Swemmer verdwyn tydens Midmarmyl

Tristan Dennis Foto: Facebook

Tristan Dennis Foto: Facebook

Tristan Dennis (30) het Saterdag op die eerste dag van die Midmarmyl verdwyn.

Dennis, van Durban, het aan sy maatskappy se aflosresies deelgeneem en om 11:22 in die water ingegaan. Daar is egter nie enige teken dat hy weer uit die water gekom het nie.

Sy bekommerde vriende wat saam met hom geswem het, het die organiseerders in kennis gestel nadat hulle vir langer as ʼn uur gewag het vir hom om uit die water te kom.

“Die protokol wanneer iemand verdwyn is dadelik ingestel en al die mediese fasiliteite is deursoek en daar is bevestig dat lewensredders hom ook nie uit die water gehaal het nie,” het die organiseerders in ʼn verklaring gesê.

Dit is die eerste keer vanjaar wat ʼn nuwe teikenstelsel gebruik word wat bepaal wanneer swemmers by die eindstreep die water verlaat of wanneer veiligheidsbeamptes hulle uit die water haal.

Dennis se gesin is in kennis gestel en hulle het na Midmar gehaas om naby die soektog te wees. Die polisie se soek- en reddingspan, onder leiding van lt. Jack Haskins, het Saterdag omstreeks 18:00 die soektog oorgeneem, maar die soektog is omstreeks 19:40 opgeskort weens die donker. Die soektog het Sondagoggend met eerste lig hervat.

Intussen het Tarquin Dennis, Tristan se ouer broer, daarop aangedring om Sondag die wedstryd namens sy broer klaar te maak. Sy vriende, Craig Swinburne en Shane Beattie, sal hom ondersteun. “Ek doen dit want hy is my broer,” het Tarquin gesê. “As hy in ʼn geveg was, sou ek hom gehelp het. Dit is nie goed genoeg om tot volgende jaar te wat nie, ek moet hom nou ondersteun.”

Byna 13 000 swemmers het vanjaar vir die kompetisie ingeskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Drieks ·

JammerTristan Dennis kon nie klaar maak nie.
Baie mooi gebaar van sy broer Tarquin om verder te swem. Voorspoed vir jul familie…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.