Swemongeluk: Verlamde tiener vasbeslote om weer te loop

PG Swart tydens rehabilitasie na die ongeluk (Foto: Verskaf)

ʼn Ongeluk wat ʼn tienerseun amper heeltemal verlam gelaat het, laat dié 16-jarige van Hartbeespoort in Noordwes nie in sak en as sit nie.

Hy het dalk nie meer gevoel in groot dele van sy lyf nie, maar hy is vasberade om normaal aan te gaan soos voor die swemongeluk. Hy glo ook dat hy weer sal kan loop.

Só vertel Steani Swart (23) ná ʼn ongeluk in Desembermaand toe haar broer van ʼn seilboot af in die see geduik en sy nek gebreek het. PG Swart is ná drie maande in die hospitaal en rehabilitasiesentrum by die huis en is meer positief as ooit tevore.

PG het presies drie maande gelede saam met sy familie en beste vriend in Langebaan in die Wes-Kaap gaan vakansie hou. Op 14 Desember het hulle vir die dag op ʼn seilboot die see ingevaar.

“Dit was ʼn heerlike sonnige dag en ons almal het besluit om in die see te swem. PG het een keer van die boot in die see geduik en weer opgekom. Met die tweede duikslag het hy nie weer opgekom nie. Hy het net op die water gedryf. Ons het nie verstaan wat aangaan nie, en aanvanklik gedink hy maak net ʼn grap. Toe hy begin sink, het ons geweet dit is nie ʼn grap nie,” het Steani aan Maroela Media vertel.

PG saam met sy sussies voor die ongeluk (Foto: Verskaf)

PG se stiefsuster en beste vriend het blitsig in die water geduik om hom te red. Hy het vermoedelik sy nek gebreek toe hy ʼn sandbank onder die water getref het.

Die familie het dadelik die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) laat kom. Hulle het PG gestabiliseer en hom binne ʼn kwessie van ʼn uur per helikopter na die Christiaan Barnard-hospitaal in Kaapstad geneem.

Die dokters het met ʼn MRI-skandering vasgestel PG se nek is gebreek. Hy het ook skade aan sy een rugwerwel opgedoen en is van die nek af ondertoe verlam.

Steani sê PG was vir vier dae in die Christiaan Barnard-hospitaal waarna hy na die Vincent Pallotti-rehabilitasiesentrum in Kaapstad oorgeplaas is. Hy was omtrent drie maande in die sentrum vir rehabilitasie en herstel tans by die huis.

PG Swart na die ongeluk (Foto: Verskaf)

“Met gebed en geloof het PG se arms weer ʼn klein bietjie gevoel teruggekry. Hy kan net nog nie sy hande gebruik nie en sit steeds in ʼn rolstoel,” vertel Steani.

Steani sê haar bababoetie het volstrek geweier om ʼn elektriese rolstoel te kry, omdat hy glo dit is net ʼn kwessie van tyd voor hy weer kan loop.

Ten spyte van alles wil PG steeds rugby, ʼn sport waarin hy uitgeblink het, beoefen. Hy beoog om deel te word van ʼn rugbyspan vir verlamdes. “Dit is so wonderlik om te sien hoe positief hy oor als is. Ek bewonder sy vasberadenheid om weer skool toe te gaan en aan te hou met dinge wat hy voorheen gedoen het.”

Steani sê alhoewel die afgelope drie maande ʼn baie moeilike tyd vir hulle as gesin was, het dit hulle nader aanmekaar en aan God gebring. “Ons is so dankbaar om te sien hoe ons in hierdie tyd ongelooflike emosionele en finansiële ondersteuning van mense van oral oor gekry het.”

PG se familie is besig om vir hom ʼn BackaBuddy-fondsinsameling te skep om sodoende sy mediese koste, wat tans ʼn swaar las vir die familie is, te dek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

antieke antie ·

ek is so baie bly dat hy die nodige aandag en help kry…. ek is na my werksbesering op my eie gelaat na die operasies….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.