man van Strandfontein wat in die see geswem het en toe tussen die branders vermis geraak het.

Vaughn Seconds, bevelvoerder van die NSRI, sê lewensredders het ʼn soektog van stapel gestuur om die vermiste man op te spoor. Die NSRI-span van Strandfontein het ʼn reddingsvoertuig in die see ingestuur om die man te soek.

Verskeie noodhulpdienste, insluitend Skymed se reddingshelikopter, die Wes-Kaapse noodhulpdiens EMS, die Kaapstadse brandweer- en reddingsdienste en die NSRI se reddingswemmers het help soek na die vermiste man. Geen teken van die man is egter tot dusver gevind nie.

Die vermiste man se dogter, wat vermoedelik agt jaar oud is, is intussen in hul voertuig in die parkeerarea by die strand gevind. Sy is onder die polisie se sorg geneem.

Die polisie se duikeenheid gaan voort met die soektog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.