Swendelaar se turf sit

(Foto: pixabay)

ʼn Man van Jeffreysbaai is op meer as 150 aanklagte skuldig bevind en vyftien jaar tronk toe gestuur nadat hy niksvermoedende beleggers uit meer as R23 miljoen geswendel het.

David Wilmot (47) het in die handelshof op Port Elizabeth onder meer skuldig gepleit op 153 aanklagte van bedrog, ʼn oortreding van die Wet op Valutabeheer, asook geldwassery.

Luxolo Tyali, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het gesê Wilmot het ʼn piramideskema bedryf en die slagoffers wysgemaak dat hy hul geld in buitelandse markte gaan belê. Wilmot het voorgegee dat hy uiters suksesvol is en reeds groot winste vir ander beleggers wat van sy dienste gebruik gemaak het, verseker het.

“Tussen 27 Januarie 2010 en 16 Junie 2015 het die bedrieër minstens vier bankrekeninge gebruik wat aan hom, sy maatskappy en familielede behoort. Geld is daarin betaal vir handel in buitelandse geldeenhede. Slegs R2,4 miljoen van die R23,2 miljoen wat hy by beleggers gekry het, is na oorsese valutahandelrekeninge oorgeplaas,” het Tyali gesê.

“Die R20,8 miljoen wat nié oorgeplaas is nie, is gebruik om betalings aan ander beleggers te doen en Wilmot se buitensporige lewenskoste te finansier.”

Wilmot het in dié tyd sy beleggers deurlopend gerus gestel dat hul beleggings in veilige hande is en in waarde vermeerder. Hy het selfs fiktiewe dokumente as bewyse aan hulle voorgelê “tot hy nie meer die leuens kon volhou nie”.

Chris Arnold, ʼn plaaslike prokureur, het ter strafverswaring getuig oor Wilmot se leuens tydens ʼn insolvensieverhoor, dat daar glo miljoene dollars in oorsese rekeninge is. Die likwidateurs kon egter nie enige van die geld, wat aan beleggers behoort, opspoor nie.

Nicky Martin, nog ʼn belegger wat R1 miljoen verloor het, het getuig dat sy in Australië gewoon het saam met haar kind wat Aspergersindroom het. Die kind kon nie spesialis-skoolopleiding in Australië kry nie en hulle het na Suid-Afrika teruggekeer.

“Hulle het die opbrengs uit die verkoop van hul huis en pensioengeld in die skema belê. Sy het alles verloor,” het Tyali gesê.

Cherise Milne het getuig dat sy en haar man gesamentlik meer as R2,5 miljoen deur Wilmot se skema verloor het. Haar man moes op ʼn olieboorplatform in die buiteland gaan werk in ʼn poging om van die finansiële verlies te herstel. Hy het die afgelope vier jaar weg van die huis gewerk en Wilmot se optrede het hulle van hul gesinslewe beroof, het Milne getuig.

Streeklanddros JJ Claassen het Wilmot 15 jaar tronkstraf opgelê en bevind daar is geen wesenlike of dwingende omstandighede om van dié minimum vonnis af te wyk nie.

“Die NVG verwelkom die vonnis en die slagoffers het hul tevredenheid uitgespreek met die lang tronkstraf wat die hof opgelê het,” het Tyali gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Oop Oge ·

en hierdie Swendelaars laaik om Liewe Jesus se Naam ydelik te gebruik vir hulle selfsug en gierigheid.
Daar loop nog van hulle rond buite.
Daardie selfde Liewe Jesus wag vir hulle…

Coco ·

Wil mense nie leer dat leuens jou gaan inhaal nie nou het hy lank tyd om te dink

Verstom ·

Wat! 15 jaar vir 23 miljoen? En wat van die lewens wat hy verwoes het? Nee magtig dit heeltemaal te min

MH ·

Mense wat geld verloor in sulke riskante beleggings het net hulle eie geldgierigheid en/of onnoselheid te blameer.

Marinda ·

Ek kan nie glo mense val nog vir die “dis te goed om waar te wees stories” nie.

Geswoeg ·

As jy min geld het, dink jy wat jy doen en jy glo nie als wat adviseurs jou vertel nie. Dalk het party mense te maklik te veel geld gekry , maar dis nooit genoeg nie.

wilma ·

Ai tog. Dis pure gierigheid dat mense geld verloor. Gn simpatie met jul. Dankbaar die krimineel gan sy straf kry ini tronk.

SjN ·

Hoe hoër die opbrengs, hoe groter die risiko, geldgierigheid, laat dit n les wees.

jakes ·

Beskuldige sal na 7 jaar weer vry wees en indien hy van die geld iewers gebere het sal hy lekker kan leef as hy uitkom. Party mense is baie liggelowig en onnosel verby om sulke beleggings te doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.