Swemmers, strandgangers oor springgety gewaarsku

Foto ter illustrasie: Pixabay

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het die publiek Vrydag gewaarsku teen springgety wat van vandag af langs die kus sal voorkom en Saterdag sy piek sal bereik.

Springgety veroorsaak dat hooggety hoër as gewoonlik en laaggety laer as gewoonlik is. Craig Lambinon, woordvoerder van die NSRI, sê die springgety sal Saterdag om 15:00 sy piek bereik en dan weer tot 26 Desember begin afplat.

“Hengelaars langs die kus, swemmers, mense wat op die strand stap en bergklimmers langs die kus word gewaarsku om versigtig te wees, veral tydens hooggety in die middae. Die springgety wat elke middag in die komende week sal hooggety bring, dui daarop dat die strand baie min plek vir strandgangers sal hê soos die gety styg,” sê Lambinon.

“Rotshengelaars moet daarvan bewus wees daar is plekke vanwaar hulle die afgelope week visgevang het wat volgende week onder water sal wees. Bergstappers moet ook kennis neem dat hul beplande roete dalk nie toeganklik sal wees tydens hooggety nie.”

Lambinon het verder ʼn beroep op ouers gedoen om te verseker dat hul kinders ten alle tye onder ʼn volwassene se wakende oog is op die strand en in of naby enige water. Hy sê die publiek word aangemoedig om eerder net by strande te swem waar en wanneer lewensredders aan diens is en binne die afgebakende swemgebied te bly om te verhoed dat iemand deur ʼn seestroom meegesleur word.

“Moenie in die water ingaan om iemand te help wat in die moeilikheid beland nie, maar gooi eerder vir hulle ʼn dryfbare voorwerp, soos ʼn reddingsboei, en roep dadelik om hulp.”

Skakel 112 van enige selfoon af om ʼn seeverwante noodgeval aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Daan Erasmus ·

Waarsku die mense teen bloublasies. Dit is ‘n baie groot gevaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.